Dodelike hondegevegte op Kaapse Vlakte neem toe

(Foto: Kaap de Goeie Hoop-DBV)

Al hoe meer skoolkinders raak oënskynlik betrokke by hondegevegte op die Kaapse Vlakte, ʼn bron van groot kommer vir die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid én die dierebeskermingsverenigings wat die dodelike gevegte probeer stuit.

“ʼn Toename in die getal kinders van skoolgaande ouderdom wat by hondegevegte betrek word, word aangemeld. Wanneer die hond ʼn geveg verloor, word die diere glo gestenig,” het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, gesê.

Hy het ʼn beroep op buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en inwoners gedoen om die praktyk te help stuit.

“Hondegevegte word dikwels verbind met ander misdade soos onwettige dobbelary, die handel in onwettige middels en die uitruil van seksuele gunste. Die feit dat jong mense by hondegevegte betrek word, is ʼn bron van groot kommer, omdat hulle oënskynlik in ʼn lewe van misdadigheid ingelok word,” het Fritz gesê.

Belinda Abrahams, woordvoerder van die Kaap de Goeie Hoop-Dierebeskermingsvereniging (DBV), het gesê die skoolvakansie is op hande en hulle is bekommerd dat die getal gevegte in dié tyd selfs verder gaan toeneem.

Sy stem saam dat daar wél ʼn toename in die getal hondegevegte op die Kaapse Vlakte is. “Dit kan ook wees weens verhoogde bewustheid en dat mense die gevegte dalk meer gereeld aanmeld,” het sy gesê.

Volgens haar moet die redes vir die kinders se betrokkenheid by dié wrede gevegte verstaan word. Sy sê sommige betrokkenes beskou ʼn troeteldier as ʼn verlengstuk van hul eie ego en dat die verskynsel van hondegevegte deel is van ʼn veel breër maatskaplike probleem.

(Foto: Kaap de Goeie Hoop-DBV)

Abrahams het gesê dit is moeilik om die oortreders te laat vervolg, veral wanneer niemand bereid is om te getuig nie, of geen bewysstukke soos video’s van die gevegte én die betrokkenes se gesigte beskikbaar is nie.

Die DBV het dus by inwoners gepleit om waaksaam te wees vir enige tekens van sulke gevegte. Aanduidings sluit in ʼn groot aantal ongesosialiseerde honde wat aan sterk kettings vasgebind is,  honde wat beserings aan hul gesigte of voorpote het of bloedbesmeerde plekke by persele.

Abrahams het gesê die gevegte gaan ook gepaard met honde wat gesteel word, veral kragrasse soos pitbull-terriërs. Sy het gesê dié honde is dikwels uiters lojaal en sal bykans enigiets doen om hul eienaars tevrede te hou – selfs veg tot die dood.

Troeteldiereienaars word gevra om hul honde veilig in hul erwe te hou, verkieslik buite sig van verbygangers en om mikroskyfies vir hul diere te laat inplant. Mense word ook gevra om hul diere te laat steriliseer sodat hulle nie gebruik kan word om nóg honde vir gevegte te teel nie.

“Om na [videobewyse van] hondegevegte te kyk is vir enige diereliefhebber bitter moeilik om te doen, maar jong kinders kyk daarna vir vermaak….

“Ons raak nooit gewoond aan hondegevegte nie, nooit nie,” het Abrahams gesê oor betrokkenes se stryd om dié wrede praktyk stop te sit.

  • Enigiemand met inligting oor hondegevegte of betrokkenes daarby kan die DBV kontak by 021 700 4158/9 (kantoorure) of 083 326 1604 (na-ure). Informante kan anoniem bly. By capespca.co.za is daar ook ʼn opsie waar enige bewyse oor hondegevegte opgelaai kan word. Inligting kan ook aan die polisie gegee word deur 08600 101111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Siener ·

Dit sal toeneem totdat die regering strenger optree teen die skuldiges. Al wat hierdie berig doen is om diereliefhebbers te onstel. Vervolg die skuldiges.

Sonneblom ·

Ek stem, ek word bitter hartseer en dit maak my boos…Daar MOET STRENGER OPGETREE WORD,

Lerika ·

Ek stem, die straf vir dieremishandeling is te lig, swaarder boetes en tronkstraf moet opgele word vir oortreders. Die arme diere het nie gevra om daar te wees nie dan word hulle so mee handel gedryf. So word kinders van jongs af geleer dat wreedheid en misdaad die inding is. Hoop dat die oortreders vinnig aangekeer sal word en dat die honde Furever Homes kan kry waar daar net liefde seevier!

zeno ·

AI, Liewe Vader, dit is so wreed. Ons honde is ons kinders. Stenig die skuldiges op dieselfde manier.

marous ·

Laat die waarnemende minister patrollie doen . Hy hou blykbaar van die blootstelling .

Allie ·

Dit breek my hart dat mense ( as dit is wat jy hulle kan noem ) dit doen aan onskuldige diere wat net liefde en aandag soek. Dis so hartseer. Ek is baie lief vir my honde want hulle is my kinders/ babas. Wens ander mense het die respek vir hulle soos hulle vir ons het as hul liefdevolle Mamma en Pappa. Hoekom hul stenig? Deur soveel pyn te sit soos hul alklaar deur is? Sulke artikels maak my sommer trane kry…. Wens ek kon regtig meer doen om dit als stop te sit.

Petro ·

Dit is so wreed… kyk die hond in eerste foto se oë, mens kan sommer die seer en alleenheid in sy oë sien, hartverskeurend. Maak die eienaars staan dat die honde hulle bietjie kan bykom.

Kryger ·

Hoekom wil jy met honde baklei? As jy man genoeg is vat n ander man aan. Ek is meer as bereid om enige uitdaging af te weer…as een van hulle my adress soek is ek meeste dae beskikbaar vir n bakleiery. Laat weet my asb

Christel Rawstorne ·

As ek hulle kry dan voer ek hulle vir hulle eie honde en gee hulle een hengse pakslae. Behoede my ek kom nie op dit af nie pratende wesens wat diere wat nie vir hulself kan praat nie misbruik word. Ek pleeg moord.

Liamari ·

As ‘n kind plesier uit die leiding van ‘n dier kry, voorspel dit net moeilikheid vir nie net dier nie maar enige mens wat in die toekoms sy pad betree…

Rina Prinsloo ·

Dit is uiters sadisties om honde deur soveel trauma en pyn te sit!!!!!Ek is so lief vir diere veral pitbulls mense se hul is gevaarlik maar nie in alle gevalle nie. Ek kan myself nie indink hoe kan enige jong mens vir geld diere martel as die dier verloor nie. Ek kani eers die fotos hanteer nie hoe nog die videos

zunette du Toit ·

Dit is om van naar te word . Hoeveel pyn moet daardie diere deurstaan.

jennefer ·

Daar is mense in die land wat nie n hart vir diere het nie, selfs nie vir n ander mens nie. Jammer die barbarisme is terug. Niks sal gebeur totdat die oortredders vervolg word.

Julie Jansen van Rensburg ·

My dogter het so’n “gewese” veghond – ‘n pragtige Belgiese dier wat deur ‘n instansie gered was – so drie jaar gelede bekom. Skyler (die hond se naam) het in daardie drie jaar baie meer rustig geword, maar sy laat nie toe dat vreemdelinge aan haar raak nie – en sy is ook verskriklik bang vir swaar weer. Ai, dat mense so wreedaardig teen diere kan optree…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.