Dlamini-Zuma amptelik verkla oor leuens, pligsversuim

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma word deur twee ernstige amptelike klagtes oor twee afsonderlike aspekte van haar ministerswerk in die gesig gestaar.

Albei aanklagte is Maandag deur die hoofsweep van die DA, Natasha Mazzone, ingedien – een by president Cyril Ramaphosa, en die tweede by die parlement se staande komitee oor etiek en ledebelange.

Die eerste aanklag is dat Dlamini-Zuma op 29 April prontuit en aspris gelieg het oor openbare steun vir die verkoop van sigarette tydens vlak 4 van die grendelstaat. Nadat pres. Cyril Ramaphosa aanvanklik aangekondig het sigarette sal wel wettiglik verkoop kan word tydens vlak 4, het Dlamini-Zuma ‘n paar dae later tydens ‘n mediakonferensie aangekondig sigarette sal nie wettiglik verkoop kan word nie – soos dit toe wel gebeur het. Een van die redes wat Dlamini-Zuma tydens ʼn regstreekse televisieonderhoud aangevoer het vir die behoud van die verbod op die verkoop van sigarette, was dat 2 000 lede van die publiek tydens die tersaaklike amptelike openbare deelnameproses gepleit het vir die behoud daarvan.

Dit blyk nou dat Dlamini-Zuma gelieg het.

In hofstukke wat nou – onder die einste Dlamini-Zuma se naam, nogal – by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is as deel van die hofsaak om die afsonderingsperiode-tabakverbod se wettigheid te toets, word die ware feite onthul. Net 1 535 mense het in totaal aan die openbaredeelnameproses deelgeneem, verklaar Dlamini-Zuma nou in die hofstukke. Daarvan het 47,2% glad nie na sigarette verwys nie en 23,3% was teen die sigaretverbod gekant.

Die waarheid – so erken Dlamini-Zuma self – is dat 29,6% van die voorleggings ten gunste van die sigaretverbod was. Dit is presies 454 mense – nie 2 000 soos Dlamini-Zuma leuenagtig aangekondig het nie.

Die DA het dus nou ‘n klag teen Dlamini-Zuma ingedien by die parlement se staande komitee oor etiek en ledebelange.

Die tweede klag teen Dlamini-Zuma is by Ramaphosa ingedien en handel oor haar weiering om deur die parlement verantwoordbaar gehou te word. Ter sake is haar hantering van parlementêre vrae deur parlementslede.

Sulke vrae word skriftelik deur parlementslede aan ministers gestel oor die werk in hul ministeries. Dit is een van die heel belangrikste maniere om die waarheid oor kwessies vas te stel en te sorg dat ministers gedwing word om te bewys dat hulle hul werk doen, want die parlementêre regulasies verplig die antwoord om binne tien werkdae skriftelik deur die minister aan die parlementslid verskaf te word.

Boonop bepaal die wet dat dit ‘n vervolgbare oortreding is vir ‘n minister om in die beantwoording van parlementêre vrae inligting te verskaf wat onjuis of onvolledig is. Daardie oortreding staan bekend as misleiding van die parlement.

Parlementêre waarnemers wag al lankal dat Dlamini-Zuma aangekla word oor haar domastrante minagting van die regulasies en wetgewing oor parlementêre vrae, en oor wat in die praktyk ‘n bot weiering is om die werk te doen waarvoor sy as minister betaal word wat parlementêre vrae betref.

Waar ander ministers parlementêre vrae met die korrekte feite beantwoord – hoewel sommiges heelwat onbeantwoorde vrae het en ander baie langer as die toegelate tien werkdae neem om die parlementêre vrae te beantwoord, is Dlamini-Zuma se neerbuigende gedrag enig in haar soort. Sy “beantwoord” naamlik haas elke vraag – onafhanklik van die onderwerp of moeilikheidsgraad – met presies dieselfde woorde: “Die aangevraagde inligting is nie tans aan die departement beskikbaar nie. Dit sal later aan die agbare lid verskaf word.”

Verlede jaar het Dlamini-Zuma nie minder nie as 108 van die 110 vrae wat aan haar gestel was, met die gewraakte frase “geantwoord”. In slegs 19 van daardie gevalle is een of ander feitelike antwoord uiteindelik aan parlementslede verskaf. Die res is doodgewoon geïgnoreer.

Vanjaar is die situasie selfs meer banaal. Elke liewe een van die 22 parlementêre vrae wat tot dusver vanjaar aan Dlamini-Zuma gestel is, is met haar gewraakte frase beantwoord.

