DKD-werkers weier om in ‘onveilige‘ gebou te werk

Popcru-lede het Maandagoggend buite die DKD-hoofkantoor in W.F. Nkomostraat betoog. Foto: Facebook

Popcru het Maandagoggend in Pretoria se middestad begin betoog nadat die departement van korrektiewe dienste (DKD) amptenare met ontslag gedreig het omdat hulle weier om in die departement se hoofkantoorgebou te werk.

Richard Mamabolo, woordvoerder van die vakbond, sê die werkers se weiering spruit uit die feit dat die gebou net ʼn week nadat Tshwane se burgemeester, Solly Msimanga, die gebou om veiligheidsredes laat sluit het, weer deur die DKD oopgestel is. Die DKD beweer hulle het kennis van Tshwane se brandweerhoof ontvang dat dit veilig is om na die gebou terug te keer.

“Hulle het beweer hulle het daardie naweek die foute in die gebou reggestel om dit weer geskik te maak om daarin te werk,” het Mamabolo Maandagoggend op pad na die betoging in WF Nkomostraat gesê. “Ons is oor nog baie ander probleme in die gebou bekommerd. Ons wil ʼn sertifikaat hê dat dit veilig is.”

Hy sê Popcru, wat 80% van die DKD-amptenare in die gebou verteenwoordig, dring daarop aan dat die departement alternatiewe kantoorruimte bekom. “Amptenare moet die kans kry om aan te hou werk sodat dienslewering nie hieronder ly nie.”

Mamabolo beweer die departement het ʼn week gelede onderhandelings oor die veiligheid in die gebou kortgeknip en daarna amptenare wat weier om in die gebou te werk, met ontslagbriewe gedreig.

Popcru beweer die gebou is steeds “lewensgevaarlik” ondanks DKD se versekering dat dit veilig genoeg is om in te werk. Foto: Facebook

“Hulle beskuldig ons van ʼn onwettige staking omdat ons lede nie in daardie gebou kan werk nie, maar hulle het net skielik besluit om nie langer met ons te kommunikeer nie,” sê hy.

Popcru gaan Donderdag hof toe om die departement te dwing om op te hou met die dreigbriewe.

Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, erken hulle het briewe aan amptenare oorhandig. Hy sê dit is in Popcru se teenwoordigheid gedoen, maar ontken dat hulle enigiemand met ontslag gedreig het.

“Ons het net gevra hulle moet ons in kennis stel wanneer hulle van plan is om terug te keer werk toe en wat die redes is van hul weiering om te werk.”

Hy sê die Maandag nadat die gebou onveilig verklaar is, het die stadsraad die DKD amptelik in kennis gestel dis veilig om na die gebou terug te keer. “Die gebou is nog nie 100% nie, maar veilig genoeg om in te werk,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa B ·

Dis net ‘n verskoning om nie te werk nie, maar nogsteeds salaris te ontvang.

net ter loops ·

die gebou is onveilig, my niggie werk daar. hulle werk wel maar elke dag net half dag totdat daar aksie geneem word om die gebou te herstel. so dis nie altyd geval van wil nie werk nie maar soek die salaris..

Griki ·

Hulle weier nie om te werk nie, hulle weier om in ‘n onveilige gebou te werk – groot verskil. Nou wil die DKD kastig weet wat hulle redes is vir die weiering om te werk? Ek wonder of hulle dit sal verstaan as die werkers vir hulle prentjies teken?

Poppie ·

LMGA hierdie mense word SO opgesteek dis net nie waar nie. Waar hulle geld of ‘n voordeel kan kry, daar maak hulle amok. Wie van hulle se HUISE is van so ‘n aard dat dit nie ook gevaarlik is nie? Soms betrek hierdie mense ONVEILIGE geboue wat later inval op hulle, maar was dit nie vir hulle ‘n voordeel hou om te betoog nie, dan bly hulle maar verniet in die lendelam geboue … Te vreemd die mense.

Gary ·

Praat jy nou uit jou sitkamerstoel waar jy elke dag na n kantoor of viswinkel gaan waar jy werk waar dit veilig is. DIE mense, sluit jou nasie in. Pasop om op jou morele perdtjie te klim sonder n saal.

koos1 ·

Sowat 80% van alle geboue in Pta middestad wat die die staat gebruik word is onveilig.

Adrian ·

Maar hul werk in gevaarlike omstandighede….. in tronke ?? n gebou is sekerlik veiliger as in die tronk

Casper Labuschagne ·

Werk? Ek vermoed dat daardie DKD ‘werkers’ vir die grootste deel van ‘n dekade sal staak voordat enigeen agterkom dat hulle vir tien jaar al op die sypaadjie buite die onveilige gebou staan.

honourable member ·

Dis maar net reg dat mense op hulle regte staan. Die staat huur al die vrot geboue want DPW wil nie baie vir dit betaal nie. Dis hoogtyd dat die staat hulle eie geboue begin oprig.

Helena ·

Was u al ooit vir 2 ure saam 10 ander mense in ‘n hysbak vir langer uur en half met geen suurstof wat inkom?

troy ·

niks fout met trappe klim nie helena. ek doen sewe verdiepings se trappe met my vervangde kniee.

SjN ·

As onderhoud en instandhouding deel was van hul woordeskat sou alles 100% in plek wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.