Dlamini moet opdok oor Sassa-krisis

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Die konstitusionele hof het Donderdag beslis Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, moet opdok vir haar aandeel in die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se toelaagdebakel.

Regter Johan Froneman het namens ʼn volbank regters die eenparige uitspraak gelewer. Die hof het ʼn kostebevel uitgereik waarvolgens Dlamini deels persoonlik aanspreeklik gehou word vir die hofsaak rakende die kontrak met Cash Paymaster Services (CPS).

Die hof het beslis Dlamini moet 20% van die hofkoste en die regskoste van die aansoekers, Black Sash en Freedom Under Law, betaal. Die oorblywende 80% moet deur die huidige minister van maatskaplike ontwikkeling, die hoof van Sassa en Sassa self betaal word.

Froneman het ook daarop gewys dat Dlamini se getuienis nie eerlik was nie. Die hof het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) opdrag gegee om te ondersoek of Dlamini meineed gepleeg het en vervolg moet word.

Die konstitusionele hof het op 17 Maart 2017 beslis CPS se kontrak met Sassa moet noodgedwonge met nog 12 maande verleng word om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelae onderbreek word. Dít nadat die hof vroeër bevind het die kontrak was onwettig. Dlamini het die hof in Februarie vanjaar weer genader en versoek om die kontrak met nog ses maande te verleng.

Dit is die tweede kostebevel in dié saak. Die konstitusionele hof het op 30 Augustus beslis Sassa en Pearl Bhengu, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, moet in hul amptelike hoedanigheid pa staan vir die regskoste. Die hof het egter in die spesifieke aansoek beslis daar is nie bewys dat Dlamini in kwader trou opgetree het of skuldig is aan growwe nalatigheid wat ʼn rede sal wees om haar persoonlik aanspreeklik te hou nie.

Daar is in Januarie vanjaar in opdrag van die konstitusionele hof ʼn ondersoek van stapel gestuur om te bepaal of Dlamini persoonlik verantwoordbaar gehou moet word vir die regskoste weens die uitgerekte hofsaak.

Regter Bernard Ngoepe, wat die ondersoek gelei het, het Dlamini se getuienis tydens die ondersoek veroordeel en gesê sy was ontwykend. Hy het in sy verslag aan die konstitusionele hof gesê Dlamini se argumente was onoortuigend.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

PJ ·

Kom ou babelaas jy moet betaal weet nie hoekom net 20% en nie 100%

Aitoggie ·

Geld wat sy vanwaar gaan kry?? Dit gaan ook net iewerste “verdwyn” uit een van die departemente

SjN ·

Sy sal genoeg kry deur die empties te gaan laat inruil. Cheers, vat so keel.

PLP ·

Ek dink sy sal nog genoeg geld oorhe na al die empties verkoop is vir nog n maand se vooraad

Sarel ·

Word steeds beskerm deur hulle wat kwansuis korrupsie wil uitroei.

Chris ·

Ek dink julle is almal te gou bly, kom ons kyk hoekank gaan dit vat voor sy n poging gaan aanwend om iets te betaal. Eerstens was nou weer n wit regter wat die praat werk gedoen het al is dit n eenparige besluit. Sy gaan nog baie jakkals draaie hardloop voor sy n moontlike piging gaan aanwend. Die aangeleenheid gaan n stil dood sterf want die hof geld nie vir kaders nie

alida ·

Lekker sy was nooit bevoeg om die werk te doen nie en het net haarself verryk.

Jozi ·

Sy moet betaal? Ja ‘sure’.
Ek reken die kans dat sy ‘n sent gaan terugbetaal, op ‘n skaal van 1 tot 10…. , een vet ronde 0.
Sy ken nie van eienaarskap neem vir haar dade (of gebrek daaraan) of nagevolge nie.
Sal glad nie verbaas wees as sy een van die dae weer as een of ander minister van wie weet wat aangestel word nie.
Dis mos maar hoe dit gaan met ons ou regering.

DinkBiejie ·

Die ” Beauty Queen ” sal nie ‘n sent betaal nie, met haar skoonheid sal sy wegkom met alles!

Daan Erasmus ·

Die Black Sash betaal 80% van die koste. Bathlamini betaal 20%. So eintlik word die Black Sash gestraf met die koste bevel. Die hof laat dit net Klink of Bathlamini moet betaal.

Nee ·

Die hof het beslis SY moet Black Sash en Freedom under law se regskostes betaal PLUS die 20% van die hofsaak se kostes uit haar eie sak. Die oorblywende 80% sal verdeel word onder die Huidige Minister van Maatskaplike Otwikkeling, SASSA en die Hoof van SASSA persoonlik. Betaal sal sy moet betaal. Sy skuld geld aan regslui, en hulle is erger as skuld invorderaars en het die “means” om hulle geld uit haar te kry (lees hulle sal beslag op enige van haar bates le). Sy kan ook nie appeleer nie, die Konstitusionele Hof het die heel laaste se. Ek hoop van harte die VIPs (veral Ministers) sal nou ‘n les leer voor hulle die hof gebruik om sake uit te rek om hulle saak te bevoordeel. Die uitspraak skep ‘n wonderlike “presedent” vir toekomstige soortgelyke sake.

Adam ·

Daan daar is twee bevele tov koste. Sy moet 20% van die CPS se hofkoste persoonlik betaal en 100% van die koste van die aansoekers in die tweede geding nl die Black Sash en Freedom Under Law. By elke saak is daar boonop prokureur en klient koste EN party en party koste. Koop gerus vir jou Prof AC Cilliers se Law of Costs.

PJC ·

Miskien help hierdie bevinding van die hof vir CR om nou van hierdie JZ ondersteuner ontslae te raak want duidelik was hy voorheen bang om dit te doen omdat daar nog te veel van hulle in die topstruktuur van die ANC is.

jean ·

Hoogtyd…..ongelukkig glo ek dit sal maar weer kom van die belastingbetaler…

Christo ·

Indien sy nog skuldig bevind word aan meineed, ‘n kriminele daad, dan sal sy hopelik uit die parlement geskop word. Sovêr is sy seker van haar joppie tot Mei 2019.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.