‘DNS-krisis buite beheer ondanks beloftes van polisie’

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ondanks die regering en die polisie se versekerings dat die agterstand met forensiese DNS-toetse in misdaadverwante sake aandag geniet, raak die situasie net meer kritiek.

Luidens die antwoord op ʼn amptelike vraag van die VF Plus was die agterstand in DNS-toetse teen Februarie vanjaar 172 787. Op 11 Mei vanjaar het polisieminister Bheki Cele gesê dit staan op 208 291 en luidens die antwoord wat die VF Plus pas van die minister ontvang het, is die agterstand tans 237 631. Van die sake sloer al bykans drie jaar weens uitstaande toetse.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die aantal uitstaande toetse het sedert Februarie vanjaar skerp toegeneem met 64 844, terwyl belangrike kontrakte met betrekking tot die verkryging van verbruiksgoedere, asook die diens, onderhoud en kalibrering van toerusting steeds uitstaande is.

Die VF Plus sal ʼn opvolgvraag hieroor vra aangesien dit ʼn wesenlike rol in die toenemende krisis speel.

“Wat die situasie meer onhoudbaar maak, is dat pres. Cyril Ramaphosa, Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by herhaling die probleem as ʼn krisis erken en beloof het om onmiddellik werk daarvan te maak.”

Pres. Ramaphosa het in Mei aan die parlement gesê die agterstande is “heeltemal onaanvaarbaar” en die polisie “werk hard om dit uit te wis”. Hy het onderneem om selfs die private sektor te betrek om te help.

Cele het met ʼn parlementêre debat oor die agterstande gesê die situasie is ʼn krisis wat ʼn “enorme invloed op die afhandeling van hofsake oor ernstige misdaad soos moord en verkragting het”.

“Nou is dit duidelik dat daar geen waarde geheg kan word aan die beloftes van die president en die minister van polisie oor die krisis nie en die situasie stuur op ʼn katastrofe af indien dit nie op die hoogste vlak omgekeer kan word nie.

“Die situasie het ontstaan weens verskeie redes soos die interne twis tussen Cele en Sitole, kritieke vakatures in die polisie se forensiese afdeling wat grootliks deur regstellende aksie (RA) veroorsaak is en wanbestuur wat onder meer gelei het tot groot tekorte aan verbruikersmiddele.”

Minister Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Die organisasie Action Society wil intussen weet wanneer Cele beplan om iets rakende die krisis te doen.

Elanie van der Walt, woordvoerder van Action Society, meen daar was nou genoeg lippediens en dat dit tyd is vir Cele om sy moue op te rol en in te spring.

“Min. Cele se erkenning dat dit die polisie se skuld is, los nie die krisis op nie. Die DNS-agterstand is al sedert Junie verlede jaar ʼn krisis, en hy moet ophou om daaroor te praat en dit begin uitsorteer.”

Volgens Van der Walt het die SAPD tydens die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie se vergadering op 24 Augustus bevestig dat die DNS-agterstand eers teen November 2022 uitgewis sal wees. “Dit beteken dat verkragtingslagoffers tot drie jaar sal moet wag vir hul dag in die hof.

“In ʼn land waar geslagsgebaseerde geweld ʼn pandemie geword het, maak die staat se onvermoë en gebrek aan vasberadenheid om hierdie kwessie reg te stel, hulle medepligtig. Cele, Ramaphosa, die SAPD en die ANC-regering faal slagoffers van geweldsmisdaad in Suid-Afrika en dit ontaard nou in ʼn menseregteskending,” het Van der Walt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Hoed by jou is alles uitbeheer en niks word gedoen nie. Jy sit net daar en kry ‘n groot salaris.

Marius

Ek hoop nie iemand het die hoed man geglo nie , want hy staan net en monitor sy bank rekening.
Hy is n verskoning vir n hoof van SAPS.

annie

Wie sal dit waag om daai hoed te pieng dat die ou man wakker kan skrik. Cyril dra alle blaam vir die karakters wat as ministers rond fladder en droogmaak. Hy soek glo nou na ‘n nuwe box tricks om dinge beter te toor. Daar was mos die kulkunstenaar met ‘Kul jou hier kul jou daar’. Weet iemand waar hy woon dan kan ons super-ghoeroe gaan kers opsteek. Die ANC beskik hoeka oor vlugtige vingers.

DieKriek

Wel ja, hulle weier om behoorlik gekwalifiseerde mense aan te stel, trek die onderpresteerders voor en kry geld vir die toerusting maar nie vir noodsaaklike onderhoud of verbruikbare items nie.

Nie Verbaas

Die ANC faal in totaliteit die hele land. Punt.