In presies nul van daardie 22 gevalle is ‘n feitelike antwoord tot dusver verskaf. Dit beteken dat die minister nie sover kon kom om ‘n enkele een van die feitestelle wat namens hul kiesers deur parlementslede aangevra het, te verskaf nie – al is dit haar werk.

Die DA versoek Ramaphosa dus in ‘n sterk bewoorde brief om so dringend as moontlik vir Dlamini-Zuma te dissiplineer weens growwe pligversuim en minagting van die parlement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Corne123 ·

Ag tog en wie dink eerlik dat sy iets gaan oorkom gaan niks gebeur nie

Adriaan ·

Ten miste probeer die DA om haar verantwoording te laat doen, wat beter is as om niks te doen nie.

Pieter ·

Die ANC se ministers word nie op grond van hul vaardighede, wysheid of kennis aangestel nie soos in enige ware demokratiese land. Aanstelling berus op alliansie vennote, faksieleiers en diegene wat kiesersteun vir die ANC president kan verseker. Om haar te pos gaan probleme skep vir Rampadda as ANC president. Indien die DA dit nie verstaan nie, verstaan hulle nie hierdie kommunistiese bedeling nie.

Rudolf ·

Pieter dankie vir jou insetsel… Maar is dit nie wat moet gebeur nie? Tyd vir verandering?!

Sandra ·

Mag daar hierdie keer tog iets van kom. Sy mag dalk net te ver gegaan het.

Nie Verbaas ·

Absoluut niks sal met haar gebeur nie. Sy sal onskuldige bevind word.

Stefan ·

Een groot kliek, sy gaan niks oorkom nie, ook geen skaamte om in die openbaar te lieg en uitgevang te word nie.
Dis hoekom dit gaan soos dit gaan in die nuwe rsa.

Anel ·

Raak van die ou ding ontslae. Ek dink nie sy ken die antwoorde nie want ek dink sy sy kan onthou wat gevra word nie!

Maritha ·

Sy is oud. Sy hoort in die ouetehuis. Daar hoef sy net te worry oor etenstyd en slaaptyd

Eerlik ·

Dis inelkgeval wat sy nou in sittings ook doen, slaap en later dalk n versnapperingtjie geniet op ons onkoste.

Francois ·

Ag asb daar sal geen iets met haar gebeur want die regering beskerm hulle comrades en sal dit net afmaak as die algemene verduidelikking….. dis mos rasisme se skuld

Ryno ·

Syfers maak nie sin nie.
1535 mense neem deel.
47.2% verwys nie na sigg. Dit is 724.52 mense.
1535 – 724,52=810.48 wat wel na sigg verwys.
810,48 x23,3% teen verbod=188,84 teen verbod.
810,48×29,6% vir verbod=239,9 vir verbod.
810,48-(188,84+239,9)=381,74 wat na sigg verwys maar nie vir of teen verbod is nie!
Wat is dan nou die volle storie???

RJ10 ·

Ryno, jou som is verkeerd: 1535=100%
47.2% van1535=724.52
23.3% van 1535=357.65
29.6% van 1535 =454.36
100%………………….. =1535
jy kan nie 23.3% of 29.6% van 810.48 uitwerk nie.

Frannie ·

Ek hoop eerlikwaar sy word op een of ander manier gestraf, want ek kan nie wag om vir haar te sê: “Sien jy nou, niks hiervan sou gebeur het as julle ons gelos het om ons sigaretjies en wyntjies te kon koop nie. Kry vir jou!”

Frannie ·

En hierdie twak dat ons net op sekere tye mag koop is sommer nonsens. Dit bewys dat die Regering nie ernstig is oor die virus self nie, maar oor magsbehepteit. Om mense net sekere tye toe te laat om dinge te koop, konsentreer jy net meer mense bymekaar sodat die virus lekker kan versprei. Om nie van kosbare tyd wat vermors word, te praat nie.

Frans ·

Lyk my die storie werk soos volg. 1535 voorleggings. (1535= 100 %)
.472 X1535=724 mense wat nie na sigarette verbod verwys nie.
.233 X1535=357 mense is teen sigaret verbod.
.296X1535=454 mense ten gunste van verbod.
1.00 = 1535 mense wat voorleggings maak.

Johan ·

Ag shame vergewe haar onthou aldie Zumas sukkel maar bietjie met die sommetjies.

