Dodelikste naweek nog op SA paaie

Argieffoto

Argieffoto

Die afgelope naweek was een van die dodelikste vanjaar op Suid-Afrika se paaie met altesaam 141 mense wat in motorongelukke dood is, het die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) Maandag gesê.

“Suid-Afrika het die naweek die skokkendste getal padsterftes aangemeld met 141 mense wat in 110 motorongelukke in al die provinsies dood is,” het die RTMC in ʼn verklaring gesê. Volgens die organisasie is die hoogste padsterftesyfer in die Oos-Kaap aangemeld waar 53 mense dood is. Twee ongelukke, een in Willovale waar 36 mense dood is en ʼn minibustaxi-ongeluk naby Cradock, was verantwoordelik vir die meerderheid sterftes.

Die provinsie met die tweede meeste sterftes was Gauteng, waar 21 mense in 29 ongelukke dood is, terwyl 17 sterftes in KwaZulu-Natal aangemeld is en 13 sterftes in Limpopo. Die provinsie met die minste sterftes was die Noord-Kaap waar vyf mense in vyf ongelukke dood is.

Die RTMC het gesê die skokkende syfers het hom genoodsaak om met provinsiale verkeersowerhede saam te werk om wetstoepassing op die paaie te versterk, insluitend die toepassing van ’n 24-uur-skof vir verkeersbeamptes en strenger optrede teen dronk bestuurders. “Die aandeelhouerkomitee wat bestaan uit die minister van vervoer, die LUR’e van al die provinsies en die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging, het verlede week die RTMC magtiging gegee om verkeerswettoepassing oor die hele land te integreer en ʼn 24/7diens-stelsel in te bring,” het RTMC gesê.

Teenbedrog-operasies sal ook opgeskerp word om die praktyk van bestuurslisensies wat aan kandidate verkoop word, hok te slaan. Die operasies sal ook fokus op onwettige padwaardigheidsertifikate wat aan openbare vervoer en vragmotorbestuurders uitgereik word. Verkeersbeamptes sal verdere opleiding ontvang om hul werk doeltreffender te doen.

Makhosini Msibi, uitvoerende direkteur van die RTMC, het gesê die RTMC is in gesprek met die departement van justisie om die moontlikheid te bespreek dat dronkbestuur van ʼn skedule 3-oortreding na ʼn skedule 5-oortreding verander word. Dit sal ook beteken dat ʼn minimum vonnis vir die oortreding ingestel word.

“Padveiligheid is nie opsioneel nie,” het Msibi gesê. “Dit is almal se verantwoordelikheid om op ʼn gepaste wyse op ons paaie op te tree en wanneer dit nie gedoen word nie, sal daar gevolge wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Geen wet en orde meer in DIE land nie. So baaaiiie wette, maar niemand om te kyk of dit uitgevoer word nie.!!!!!

Strydom-:Stryslim eerder ·

Nes jy daar se Johann…en dan die arrogansie van untouchable wees. Net n jammer hulle verwoes ander mense se lewe in die proses. Eish,not sure what the middle pedal does sir???

Cornette ·

dit het niks met abba te doen nie…. Ons het op ‘n plaas groot geword en is baie as kinders ge-abba en belowe jou daar is absoluut niks fout met my bestuurs vernuf nie. Ek het ook ‘n nie-blanke vrou wat na my huis omsien en na my kinders kyk terwyl ek werk en sy bestuur net so goed soos enige wit persoon – sy ry met ons voertuie rond en ry die kinders heen en weer. Die probleem lê by die bedrog rondom die verkry van lisensies. Die ryskole het “contacts” by die lisensie afdeling en solank die oefeninge wat in die terein plaasvind (parkeer ens.) gedoen kan word maak dit nie saak wat buite die hekke gebeur nie. En so beland onervare, oningeligde, onbekwame persone op die pad wat geen idee het hoe om die padreëls wat hulle woord vir woord uit die boek geleer het vir hul leerlinglisensie toe te pas nie.

Klinkklaar ·

Dit is grootliks omdat die wetstoepassers dink hulle is self nie aan die wette onderwerp nie.
Terloops, ek dink nie daar is ‘n woord soos “ongkendste” nie …

Klinkklaar ·

Skuus vir die tikfout, die woord in die berig is “ongekendste”

Sune van Heerden ·

Dagsê Klinkklaar

O genade ons vra om verskoning vir die fout wat ingesluip het!
Dankie, ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.