Dlamini hoef nie op te dok oor Sassa-debakel

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Die konstitusionele hof het Donderdag bevind Bathabile Dlamini, die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, kan nie persoonlik aanspreeklik gehou word vir regskoste rakende die Sassa-toelaagkrisis nie.

Die konstitusionele hof het op 17 Maart 2017 beslis Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) moet noodgedwonge met nog 12 maande verleng word om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelaes onderbreek word. Dít nadat die hof vroeër bevind het die kontrak was onwettig.

Maande later het die hof ook beveel dat daar ʼn ondersoek gedoen moet word hoekom Dlamini nie persoonlik vir die debakel aanspreeklik gehou moet word nie. Dít nadat sy beskuldig is dat haar inmenging in die administrasie van die agentskap daartoe gelei het dat die uitbetaling van toelaes nie betyds vanaf CPS na die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) oorgedra is nie.

Dlamini het ontken dat sy verantwoordelik is vir die krisis waarin Sassa hom bevind en het gesê geen enkele persoon kan vir die probleme by die agentskap verantwoordelik gehou word nie.

Die konstitusionele hof het Donderdag beslis Sassa en Pearl Bhengu, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, moet in hul amptelike hoedanigheid pa staan vir die regskoste. Die hof het beslis daar is nie bewys dat Dlamini in kwader trou opgetree het of skuldig is aan growwe nalatigheid wat ʼn rede sal wees om haar persoonlik aanspreeklik te hou nie.

Die hof het ook beslis dat Bhengu nie in haar persoonlike hoedanigheid vir die koste verantwoordelik gehou kan word nie.

Vroeëre berigte het daarop gedui dat Dlamini moontlik aanspreeklik gehou kon word vir die regskoste van albei regspanne vir die hofaansoek om Sassa se kontrak met CPS te verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna Hoekom ·

En weereens gaan NIEMAND verantwoordelik gehou word nie! Wat n klug.

Ore ·

Hoekom moet hof beslis? Ek het die uitspraak voorspel.Wat ‘n vrou!

Hansie Slim ·

Ag nee, hoe kan sy “pa-staan”…. asseblief!!! As ek droog maak, moet ek betaal. As sy droog maak, moet ek ook betaal??

Daan Erasmus ·

Jy mag nie ‘n hof beslissings kritiseer nie. Laat ek dan sê ek stem Gladnie saam met die hof se beslissings nie. Sy is moedswillig arrogant.

NEE ·

Maroela, julle berig is onwaar. Die beslissing van die Konstitutionele Hof het niks te doen met die Oud Minister se aanspreeklikheid nie. Die koste bevinding rakende Batlhabile Dlamini is voorbehou en nog nie gemaak nie. Die beslissing wat die Konstitusionele Hof gemaak het, is nie op haar van toepassing nie, maar SASSA en hulle waarnemende uitvoerende hoof in ‘n heeltemal ander saak, d.i. om uitstel te vra sodat Cash Paymasters langer SASSA uitbetalings kan maak instede van die Poskantoor.

Alida ·

Die gemors moes nooit plaasgevind het nie dan was hofsake nie nodig nie. Die spul maak mens siek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.