DNS-deurbraak help 9/11-slagoffers identifiseer

Foto: REUTERS/Sara K. Schwittek

ʼn Deurbraak in DNS-ontleding help om meer slagoffers van die aanvalle op 11 September 2001 by die Wêreldhandelsentrum in New York City te identifiseer, maar dit hou min troos in vir die families van die slagoffers wie se oorskot dalk in ʼn stortingsterrein in Staten Island begrawe is.

Die amptelike dodetal ná die terreuraanvalle waartydens kapers met vliegtuie teen die handelsentrum in dié Amerikaanse stad vasgevlieg het, is 2 753. Dit sluit diegene in wat vermis word ná die voorval en as dood beskou word. Slegs 1 642, of sowat 60%, van die slagoffers is al positief geïdentifiseer.

Die lykskouer se kantoor in New York werk al die afgelope 17 jaar om die 1 100 oorblywende slagoffers te identifiseer. Danksy vooruitgang in DNS-onttrekkingstegnieke oor die afgelope vyf jaar, is nog vyf slagoffers geïdentifiseer.

Foto: REUTERS/Jeff Christensen JC

Die vooruitgang is egter bittersoet vir families van 9/11-slagoffers wat onsuksesvol was in hul poging om te keer dat Staten Island se enorme Fresh Kills-stortingsterrein in ʼn park omskep word. Nagenoeg 1,8 miljoen ton puin van die Wêreldhandelsentrum is hier begrawe.

“Ons is dankbaar dat die identifisering van slagoffers voortgaan, maar daar is nog materiaal wat deel kon uitmaak hiervan as die stad nie so onverskillig was nie,” het Diane Horning, wat aan die hoof gestaan het van ʼn hofaksie om die ontwikkeling te stuit, gesê.

Horning se seun, Matthew (26), is een van die slagoffers wat kort ná die tragedie reeds geïdentifiseer is. ʼn Hof het in 2009 bevind beskuldigings dat die stad die oorskot by Fresh Kills nie reg hanteer het nie, was nie genoegsaam om die stad suksesvol te dagvaar nie. New York het destyds gesê dat die stad nie die bedoeling gehad het om onsensitief te wees of slagoffers se families aanstoot te gee nie.

Foto: REUTERS/Ray Stubblebine AS

Om die park te ontwikkel is die stortingsterrein met lae grond en ander materiaal bedek om te keer dat toksiese gasse van die ontbindende rommel in die atmosfeer vrygestel word.

Charles Wolf se vrou, Katherine, is in die 9/11-aanvalle dood en haar oorskot is nog nie geïdentifiseer nie. Hy sê indien sy vrou se oorskot in die stortingsterrein beland het, is dit “God se wil” en het hy vrede daarmee.

Die wetenskaplike deurbraak rakende die onttrekking van genetiese materiaal is vanjaar gemaak en verlede week deur die hoof- mediese ondersoekbeampte van New York City aangekondig.

Met die nuwe tegniek word beenfragmente in ʼn houer wat vloeibare stikstof bevat, geplaas om dit broos te maak sodat dit in ʼn fyn poeier omskep kan word. Die waarskynlikheid om DNS te onttrek word al hoe groter hoe fyner die been is.

Dit is die jongste poging in die grootste forensiese ondersoek in die Amerikaanse geskiedenis, waarby ʼn mediese span van 10 wetenskaplikes betrokke is.

“Ons toets weer oorskot wat ons al vyf, 10 of 15 keer vantevore getoets het,” het Mark Desire van die lykskouer se kantoor tydens ʼn mediakonferensie gesê. “Ons stel DNS-profiele op van oorskot wat ons nie gedink het ons ooit sal kan identifiseer nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.