Dlamini meen skuld word op háár gelaai

Bathabile Dlamini. Foto: ANA

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, meen Thokozani Magwaza, voormalige hoof van die agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), is ook te blameer vir die krisis met die uitbetaling van maatskaplike toelaes.

Richard Solomon, namens Magwaza, het Dlamini gevra om kommentaar te lewer op Magwaza se bewering dat sy tydens ʼn vergadering vir hom gesê het om op die bedrywighede by Sassa te fokus en hom nie te bekommer oor die spesiale werkgroepe nie. Die groepe moes glo die gebrek aan kundigheid by Sassa aanvul.

“Hoe kan ek dit aan ʼn uitvoerende hoof sê?” wou ʼn duidelik geïrriteerde Dlamini weet. Daar is gedokumenteerde bewyse wat Magwaza en Dlamini se handtekeninge bevat en wys op vergaderings tussen alle uitvoerende beamptes, onder wie Magwaza, en die aanstelling van die werkgroepe wat Sassa moes help om die betaling van maatskaplike toelaes oor te neem.

“Daar is oral handtekeninge op dokumente wat deur Magwaza en myself geteken is. Ek verstaan nie hoekom al die blaam na mý verplaas word nie,” het Dlamini gesê. Volgens haar het die probleme begin ná Magwaza se aanstelling as uitvoerende hoof. Sy het gesê Magwaza het nie met haar geskakel nie en selfs ʼn beëdigde verklaring by die konstitusionele hof ingedien sonder haar wete.

Dlamini het verder ontken dat sy sedert 2015 geweet het dat Sassa nie die 2017-spertyd sou haal om betalings van maatskaplike toelae by Cash Paymaster Services (CPS) oor te neem nie.

Sy het gesê sy het bewus geword dat die spertyd van 1 April 2017 nie gehaal gaan word nadat sy in 2016 ʼn artikel oor die kwessie gelees het. Volgens haar het die werkgroepe tydens ʼn vergadering in Oktober 2016 gesê die spertyd is nie haalbaar nie.

Dlamini en Magwaza was haaks oor die werk wat deur die werkgroepe gedoen is terwyl die maatskapliketoelae-krisis nadergekruip het. Magwaza het toe die beëdigde verklaring ingedien wat Dlamini se poging om die blaam op Sassa-bestuurders te plaas betwis het.

Magwaza beweer in sy verklaring dat Dlamini van Julie 2015 geweet het Sassa sal nie die betalings kan oorneem nie. Hy het haar daarvan beskuldig dat sy by Sassa se planne om by CPS oor te neem ingemeng het.

Die werkgroepe wat in 2015 aangestel is, het belastingbetalers meer as R40 miljoen uit die sak gejaag. Die groepe het direk aan Dlamini gerapporteer en is gesien as ʼn onnodige en duur parallelle struktuur by Sassa.

Dlamini is tans besig om voor oudhoofregter Bernard Ngoepe te verduidelik hoekom sy nie persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir die fiasko nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

neels ·

Dit lyk my dit is n nasionale epidemie om te ontken en die blaam te probeer verplaas. Die mense sit in poste net vir die geld en voordele maar nie vir die verantwoordelikhede wat daarmee saam gaan nie. Van die hoofman oor miljoene tot by die laagste besoldigde personeel in die staatsdiens wil geen verantwoordelikheid vat nie. Wonder wie se skuld is dit seker oom Jan sin.

Stella ·

Een lang verhoor op n ander. Tydmors. Niemand word verantwoordelik gehou, of moet betaal of word vervolg nie.

Blits ·

Nou toe nou, Dalk omdat ju die skuldige is????????????????? Julle ontken te veel en wil altyd blaam op iemand anders laas want dis mos nooit julle nie, julle ken nie die woord of betekenis van verantwoordelikheid nie

snoefie ·

goeie giftag! hoeveel tyd is nodig? maar dis al te lekker almal kan “pass the blame” speel want uiteindelik gaan die blaam by fw, apartheid of jan van riebeeck opeindig. sy was in beheer, verdomp.

Sussie ·

Ek het ‘n maklike oplossing vir die SASSA-debakel: stop hierdie onnodige kindertoelaes (gee net geld vir mense wat WERKLIK gestrem of te oud is om te werk). Moenie geld aan mense betaal wat net kinders kry om daardie geld te kry nie of wie net pleegsorg kinders inneem om pleegsorg geld te kry nie. Sodoende word belastinggeld ook gespaar.

Alida 2 ·

Ek stem!
Is daar ooit ‘n beperking vir die hoeveelheid kinders waarvoor jy toelaag mag kry?
Ek kry vir my kind van 16 wat ook vir haar kind van 1 kry. Omdat ons as gesin nie met die toelaag kan uitkom nie word nog ‘n baba gebore dan is die gesin inkomste meer.
Belaglik hoe die ontvangers redeneer. Dan kla hulle oor armoede ens. en kry net nog ‘n kind al is voorbehoeding gratis by klinieke beskikbaar.
Ek stem ook dat daar voorsiening gemaak moet word vir gestremde persone, daarmee het ek geen probleem.

VERANTWOORDELIK ·

Dis nou een ding waarmee die NUWE parlement en ministers baie sleg is en dit is om verantwoordelikheid te neem vir hulle aksies. Hulle soek altyd iemand om die blaam op te plaas en ‘sacrifice’ dan een persoon en hulle stap skotvry en onskuldig anderkant uit .. NOOIT het die begrip ingesink van as jy ‘n MINISTER is staan jy in vir ALLES wat in daardie departement gebeur nie …

Koos1 ·

Geagte Minister.
Ek is bly om te sien dat u kan lees en dan ook artikels lees. Lees ook asb ‘n paar boeke oor algemene bestuur.
Maar kom ek verduidelik vir u hoekom u blameer word in terme wat u miskien kan verstaan. As ‘n taxibestuurder oor ‘n spoorlyn ry en ‘n trein stamp hom en 14 mense is dood, wie is die verantwoordelike person? Die trein? Nee. Die voertuig? Nee. Die taxibestuurder? Ja, want hy moet verantwoordelikheid vir sy dade kan neem, direk en indirek, en ook gevolge kan bepaal van sy dade. U moet nou gevolge dra van die personeel wat aan u toevertrou is om te bestuur (sien weer bestuurder). Ek hoop dit help.

Antjie ·

Onkunde was nog nooit ʼn verweer waar daar ʼn plig was nie! Stupid! Dis bloot ʼn erkenning dat sy nie kompetent was nie! Ek wens die NDOV wil asb nou wakker word en optree. Asook Dept Nas Gesondheid en RGBSA. Nog nooit van só ʼn spul kon dink dat almal net sou aangaap nie. Ai! Wie gee nog om vir kwesbare pasiënte?

marous ·

Die regter moet dalk vie haar potloodsketse maak oor verantwoordelikheid ….maar hy gaan duidelik ‘n trok vrag vol potlode opgebruik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.