DNS verbind man aan byna 60 verkragtingsake

(Argieffoto)

’n Man onder polisiebewaking in ’n hospitaal kon deur middel van DNS-monsters aan byna 60 verkragtingsake verbind word. Van dié sake is reeds in 2012 aangemeld.

Die man is verlede maand geskiet toe hy inhegtenisneming probeer ontduik het en is sedertdien onder polisiebewaking in ’n hospitaal. Dit volg nadat ’n taakspan die afgelope drie jaar onverpoos na hom gesoek het in verband met talle verkragtingsake.

Die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat hy aan nog sake verbind kan word nie.

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê ’n multidissiplinêre taakspan bestaande uit onder meer die Gautengse polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en ’n afdeling van die nasionale forensiese wetenskapslaboratorium is in April 2018 op die been gebring om ondersoek in te stel na talle verkragtingsake wat in die omgewing van Ekurhuleni aangemeld is.

’n Verdagte is eindelik op 17 Maart vanjaar in hegtenis geneem en in ’n hospitaal opgeneem waarna ’n DNS-verslag hom met verkragtingsake kon verbind wat sedert 2012 by verskillende polisiestasies, waaronder Batho, Crystal Park, Daveyton, Etwatwa en Putfontein, aangemeld is.

Verskeie slagoffers het sedert die slagoffer se inhegtenisneming met nóg inligting na vore gekom wat die taakspan in hul ondersoek kan bystaan.

Naidoo sê die taakspan poog nog om die verdagte se modus operandi vas te stel. Die moontlikheid dat die verdagte aan nog sake verbind kan word, kan dus nie in dié stadium uitgesluit word nie.

Die verdagte kan ná die ontleding van sy modus operandi moontlik met nog 40 ander sake verbind word, wat die totale aantal sake teen die vermeende verkragter op nagenoeg 100 te staan kan bring.

Naidoo sê die man sal na verwagting Donderdag in absentia in die Daveyton-landdroshof verskyn.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het intussen die taakspan geloof vir hul volgehou werk om die verdagte aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.