DNS van oorledene glo nie dié van FB-verkragter

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Teenstrydighede in die nadoodse ondersoekverslag van die veroordeelde verkragter en moordenaar Thabo Bester het verdere bewerings aangevuur dat hy nooit in sy tronksel in Bloemfontein verkool het soos destyds deur die departement van korrektiewe dienste aangevoer is nie.

Dié verslag is Saterdag deur die nuusblad GroundUp gepubliseer en dui onder meer aan dat die liggaam van die man wat in Bester se sel aangetref is, inderwaarheid korter as hy was. Die departement het bevestig dat hy nog nie self die verslag gesien het nie en dat die ondersoek na Bester, wat as die Facebook-verkragter bekendstaan, se dood nog nie afgehandel is nie.

Times Live berig dat polisieminister Bheki Cele boonop Vrydag tydens ʼn nuuskonferensie gesê het dat die polisie tans na Bester op soek is, nadat DNS van die verbrande liggaam ook nie met Bester verbind kon word nie. Cele het die media toegespreek oor die polisie se gereedheid vir die EFF se nasionale betoging Maandag, toe hy ook met vrae oor Bester gekonfronteer is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het Maandag aan Maroela Media gesê dat hy nie nou kommentaar kan lewer nie.

“Ek is ongelukkig deur die ondersoekspan meegedeel dat hul ondersoek ʼn uiters kritieke stadium bereik het. Enige kommentaar wat in dié stadium gelewer word, kan hul ondersoek dus belemmer,” het hy gesê.

Foto van ‘n persoon wie mense glo Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, kan wees. (Foto: GroudUp/Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat foto’s tans die ronde doen van ʼn man wat ʼn sterk ooreenkoms met Bester toon en wat inkopies in Johannesburg doen.

Die foto’s is twee maande ná Bester se beweerde dood in Mei verlede jaar geneem en onlangs aan die nuusblad GroundUp gestuur. GroundUp het ook berig dat beeldmateriaal op die dag van die brand by die tronk wys hoe mense haastig die tronk verlaat.

In hul jongste berig dui GroundUp aan dat die nadoodse ondersoekverslag reeds op 4 Mei 2022 afgehandel is – ʼn dag ná die brand waarin Bester na bewering dood is. Dit is ʼn openbare dokument wat deel vorm van ʼn hofrekord.

In die nadoodse ondersoekverslag dui dr. Jacobus Fouche aan dat die oorledene weens ʼn harde hou teen die kop dood is. Die oorledene se gesig en hande was veral erg verbrand en ʼn sterk reuk van paraffien dui daarop dat dit gebruik is om die brand te stig.

Verder is die lengte van die oorledene volgens die nadoodse ondersoekverslag 1,45 m. In ʼn polisiefoto van Bester is hy meer as 1,7 m lank.

Volgens GroundUp is die nadoodse ondersoekverslag verkry uit dokumente wat op 31 Mei 2022 by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Die foto’s is verlede jaar ná Thabo Bester se beweerde dood geneem. (Foto: GroudUp/Verskaf)

“Volgens GroundUp se inligting is die polisiedossier oor die saak van selfmoord na moord verander, juis weens die bevindings van die lykskouingsverslag,” lui die berig.

“Die hofsaak [waaruit die nadoodse ondersoekverslag verkry is] is deur die bekende dr. Nandipha Magudumana aanhangig gemaak. Sy het die Pretoriase hooggeregshof in Mei 2022 genader om die lyk [na bewering dié van Bester] aan haar te laat terugbesorg nadat die polisie daarop beslag gelê het. Sy het die lyk op 6 Mei afgehaal en beweer dat sy Bester se vrou op grond van ʼn gewoontereghuwelik is.

“Dieselfde hofstukke onthul dat ʼn vrou wat beweer dat sy Bester se ma is, probeer het om die lyk op te eis, maar sy is toegang geweier nadat haar DNS nie met dié van die liggaam ooreengestem het nie.”

Die departement van korrektiewe dienste sê hy kan geen inligting in mediaberigte ontken of bevestig nie, en dat daar geen nuwe verwikkelinge in die ondersoek is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.