Dodetal in Ladysmith-tragedie styg

Uitsig oor Ladysmith in  KwaZulu-Natal Foto: Michael Gundelfinger (eie werk) Creative Commons via Wikimedia Commons

Uitsig oor Ladysmith in KwaZulu-Natal Foto: Michael Gundelfinger (eie werk) Creative Commons via Wikimedia Commons

Die dodetal ná twee skietvoorvalle en ʼn ongeluk Saterdag in Ladysmith in KwaZulu-Natal, staan nou op 15.

Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Maandag gesê nog ʼn persoon wat in die minibustaxi-ongeluk was, is in die hospitaal oorlede. Dit bring die dodetal in dié ongeluk nou op nege te staan.

Saterdag se bloedbad het begin toe insittendes van ʼn VW Golf op vyf mense in ʼn Mercedes Benz in Petersweg losgebrand het. ʼn Vrou in die Mercedes is doodgeskiet en die ander insittendes is gewond en na ʼn hospitaal geneem.

Agt mense is dood nadat ʼn taxi, wat uitgeswaai het om die skietery te vermy, ʼn vragmotor reg van voor getref het.

Kort daarna is vyf persone by ʼn motorwassery in die omgewing doodgeskiet. ʼn Man op wie daar ook geskiet is, kon daarin slaag om te ontsnap en die polisie is tans op soek na hom.

Volgens Zwane is die motief vir die skietvoorvalle nog nie bekend nie en dit is nie duidelik of die twee voorvalle aan mekaar verbind kan word nie.

Willies Mchunu, die provinsie se LUR van veiligheid en sekuriteit, het Sondagaand in ʼn verklaring gesê uit die aard van die modus operandi blyk dit of dit nie met mekaar verband hou nie.

Die Mercury-koerant het egter Maandag berig die verkeerde mense is glo in die eerste skietvoorval geteiken. Die koerant haal Vincent Madlala, Ladysmith se burgemeester, aan wat sê: “Daar word aan ons gesê dat die skieters na die Mercedes gestap het, en dit wou voorkom of hulle besef het dat dit die verkeerde mense was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.