Dlamini-Zuma sê oor verkiesingsdatum

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Departments: Cooperative Governance and Traditional Affairs, Facebook)

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Dinsdagmiddag in ʼn mediakonferensie gesê die datum vir die munisipale verkiesing is voorlopig 27 Oktober. Dit is hangende die uitspraak van die Konstitusionele Hof nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hom tot dié hof gewend het met ʼn aansoek dat die verkiesing uitgestel word.

Dlamini-Zuma moet vandeesweek ʼn datum vir die verkiesing in die Staatskoerant afkondig sodat die OVK die hof kan nader. Sy sê dit is haar grondwetlike plig as minister om die datum vroegtydig af te kondig.

Voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het twee weke gelede voorgestel dat die verkiesing tot volgende jaar uitgestel moet word weens die Covid-19-pandemie. Moseneke het namens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ʼn ondersoek gelei om te bepaal of die komende plaaslikeregeringsverkiesing te midde van die Covid-19-pandemie vry en regverdig in Oktober kan voortgaan.

Moseneke het ʼn verslag wat die bevindinge van dié ondersoek saamvat, aan die OVK oorhandig.

Moseneke het gesê indien die verkiesing vanjaar in Oktober voortgaan, sal dit nie vry en regverdig wees nie. Hy het daarop gewys dat daar nog te veel gevare verbonde is aan die aanbied van byeenkomste wat groot getalle mense byeenbring. Die risiko van die verspreiding van Covid-19 sal teen Oktober ook nog te hoog wees.

Hy het in die verslag aangedui dat die verkiesing tot nie later nie as Februarie volgende jaar uitgestel moet word.

Die OVK het ná bestudering van die verslag aangedui hy gaan hom tot die Konstitusionele Hof wend met ʼn aansoek dat die verkiesing buite die grondwetlik voorgeskrewe bepalings plaasvind.

Ingevolge artikel 159 van die Grondwet moet ʼn verkiesing elke vyf jaar gehou word. ʼn Verkiesing moet ook gehou word binne 90 dae van die verstryking van munisipale rade se ampstermyn.

ʼn Regspan wat gekonsulteer is, het gesê Dlamini-Zuma is as minister nie by magte om die verkiesing uit te stel tot 90 dae van die verstryking van munisipale rade se ampstermyn nie.

Die minister sê indien die hof die uitstel goedkeur, sal sy daaraan gehoor gee.

“Indien die uitstel toegestaan word, sal die huidige munisipale rade bly funksioneer totdat die nuwe rade aangewys is,” het Dlamini-Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Riaan ·

Verstaan ek dit reg – Dit is aanvaarbaar om in lang toue te staan om vir inkopies te betaal, maar dit is nie aanvaarbaar om in ‘n ry te gaan staan om te stem nie ?

Belaglik !

annie ·

Is Ouma Zuma besig met ‘n verjongingsprogram soos Oupa Biden voor sy presidentskap? Ons hoop nie dit is ‘n vereiste wat die VN of die ANC se revolusionêre handleiding deesdae stel nie. Dan sal ons hupse Abrahams-aktrise-model van SABC-faam seker voor in die ry wees vir die pos as asprisident.

Elize ·

Geen uitstel asb!! Die mense se sakke word verkrag deur hierdie korrupte munisipaliteite!!

Persheks Adri ·

Kopdoek moet sommer geen magte hê nie sy kan nou vir jou ‘n klomp snert uit dink! ANC moet val en baie vinnig ook tsssk pffft

Corrie ·

Wonner wat laat hom dink dit sal anders wees in Februarie. Dis net verskonings. Covid is nou al hol rug gery vir die verkeerde redes.

Hennie J ·

Wonder hoe lank dit sal neem vir die grondwethof om uitspraak te lewer. Hulle is so besig en werk nog voluit aan n uitspraak vir zuma se hersieningsaansoek.

SjN ·

Kopdoek moes al op pensioen gewees het, staatsamptenaar bo 65.

Willem ·

Aangesien mens al donkiejare lank per pos kan stem en ons in die 21ste eeu lewe waar ons amper enigiets aanlyn kan doen behoort dit ook moontlik te wees om aanlyn te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.