‘Dlamini-Zuma moet sê hoekom sy magte verleng’

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. (Foto: Siya Duda/ GCIS)

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, moet voor die parlement verskyn om haar besluit om die Covid-19- nasionale ramptoestand met nog ʼn maand te verleng, te verduidelik.

Cilliers Brink, DA-LP en die party se woordvoerder oor plaaslike regering, sê Dlamini-Zuma het die ramptoestand nou die afgelope twee jaar 21 opeenvolgende kere verleng sonder enige rekenskap aan die parlement of Suid-Afrikaners, en sonder enige oënskynlike kommer oor wat dit aan die Grondwet en die ekonomiese vooruitsigte van gewone Suid-Afrikaners doen.

“Die bewoording van die jongste verlengingskennisgewing is nie eens verander nie, asof om die onverskillige wyse waarop regeringsbesluite geneem word, by gebrek aan duidelike rigting en strategie, te onderstreep.”

Dlamini-Zuma het Vrydag in die Staatskoerant bevestig dat die ramptoestand in Suid-Afrika tot 15 Februarie 2022 verleng word.

“In wese beweer die minister dat die regering nie die Covid-19-pandemie onder gewone wette kan hanteer nie. As hierdie bewering waar was tydens die uitbreking van Covid-19, toe die pandemie ʼn ernstige risiko vir die gesondheidstelsel ingehou het, is dit vandag nie meer waar nie.”

Cilliers Brink. Foto: Twitter

Die DA wil hê Dlamini-Zuma moet tydens ʼn parlementêre debat van nasionale belang verskeie vrae beantwoord, waaronder hoekom ʼn nasionale ramptoestand van krag moet bly terwyl bewyse daarop dui dat die Omikron-variant minder skadelik is as vorige variante van die virus.

“Waarom het die regering, ná byna twee jaar van ʼn nasionale ramptoestand, nie alternatiewe wette en beleidstellings uitgedink om gesondheidsverwante rampe te hanteer nie? En as dit absoluut noodsaaklik is om in die toekoms ʼn nasionale ramptoestand af te kondig, wanneer dit werklik bestaan, wat verhinder die regering om dit op daardie tydstip te doen? Dit is ook veelseggend dat minstens drie provinsies versoek het dat ʼn ramptoestand verklaar moet word ná vloede, storms, droogtes of verwoestende weer, maar steeds op ʼn antwoord moet wag terwyl die nasionale ramptoestand rakende Covid-19 al 700 ononderbroke dae nader.”

Nie net skep ʼn ewigdurende nasionale ramptoestand ʼn gevaarlike grondwetlike presedent nie, dit maak ekonomiese herstel byna onmoontlik veral as die ander beperkings op groei in ag geneem word, sê Brink.

“Die laaste ding waarmee ons regering toevertrou behoort te word, is buitegrondwetlike magte wat ministers soos Dlamini-Zuma toelaat om hul eie wette te maak sonder parlementêre instemming en sonder openbare beraadslaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SjN ·

Hul kan met niks vertrou word nie. Die auntie kwalifiseer lankal vir pensioen.

SomeOne ·

asb, nie nog pensioen ook vir haar nie, dit gaan ons nog baie meer kos as sy dit moet kry, sy moet liewers net “vanish off the face of the earth, deep beyond…”

Johan ·

Vreemd dat net die DA en ACDP iets daaroor sê? Die ander hoop seker dit gaan lank genoeg aanhou dat hul ook n beurt kan kry.

Nie Verbaas ·

Dit is die enigste “mag” wat hulle nog het. Daar is Verder geen respek vir hulle nie.

Yvonne ·

Die ANC gee nie regtig om vir die land nie…net hulle eie bose planne

Pieter ·

Minister van Kopdoeksake, Tabak en Alkohol Aangeleenthede.

AH ·

Mmm, nog ‘n maand, nog ‘n (paar miljoen) Rand om te skep…..

Anoniem ·

Hoe op dees aarde kan die mag by slegs 1 persoon lê? Dit behoort ‘n kabinets besluit te wees.

Johan ·

Sy is een van die groot 6. Ou Cyril rapporteer aan hulle. Hy is maar net die puppet

Andries ·

Tipiese magsmisbruik. Dink hul is slimmer en as hul eers in beheer(sic) is wil hul jou vertel hoe, wat om te doen, terwyl hul so dom is ek sal hul nie eens gebruik om my vloer te was nie.

Swerwer ·

In elk geval beteken hierdie vlak 1 niks. Sy probeer vir oulaas haar gewig rondgooi.

Anoniem ·

Die ANC het die laaste tyd op verskeie vlakke bloedneus gekry en dis ‘n bitter pil om te sluk, dus klou hulle wanhopig vas aan elke greintjie mag en gesag waaroor hulle dalk nog beheer het.

Aanhouer ·

Gaan google gerus ‘Dlamini-Zuma Pan African legacy’ en lees oor haar mislukte rol in Afrika.

minnie muis ·

want sy lag vir almal… sy weet land word regeer deur despoote soos z…..in die skadu

SomeOne ·

is haar “magte” so groot en sterk dat nie een wets geleerde persoon enige klagtes teen haar kan inbring nie ?????.
wat se “magte” het sy tot haar beskikking wat haar so spesiaal maak ????..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.