DNS bevestig vloedslagoffertjie se liggaam

Reddingspanne op soek na die driejarige Everite Chauke in die Jukskeirivier (10 November 2016) Foto: City of Joburg EMS, Twitter

Reddingspanne op soek na die driejarige Everite Chauke in die Jukskeirivier (10 November 2016) Foto: City of Joburg EMS, Twitter

Die liggaam van ʼn driejarige kind wat op 22 November in die Jukskeirivier in Johannesburg gevind is, is aan haar ouers oorhandig.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het Sondag aan Maroela Media gesê DNS-toetse se uitslag het Vrydag bevestig dit is Everite Chauke.

Everite het op 9 November 2016 verdwyn toe sy in die vloedwater meegesleur is ná erge storms in Gauteng. Haar pa het haar gedra en in ʼn boom geklim om van die stormwater weg te kom, toe die tak gebreek het en sy in die water meegesleur is. Reddingspanne het dae lank tevergeefs die rivier in Alexandra en omliggende dele deursoek.

Die Chaukes was een van talle gesinne wat dakloos gelaat is nadat die rivier sy walle oorstroom en talle informele huise meegesleur het in een van die ergste storms nog wat Johannesburg getref het. Meeste gesinne het skuiling by vriende of familielede gesoek nadat hulle al hul besittings verloor het.

Werkers wat besig was om ʼn huis te herstel wat in die gebied deur vloedwater beskadig is, het op 22 November op die kind se liggaam afgekom en die polisie ontbied.

Makhubele het gesê die gesin is na die plek geneem waar Everite se liggaam gevind is. “Die gesin sal die liggaam nou laat begrawe.”

Hy het gesê die polisie wag nou op die uitslag van die nadoodse ondersoek om hul geregtelike doodsondersoek af te handel.

Lees alle vorige berigte oor Everite Chauke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charlene ·

Weet nie as dit vertroosting moet bring of meer pyn. Daar is nie woorde nie. dis `n pyn wat geen mens in woorde kan sit – die dood van `n kind is `n pyn wat altyd bly. Mag haar pa vertroosting vind en vrede vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.