DNS verbind verkragter met vlaag aanvalle

(Argieffoto)

ʼn DNS-monster wat geneem is van ʼn slagoffer wat in 2012 verkrag en beroof is, en wat ooreengestem het met monsters van vroue wat tussen 2011 en 2015 ook verkrag is, het gelei tot ʼn deurbraak in die ondersoek na ʼn reeksverkragter in die Oos-Kaap.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het gesê Monwabisi Mbonyuza (39) het van Julie 2011 tot September 2015 agt vroue tussen 14 en 21 jaar oud in die omgewing van Zwelitsha en Bisho verkrag. Sy werkswyse was deurentyd dieselfde.

Mbonyuza sou twee mense nader terwyl hulle saam stap, ʼn vuurwapen op hulle rig en hulle dan van items soos selfone beroof. Hy het die mans beveel om te vlug en sou hulle aanrand indien hulle hul teësit. Hy het daarna die vroue verkrag.

Ondersoekers van die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid onder leiding van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het ʼn deurbraak gehad toe ʼn DNS-monster wat reeds in 2012 van ʼn verkragtingslagoffer geneem is, ooreengestem het met dié van die ander vroue wat aangeval is.

Mbonyuza is in Junie verlede jaar by sy huis in Thembani in King William’s Town aangekeer.

Tydens die verhoor het regter Phillip Zilwa bevind daar is geen dwingende omstandighede wat die hof van die voorgeskrewe minimum vonnis sou laat afwyk nie.

Die regter het gesê Mbonyuza het jare lank ʼn mes en vuurwapen gebruik om die gemeenskap met die vlaag rooftogte en verkragtings te terroriseer.

Volgens Zilwe het Mbonyuza geen berou getoon nie en is hy oënskynlik heeltemal buite voeling met die trauma wat hy veroorsaak het.

Hy het Mbonyuza drie lewenslange vonnisse en nog 97 jaar tronkstraf opgelê.

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Het misdaad en misdaad bekamping n ‘booming bussiness’ geraak in Suid Afrika.
Misdaad in al sy vorme het ontplof. So erg dat daar anargie in Suid Afrika is.
Die rede daarvoor is moontlik gerieflik vir die regering, want dink mooi daaroor dit verskaf werk aan baie polisie en sekuriteits maatskappye.
Ek kan net my kop in ongeloof skud!!

FM ·

Die regstelsel is ontoereikend en ‘n erge verleentheid.

Soveel skrik nie en het geen gewete nie en jy is 100% reg. Daardie veroordeelde is nie rehabiliteerbaar nie en kom uit die tronk en gaan net voort…………. Misdaad het klaar ontplof.

Kanjynoumeer ·

Misdaad in al sy vorme = werkverskaffing en belasting word gevorder.

Cornelius ·

Almal weet wie die misdade gepleeg het maar dit het die polisie meer as 6 jaar geneem om die saak en die verdagte te arresteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.