DNS verbind polisiespeurder glo met misdaadtoneel

Die berugte Glebelands Hostel in Durban. Foto: ANA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Woensdag onthul dat DNS-bewyse ʼn geskorste polisiespeurder op die toneel van ʼn mislukte huurmoord by die berugte Glebelands Hostel in Umlazi in KwaZulu-Natal plaas.

Staatsaanklaer Dorian Paver het hierdie onthulling Woensdag in die Durbanse streekshof gemaak.

Die verklaring is in die hofrekord ingelees as deel van die redes hoekom die staat aanvoer dat borgtog geweier moet word vir ses van die sewe mans, insluitend die polisiebeampte, wat beskuldig word dat hulle deel van ʼn “komitee” was wat minstens nege moorde beplan en uitgevoer het. Die nege moorde was teen mense wat hulle na bewering geglo het hulle bedreig of in die pad gestaan het van die groep se plan om huurbetalings by die hostel, suid van Durban, te onderskep.

Paver het die verklaring van lt.kol. Bhekumuzi Sikhakhane van die Durbanse polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad voorgelees en gesê dié eenheid het begin om die “voorvalle” by Glebelands te ondersoek ná die bekendmaking van ʼn verdoemende verslag van die openbare beskermer (OB) in Junie 2017.

“Die eenheid het in Julie 2017 vir die eerste keer betrokke geraak. Gegewe die magdom sake, het dit tyd geneem om die getuies te identifiseer wat bereid sou wees om met ons ondersoek te help gegewe die vlak van intimidasie,” het Paver gelees.

“Ons moes ook die gebrek aan vertroue by die getuies oorkom weens die optrede van beamptes wat voorheen die ondersoek van dié sake behartig het.”

Die OB se verslag het gesê 44 mense is tussen Maart 2014 en Junie 2016 by dié hostel vermoor, terwyl talle ander dakloos gelaat is weens bendes wat probeer om beheer oor te neem en die winsgewende huur van woonstelle en beddens te kaap.

Paver het gesê tesame met “direkte bewyse van getuies” teen al die beskuldigdes, sal die staat ook bewyse voor die hof bring wat Bhekukwazi Louis Mdweshu (37), speurder by die Durban-Sentraal-polisie, op die toneel plaas toe een van die gepoogde moorde by Blok R in Augustus 2014 afgespeel het.

“DNS-toetse van bloed wat op die toneel gevind is bewys dit was die bloed van [Mdweshu]. [Mdweshu] is na die Kingsway-hospitaal geneem waar hy beweer het hy het die besering tydens ʼn kaping opgedoen,” het Paver gesê.

Hy het gesê Mdweshu het later ʼn mediese sertifikaat van ʼn tradisionele geneser aan sy base by die Durban-Sentraal-polisiestasie ingedien ter ondersteuning van sy siekverlof waartydens hy glo gediagnoseer is met “maagkrampe, braking en beenpyn”.

Paver het aangevoer die vierde beskuldigde het ook mediese praktisyns en sy werkgewer mislei oor hoekom hy by die werk afwesig was.

Hy het ook bewyse voorgehou wat toon dat dieselfde vuurwapen gebruik is in die uitvoer van verskeie misdade, dat sommige van die beskuldigdes glo betrokke was by die moord van ʼn getuie in ʼn onverwante verhoor en dat getuies telefonies vanuit die tronk geïntimideer is.

“Ek is van mening dat die beskuldigdes nie vir hul verhoor sal opdaag nie en dat dit nie in die belang van geregtigheid is vir hulle om op borgtog vrygelaat te word nie,” lui Sikhakhane se verklaring.

Peter Mhlongo, ʼn regsverteenwoordiger, het vroeër die dag redes voorgehou hoekom sy kliënte Mbuyiselwa Mahliphiza Mkhize (28) en Vukani Mcobothi (25) op borgtog vrygelaat moet word. Sy derde kliënt, Mondli Talente Mthethwa (28), het sy borgtogaansoek teruggetrek, aangesien hy ook vir ʼn ander onverwante moord aangekla word.

Die saak is tot 16 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Goodness ·

JA en waar is hierdie mense wat vertel watter WONDERLIKE polisiemag ons het? Polisiemanne is al gevang waar hulle drugs gedeal het (in Rustenburg) op Video vasgevang waar hulle vrouens wat klagtes kom lê rondruk en pluk en ook aantygings maak dat hulle verkrag word. Daar is videos van polisiemanne wat le en SLAAP, van polisiemanne wat groceries met die amptelike motors koop, omkoopgeld vat, lifts vir vriende en vriendinne gee .. wat by PLAASMOORDE betrokke was, wat staan en kyk hoe ‘n Uber drywer vermoor en aan die brand gesteek word .. EN DAN DINK JULLE DIE POLISIE gaan met wat help?

Pieter ·

Tipiese gedrag van die sa bendes met die “polisie” badges.

Karolis ·

Goodness,
Hier is een van hierdie mense wat vertel dat daar wel sommige lede is waarvan jy melding maak,
maar dat daar ook eerlike, lojale, opgevoede, goeie lede is (waarvan jy nie melding maak nie).
So jammer dat jy net negatiwiteit uitstraal.

Tammy ·

Jammer om dit reguit te se, maar ons polisie in SA is n groot skande. Kyk by hoeveel misdade is hulle aandadig of pleeg hulle sommer hul eie misdade. Ag nee sies man hoe word die mense “gescan” as hulle aangestel word? Dalk bestaan daar nie meer iets soos n ordentlike navraag na die nuwe indiensnemings nie, hulle kan sommer van die tronk af kom dit sal ook reg wees???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.