Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika kan van die huidige 29% tot 50% toeneem weens die gevolge van die koronavirus en die afsonderingstydperk.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, het Dinsdag in ʼn voorlegging aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê waar sowat ses miljoen Suid-Afrikaners tans voedselnood ondervind, kan hierdie syfer met drie miljoen tot nege miljoen styg.
Die staatskas sal na verwagting tot R250 miljard verloor aan belastinginkomste, met ondernemings in die toerisme-, vermaak-, ontspanning- en lugvaartbedryf, asook nuwe ondernemings en informele handelaars wat die swaarste getref sal word.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het vroeër die maand ʼn nog donkerder prentjie geskets. Edward Kieswetter, hoof van die SAID, het voorspel Jan Taks gaan vanjaar, te midde van die Covid-19-pandemie, R285 miljard minder belasting invorder. Kieswetter het dié daling van tussen 15% en 20% nie net aan die uitbreking van die nuwe koronavirus nie, maar ook aan die reeds sukkelende ekonomie toegeskryf.
Dlamini-Zuma het verder gesê armoedevlakke sal omvangryk styg en munisipaliteite se inkomste sal met tussen 20% en 30% daal. Sy het haar departement opnuut daartoe verbind om veral leiding te verskaf wat geldelike ondersteuning aan munisipaliteite, rampbestuur en watervoorsiening betref.
Dlamini-Zuma het ʼn paar vrae beantwoord, maar teen die tyd dat die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) en die Wes-Kaapse regering se verteenwoordigers haar tot orde kon roep omdat die veelgeroemde R20 miljard wat die regering aan spesiale hulp vir munisipaliteite gaan toedeel eers teen einde Julie op die vroegste uitbetaal gaan word, was sy reeds weg.
Salga het trouens gewaarsku dat ʼn “perfekte storm” in munisipaliteite dreig omdat baie van hulle in Junie nie salarisse sal kan betaal nie – deels omdat ondernemings wat weens die staat van inperking gesluit moet bly, asook huiseienaars wat geen inkomste kry nie, dit nie kan bekostig om hul stadsraadsrekeninge te vereffen nie.
Parks Tau, adjunkminister van samewerkende regering, het gesê die toewysings aan stadsrade kan eers oorbetaal word nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, aanstaande maand sy nuwe begroting ingedien het.
Intussen moet munisipaliteite maar die geld in hul huidige begrotings herprioritiseer, het Tau aanbeveel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
21 Kommentare
Dis mos wat julle wou he kopdoek
Ja dit kan Dlamini-Zuma, en jy is deels verantwoordelik daarvoor. Nie die virus nie, jy.
Wanneer gaan ons blankes standpunt in neem wanneer gaan ons wakker skrik. Wanneer gaan ons oe oop gaan.
En 49% us deur jou veroorsaak doek! Is jy net te dom om te besef jy is nie juis gewild nie?
En toe vlug sy!! Ha ha ha!!! Ai ou kopdoek….as dit snaaks was het ons almal vir jou gelag!