Dlamini dok uiteindelik op vir kostebevel

Deur Liezl Human, GroundUp

Bathabile Dlamini, oudminister van maatskaplike ontwikkeling, het uiteindelik R650 000 van die regskoste betaal wat sy persoonlik aan Black Sash en Freedom under Law (FUL) verskuldig was in ’n hofgeding oor staatstoelaes.

Die geskil, wat in 2017 reeds begin het, het gehandel oor Dlamini en haar departement se versuim om ’n diensverskaffer aan te stel om staatstoelaes te versprei. Dlamini was toe nog die minister van dié departement.

Luidens ’n verklaring deur Black Sash het Dlamini die betaling vir langer as twee jaar ontduik, aanmaningsbriewe geïgnoreer en van prokureurs verander.

“Ons organisasies het volhard om haar aanspreeklik te hou en te verseker dat die kostebevel deur die Konstitusionele Hof eerbiedig word. Ons het selfs die balju en hof om hulp genader.”

Die verklaring sê voorts dat die kostebevel ’n belangrike boodskap oordra dat openbare amptenare vir hulle dade aanspreeklik gehou moet word.

“Ons het vir die grootste gedeelte van 2020 gesukkel om die geld uit Dlamini te kry en verskeie taktieke probeer om dit in te vorder. Dit blyk dat ons eindelike besluit op ’n mediaveldtog vrugte afgewerp het,” sê Lynette Maart, nasionale direkteur van Black Sash.

Maart verduidelik dat Black Sash ingegryp het nadat dit duidelik geword het dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Sekerheid (Sassa) geensins ’n plan vir die verspreiding van staatstoelaes in plek gehad het teen die tyd wat hulle kontrak met hulle destydse diensverskaffer, Cash Paymaster Services (CPS), verstryk het nie.

“Sassa was nie gereed om oor te neem nie en ons het met ’n krisis op ons hande gesit.”

Thokozani Magwaza, voormalige uitvoerende hoof van Sassa, het in April 2017 ’n brief aan die Konstitusionele Hof gerig wat Dlamini daarvan beskuldig het dat sy Sassa-amptenare in besluitneming- en kommunikasieprosesse gesystap het.

Die hof het beveel dat die aantygings teen Dlamini ondersoek moet word. Daar is gevolglik bevind dat Dlamini vir die toelaagkrisis verantwoordbaar gehou moet word. Regter Bernard Ngoepe het in September 2017 beveel dat Dlamini 20% van die regskoste in haar persoonlike hoedanigheid moet betaal.

Die berig het oorspronklik op GroundUp verskyn. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cindy

wonder waar sy die geld vandaan gekry het….

JohanR

Ou Bathbile Suiplap Dlamini sal hierdie maand soe bietjie minder geld he om op dop te spandeer!

Misky

M.a.w. as haar 20% betaling 650k is, het sy ons belastingbetalers 2.6 miljoen gekos vir haar nalatigheid. Ek dink dis niks minder as reg dat sy dit ook moet betaal nie. Hoekom word ONS geld gebruik. Sy is die een wat nalatig was en sy moet dan alles betaal.

JM

Het gedink sy kan met moord wegkom!

JM

Misky, nie as jy’n ANC-kader is nie!