Dlamini het regsadvies geïgnoreer, hoor ondersoek

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling Foto: Getrude Makhafola/ANA

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het regsadvies geïgnoreer dat sy dadelik die konstitusionele hof in kennis moet stel oor Sassa se versuim om teen die bepaalde sperdatum die welsynbetalings oor te neem by CPS, het ʼn ondersoek oor die toelaagkrisis Donderdag gehoor.

Vincent Maleka, vir die voormalige direkteur-generaal van maatskaplike ontwikkeling en Dlamini se adviseur Zane Dangor, het aan die ondersoek gesê adv. Nazeer Cassim het in 2016 sy regsopinie aan Dlamini gegee.

“Wat mnr. Cassim aanbeveel het, is dat, indien die hof nie in kennis gestel word oor die moontlikheid dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) nie gereed gaan wees teen die sperdatum nie, sal die indruk geskep word dat die konstitusionele hof mislei is. Ek neem aan jy het nie daarmee saamgestem toe jy mnr. Cassim se mening in Oktober 2016 gelees het nie?” wou Maleka weet.

Dlamini het gesê sy het saamgestem met die regsadvies. Sy het bevestig sy het die regsadvies ontvang en die besluit is geneem dat “die plan gekonsolideer sou word” terwyl die krisis voortgeduur het.

Maleka het aan Dlamini gesê daar is maande lank nie gereageer op die regsadvies nie.

“Sassa is nie hof toe in Oktober nadat die regsadvies ontvang is nie. Ook nie in Januarie, Februarie of Maart 2017 nie. Black Sash, saam met ander NRO’s is hof toe,” het Maleka gesê.

“Ja, dit was ʼn raaiselagtige toevalligheid,” het Dlamini geantwoord.

Pogings deur Dangor om Dlamini oor te haal om op die regsadvies te reageer, was onsuksesvol. Sy het ook sy advies, dat ʼn plan dringend beraam moet word om die toelaagbetalings oor te neem, geïgnoreer. Maleka sê die vertraging het verreikende gevolge vir Sassa.

Dlamini het ook Dangor se kommer oor die werkstrome van die hand gewys. Hy het die kwessie weer aangeroer in sy bedankingsbrief gedateer Maart 2017.

“Sy kommer was dat die parallelle besluitnemingsliggame by Sassa spanning veroorsaak, en dit is voordat hy en [voormalige uitvoerende hoof Thokozani] Magwaza hul verklarings by die konstitusionele hof ingedien het. Wat is jou kommentaar hierop?”

Dlamini het gesê besware oor die omstrede werkstrome en hul mandaat by Sassa is vroeër bespreek. “Die kwessie van ʼn parallelle struktuur is aangespreek. Die voormalige DG het self sy eie vergaderings gehou en ander uitgesluit. Ek kan verwys na ʼn vergadering wat hy en Magwaza belê het met die Suid-Afrikaanse Reserwebank,” het sy gesê. “Hulle het ook afsonderlike vergaderings gehou sonder om mekaar in kennis te stel. Ek het nie gedink dit is ernstig nie, want foute gebeur maar.”

Dlamini bly ontwykend op die vierde dag van die ondersoek en Maleka moes in ʼn stadium ʼn vraag aan haar herhaal.

Die regtegroep Black Sash het die departement voor die land se hoogste hof gedaag oor die toelaagkrisis om seker te maak dat meer as 17 miljoen begunstigdes steeds hul welsynstoelae sou ontvang, nadat die hof in 2014 beslis het dat Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak om die toelae te behartig, ongeldig was.

Die konstitusionele hof het in Maart 2017 beslis dat CPS nog ʼn jaar lank die toelaagbetalings sou hanteer, nadat daar bevind is dat Sassa nie gereed is om die betalingstelsel oor te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Wat noem mens nou weer iemand wat blatant lieg? O ja… n ANC MINISTER.

John ·

En sy het daarop gereken dat haar suster gou president sal word en dan kan sy behoortlik kook… en toe gebeur dit nie en nou is plan B op die tafel. Die vraag is net hoeveel kan sy Cyril bekoor? Mens het hom nog nie kougom sien kou nie. Wat anders sal sy hom kan aanbied?

Cassie ·

As president Ramaphosa Suid Afrika se naam in ere wil herstel sal hy baie streng moet reageer teen korrupte ministers.Dit gebeur in die staatskaping debakel. Ek het nogal nertroue in hom Ek hoop net die skuldiges moet die geld terugbetaal of daar moet op hulle bates beslag gele word Beleggers moet gelok word sodat groei weer kan plaasvind.JZ en sy seuntjie moet pa staan vir hulle vergrype aan ons belasting geld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.