Dodelike naweek op SA paaie

Die ongeluk Sondag in Limpopo. Foto: Verskaf

Minstens 36 mense is oor die naweek in afsonderlike gru-ongelukke op die land se paaie dood.

In die jongste ongeluk is sewe mense Sondag op die N1 in Limpopo dood toe twee motors reg van voor gebots het tussen Mookgopong en Mokopane naby Tobias.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê een van die voertuie se bestuurders het glo beheer oor die voertuig verloor en in aankomende verkeer ingery.

“Die bestuurders van die voertuie en vyf passasiers is op slag dood,” het Ngoepe gesê. Twee passasiers, waarvan een ʼn tweejarige kind is, het kritieke beserings opgedoen en is na die Mokopane-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

Sondagoggend is minstens 19 mense dood en nege beseer toe ʼn minibustaxi net buite Pietermaritzburg teen ʼn brugversperring gebots en teen ʼn wal afgerol het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het gesê die minibus het op sy dak tot stilstand gekom aan die onderkant van die wal.

Meiring sê die liggame van 15 persone het buite die taxi gelê. Hulle het reeds aan veelvuldige beserings beswyk.

Hy sê omstanders en inwoners van die Mzunduzi Valley-area het 12 van die beseerdes na ʼn nabygeleë kliniek geneem voordat die nooddienste op die toneel aangekom het.

Drie van dié beseerdes is later in die kliniek dood. Nege ander pasiënte is na hospitale in die omgewing vervoer. Hul beserings wissel van matig tot kritiek. Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.

Saterdagaand is vyf mense, waaronder ʼn driejarige babadogtertjie, dood toe ʼn sedan op die R38 tussen Hendrina en Carolina in Mpumalanga teen ʼn rivierbrug gebots het.

Joseph Mabuza, woordvoerder van Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het gesê die ongeluk het omstreeks 18:30 plaasgevind.

“Die motor het die brug se rand getref en aan die ander kant van die brug op die bodem tot stilstand gekom. Die bestuurder en drie passasiers is op die toneel dood. Een passasier is na die Carolina-hospitaal geneem waar die persoon dood is. ’n Ander persoon is met kritieke beserings na die Sunshine-hospitaal in Johannesburg geneem.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Vrydagaand is twee mense dood en drie ander beseer in ʼn ongeluk tussen ʼn motorfiets en ʼn bakkie op die N1-hoofweg in Vanderbijlpark, Gauteng.

Meiring het gesê ʼn motorfietsryer het teen ʼn hoë spoed reg van agter in ʼn bakkie vasgery.

Die impak van dié botsing het veroorsaak dat die bestuurder van die bakkie ook beheer oor die voertuig verloor het, en die bakkie het op sy sy beland.

Een van die vier insittendes van die bakkie het ernstige beserings opgedoen, terwyl die drie ander insittendes, waaronder ʼn baba, matige beserings opgedoen het.

Die motorfietsryer se liggaam het weg van die toneel in die middel van die pad gelê. Volgens Meiring het hy met die nooddienste se aankoms reeds aan veelvuldige beserings beswyk.

“Nooddienste het die mense behandel. Die man wat ernstig beseer is, het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk,” sê Meiring.

ʼn Ondersoek oor die oorsaak van die botsing is van stapel gestuur.

Vroeër Vrydagoggend is drie mense in Mpumalanga dood toe ʼn wit Ford Ranger by ʼn kruising tussen New Denmark en Charl Cilliers met ʼn Nissan-bakkie gebots het.

Mabuza het gesê die bestuurder van die Ford en twee passasiers het ernstige beserings opgedoen. “Die bestuurder van die Nissan was van Standerton op pad na Bethal. Dié bestuurder en twee passasiers is op die toneel dood.”

Ngomane het sy medelye aan die familie en vriende van die oorledenes betuig. Hy het motoriste versoek om versigtig te bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gina ·

Wat gaan aan op ons land se paaie? Is dit onbevoegde bestuurders? Ek raak angstig as ek net daaraan dink om iewers heen te ry. Jy kan hoe versigtig bestuur, dan kom veroorsaak n ander ou moeilikheid op die pad.

THEA SWART ·

5uur in die oggende wanneer ek werk toe kom is baie baie voertuie sonder ligte op die pad en teen daai tyd is dit nog donker – en moet jy mooi kyk waar jy ry dis baie baie gevaarlik en fietse wat langs die kant langs mekaar ry sommer 5 op ‘n slag sonder enige ligte – pleks dat die metropolisie hulle toespits op onpadwaardige voertuie as om pap en shabba te sit en eet onder die brue

Dell ·

Wetteloosheid op die paaie stel alma se lewens in gevaar. “n Duidelik oorlaaide taxi. ‘n Bakkie met 4 insittendes, waaronder 1 ‘n baba is. Bestuurders wat moeg word, aan die slaap raak, en in aankomende verkeer vasry. So onnodig! Maar wat verwag ons as taxi’s eis dat hulle boetes geskrap word? Geen reels vir die massas.

Linette ·

Volgens News24 was die taxi oorlaai – ‘n taxi wat 16 persone kon vervoer, is oorlaai sodat daar 27 insittendes was en die taxi se remme was klaarblyklik foutief. Nou vra ek jou: as mens met verstand, hoekom klim jy in ‘n reeds-vol taxi? Jy moet mos kan dink dat dit ‘n uitnodiging vir ‘n ongeluk is! En hoeveel keer moet daar vir die mense gesê word om passassiers op ‘n bakkie te vervoer is ONWETTIG? Daar moes 3 mense voor in die bakkie gewees het, met 4 agter op die bakkie. Die baba was natuurlik voor in die kajuit, op sy/haar ma se skoot. Ai, wanneer gaan mense leer???

Bietjie vinnig om te oordeel ·

Dell & Linette, dit wil voorkom of julle dan op die ongelukstoneel van ten minste die bakkie en motorfiets was?? Ek kan nerens in die berig sien dat dit ‘n enkel kajuit bakkie was nie… Dubbel kajuit bakkies kan 4-5 insittendes gemaklik vat en hoewel dit nie so hoort nie, kan my klein hatch-back motortjie, volgens die lisensieskyf, ‘n maksimum van 5 persone vervoer… Bietjie vining om te oordeel vir mense wat NET ‘n berig lees?

Pudding ·

Niemand wil aan die taxi bestuurders vat nie. Hulle oortree elke wet in die boek, hulle protest kort kort, rand mense aan, sny mense se voertuie se bande, rol motors om, slaan ruite uit met bakstene. Jammer maar almal is te BANG om aan hulle te vat. En as wittes IETS daaroor sê is hulle rassiste, so slaan my maar, maar wanneer ‘n boer iets verkeerd doen word hy in die tronk gegooi, WETTELOOSHEID van taxi bestuurders het die mense se dood veroorsaak. Die probleem moet aangespreek word, die GEVOLGE is voor die hand liggend. Maar die media steek die goed weg, almal praat OM die wettelose taxi bestuurders, dis solank lewens op die spel gaan wees.

Magda ·

Die nuus is tragies, maar n 3-jarige is nie meer n baba nie- waarom dus 3-jarige babadogtertjie?

Mike Kaapstad ·

Lyk soos n dubbel kajuit , maar ek sien skaars skade aan die agterkant , hoe spoed motorfiets moes daai bakkie n groot duik in gehad het agter ,………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.