Juffrou ·

Hoekom sit sy waar sy sit??? Dink Cyril sy is só bekwaam? Hy het haar aangestel. So, hy kan haar net weer fire!

Rooikoos ·

Sy kan doen wat sy wil want sy het een of ander houvas op ramaphosa

J ·

KAKISTOKRASIE!

1. noun, plural kak·is·toc·ra·cies.

government by the worst persons; a form of government in which the worst persons are in power.

Amatambo ·

Jammer hierdie is die Engelse weergawe van ‘n kakistokrasie – het nog nie sover gekom om dit naAfrikaans oor te vertaal nie: A Kakistocracy is a system of government which is run by the worst, least qualified, or most unscrupulous citizens. The word was coined as early as the 17th century and used by the English author, THOMAS LOVE PEACOCK in 1829, but gained significant use in the first decades of the 20th century to criticize populist governments emerging in different democracies around the world.

Marius ·

As hulle die LP’S wil toesluit ook lieg dan moet ons nou stem want daar sal nienand oorbly nie almal lieg soos n cheap clock

Pieter ·

Gaan trug kuba toe laat hulle jou geld terug gee. As jy n dokter is dan is ek n helikopter pilot

Amatambo ·

Pieter,dalk vergeet jy dat hierdie ZOEMPIE-lid hier aan die begin van ons sogenaamde “demokratiese verkiesing” in ’94 as Minister van Gesondheid aangestel was… Maar soos ek dit sien, is sy deesdae die ‘pres’ – en CR dans maar na haar pype,want hy het blykbaar nie meer seggenskap oor die parlement/land nie… onthou, sy het daardie pos net-net verloor toe hy nà Zuma as pres verkies was, maar sy is werklik die hoofnar van hierdie ANC sirkus… en ja, skors my maar as julle wil, maar ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie – ek is te lank van tand en te lank in die land en nie vatbaar vir liberale breinspoeling nie…

Martie Smartie ·

Almal sal nou mooi sien hoe slap en ruggraatloos Ramaphosa werklik is, hierdie skandelike vrou loop bo-oor hom. Wat n grap …

marius ·

Dalk moet ‘n eerstejaar strafreg student die elemente van bedrog aan die da verduidelik …..

Elméne ·

Ja nee wat, kopdoek brigade mos nou kroonwild!!! Word ook nou regtig keelvol vir elke liewe dag se berigte dat daar nou UITEINDELIK hofsake gaan kom en dan vinnige ‘n stille dood sterf. DIT is hoekom dit so gaan in ons land, die mense weet dat daar absoluut NOKOL gaan gebeur en daarom wals hulle rustig voort!

Gysbert ·

C.R. se antwoord op hierdie klagtes:- “Genoteer” en dit sal die laaste verwysing wees!

Sylvia ·

Ek verstaan dat diesulke beriggewing wel gepubliseer moet word, wat die doel daarvan is, is duister, aangesien ons land tans in ‘n magsbeheptheid verval het en belastingbetalers soos onderdane/slawe gebruik en hanteer word. Sela.

Douw ·

Mamma I-will-never-allow-sigarettes gaan niks oorkom nie!!! Jy brand mos nie n mamma wat in dieselfde bed as jy slaap nie!!! Mos nou die aand op die nuus gesien hoe onderdanig ons “President” was toe sy met hom gepraat het. Soos n seuntjie wat na sy mammie luister!!!! Die DP probeer darem!!!!

Genis ·

Wielie Walie Rondomtalie Kaders in kahoets… soos n verkleur mannetjie op n smartie boks

Stofdonkie ·

So kan angie motshekga nie dan ook aangekla word nie? Sy het duidelik nie haar werk gedoen nie, anders sou skole hulle PPE ontvang het asook die water wat gereel moes word. Die ministers moet verantwoordelik gehou word vir hulle departemente, dis al hou hulle gaan begin optree teen die direkteure van die verskillende departemente en hulle weer teen die bestuurders ens. Die minister doen nie haar werk nie en dan volg haar hele departement. In effek doen die president nie sy werk nie en dan volg die hele land en niks werk nie. ramaphosa (aspris kleinletter r) moet optree teen sy ministers en ‘n nuwe kultuur van verantwoordbaarheid begin skep, anders gaan die land binnekort nog brand

SomeOne ·

” te dissiplineer weens growwe pligversuim ”
sy moet nie net ge-dissiplineer word nie, sy moet weggejaag word want sy dink omdat sy zuma se eks is, sal sy met alles kan wegkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.