DNS-wetsontwerp amper werklikheid

(Foto: Unsplash)

Slagoffers van misdaad is nou een tree nader aan geregtigheid nadat die nasionale raad van provinsies (NRP) se komitee oor veiligheid en geregtigheid die DNS-wetsontwerp sonder wysigings aanvaar het.

Dit het sewe jaar geduur voordat die nasionale vergadering die wetgewing goedgekeur het.

“Eers nadat Action Society in Augustus verlede jaar met regstappe gedreig het, het Bheki Cele, minister van polisie, uiteindelik die wetsontwerp aan die nasionale vergadering voorgelê,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die drukgroep.

Die organisasie het komiteelede bedank vir hul flink optrede om die wetsontwerp vinnig te hanteer.

Die wetsontwerp is aanvanklik geformuleer om die polisie die mag te gee om ʼn DNS-monster te neem van enigiemand wat tronkstraf uitdien vir skedule 8-oortredings. Hierdie is ernstige misdade wat oortredings soos verkragting, moord, mensehandel, roof en strafbare manslag insluit.

Wysigings aan die wet wat in 2015 gepromulgeer is, het die polisie gemagtig om wel die monsters te neem, maar slegs vir ʼn twee jaar lange oorgangstydperk. Dit het al in Januarie 2017 verval.

Duisende oortreders, of mense wat in hegtenis geneem of aangekla is, is intussen uit aanhouding vrygelaat sonder dat DNS-monsters van hulle geneem is.

Die wetsontwerp het die tydsbeperking op die neem van monsters geskrap en indien dit nou deurgevoer word, sal die polisie die mag hê om onbepaald monsters van spesifieke oortreders te neem.

Die NRP sal nou die wetsontwerp bespreek en dan daaroor stem. Indien die meerderheid ten gunste daarvan stem, word die wetsontwerp deurgevoer. Indien dit sonder wysigings gedoen word, word die wetsontwerp aan die president voorgelê om bekragtig te word en word dit wet.

“Ons hoop dat lede van die NRP ook die dringendheid besef wat nodig is om die DNS-wetsontwerp goed te keur. Dit gaan misdadigers verbind met al die misdade wat hulle vantevore gepleeg het en gaan geregtigheid vir die slagoffers verseker,” sê Cameron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boon ·

Dit grens aan kriminele optrede om die DNS wetgewing sedert 2017 te vertraag deur laksheid van staat. Dis absoluut hoofsaaklike bewyse om oortreders suksesvol te vervolg
Mens wonder waarom die minister nog nie afgedank is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.