Dlamini-Zuma ‘weerhou’ steeds inperkingsrekords

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Departement van samewerkende regering en tradisionele sake)

Sakeliga sukkel nou al etlike maande om die samewerking te kry van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, in ʼn hofsaak wat Sakeliga al in September vanjaar van stapel gestuur het om die minister te dwing om bepaalde rekords van besluitneming oor inperkingsregulasies openbaar te maak.

Dlamini-Zuma wat reeds 50 hofdae laat was met die indien van haar kennisgewing van opponering, is nou al meer as tien hofdae laat met die indien van haar verduidelikende eedverklaring.

Tian Alberts, regs- en risikobestuurder, sê die minister wend haar nou tot verdere vertragingstaktieke om te verseker dat rekords van besluitneming oor inperkingsregulasies verlede jaar nie gou die lig sien nie.

Die minister opponeer nou “merietelose klagtes oor tegniese aspekte van Sakeliga se kennisgewing van mosie” wat volgens Sakeliga hoegenaamd nie van toepassing is op dié hofsaak nie.

Dlamini-Zuma het vroeër geweier om enige rekords van besluitneming rondom inperkingsmaatreëls aan Sakeliga ingevolge ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te voorsien.

In Desember verlede jaar, meer as ʼn jaar gelede, het Sakeliga gevra vir die rekords, redes, beraadslaging en dokumentasie waarop die minister gesteun het om besluite te neem en regulasies in werking te stel.

“Die minister het ʼn blanko weiering aangedui om enige rekords te voorsien, kwansuis omdat dit alles deur kabinetsprivilegie gedek word. ʼn Jaar nadat die oorspronklike Paia-versoek aan die minister gerig is, vertraag sy nou die lewering van haar verduidelikende eedverklarings in die hofsaak om haar te verplig om bewys te lewer,” sê Alberts.

Sakeliga glo die rekords kan help om skadelike beleid  te beëindig en toekomstige skade te voorkom, en meen sakeondernemings en verbruikers mag en moet weet op grond waarvan hulle vir uitgebreide tydperke hul deure moes sluit, nie werk toe kon gaan nie, hul werk verloor het en selfs waarom hulle – banaal genoeg – nie sekere produkte soos warm hoender mag gekoop of verkoop het nie.

Sakeliga het reeds ʼn kennisgewing by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die minister se onreëlmatige klagte oor tegniese aspekte van Sakeliga se kennisgewing van mosie ter syde te laat stel.

“Indien die minister se regspan versuim om binne tien hofdae die klagte, wat nou die saak vertraag, self terug te trek, sal Sakeliga voortgaan om die hof te nader vir ʼn bevel om die klag ter syde te stel sodat die saak onverwyld kan voortgaan,” sê Alberts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.