Dodetal laer ná Pongola-ongeluk

(Foto: @TrafficRTMC/Twitter)

Die dodetal ná die gru-ongeluk in Pongola die afgelope naweek is Maandag aangepas nadat een van die slagoffers se liggame twee keer getel is.

Robert Mckenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, sê die dodetal weens die ongeluk is 20. Altesame 18 kinders is in die ongeluk dood, asook ʼn onderwyser en die bestuurder.

“Die polisie se forensiese kenners het Maandag besef dat een van die liggame twee keer getel is,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn bakkie en ʼn vragmotor in ʼn kop-teen-kop-botsing betrokke was. Die betrokke vragmotorbestuurder, die enigste oorlewende van die ongeluk, het reeds in die Pongola-landdroshof verskyn. Aanklagte van strafbare manslag staar die 28-jarige Sibusiso Siyaya in die gesig.

Nomagugu Simelane, waarnemende premier van KwaZulu-Natal, en Sipho Hlomuka, LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling in die provinsie, het vandag die families van die slagoffers besoek om hul medelye te betuig. ʼn Besoek aan die ongelukstoneel is ook saam met ʼn span kundiges afgelê.

“Die voorlopige ondersoek dui op ʼn menslike fout en versuim om die padreëls na te kom as die oorsaak van die ongeluk,” sê Mckenzie.

Die regering se afvaardiging beraadslaag met onderwysers en leerders van die vyf betrokke skole. Een van dié skole, Independent Primary, het tien van sy leerders in die ongeluk verloor.

Planne sal later vandag bekend gemaak word oor hoe die betrokke staatsdepartemente die slagoffers se geliefdes gaan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Simoné ·

Die voorlopige ondersoek dui op ʼn menslike fout en versuim om die padreëls na te kom…

Van albei kante af sal ek dan sê…. Te veel kinders of passasiers in of op voertuig is teen die padreëls. Die drywer van hierdie bakkie moes eintlik ook op dieselfde aanklag as die trok drywer tereg gestaan het.

Ek is vreeslik jammer vir die families vir hulle verlies, ek kan my nie indink hoe swaar dit moet wees nie.

NetMyOpinie! ·

Besef julle dat van hierdie ouers in die rural areas nie eens ‘n werk het nie maar wil dat hul kinders skoolgaan om ‘n beter toekoms vir hul te skep? Die beter lewe wat hul nie gehad het nie? Ja die bakkie was oorlaai maar dit is al manier wat hul kon sien om hul kinders by die skool te kry. Die bestuurder, die onderwyser en 18 kindertjies het met hul lewens betaal. Bietjie meer deernis teenior die ouers sal dalk gepas wees.

Jillian ·

Besef jy dat jy moenie kinders in die lewe bring as jy nie die nodige sorg en behoeftes aan hulle kan voorsien nie? Jy as volwassene moet kan besef of jy kan omsien of nie na ‘n kind,emosioneel en finansieël en dan die logiese besluit neem. Meeste van die mense het net kinders vir die geld wat hulle kry van die government!

Delia ·

Jillian, wie het kon voorsien hoe sou lewenskoste styg. Dis nie net ouers in plakkerskampe wat sukkel nie. In sogenaamde blanke areas is die skole baie nader.
Soms sit ons op hoë troontjies en gooi net klippe uit n bevoorregte posisie.

M.P. ·

Wat doen jy as jy in n goeie posisie was om vir jou kinders te kon sorg en skielik gebeur daar iets dat jou finansies nie meer dit toelaat om dit te kan doen nie. Baie van ons sit in daai posisie. Ek myself kon sorg vir my kinders en skielik was my broer dood in n ongeluk en daar kry ek toe nog 4 kinders by om te versorg. Ja hy het voorsiening gemaak vir die dag as hy nie meer daar is nie, maar nog steeds is daar kostes wat ek moet dek met die stygende pryse van vandag. So jy as persoon kan nie oordeel as jy nie die persoon se agtergrond ken nie.

Flip ·

Sluit die drywer van die trok toe en gooi die sleutel weg. Het gisteraand op die nuus gesien hoe hierdie trok drywer ALLE verkeersreëls verontagsaam en jaag net aan……

Harley Davidson ·

Net gister was daar weer ‘n ongeluk waarby dieselfde soort vragmotors betrokke was.

SwartBees ·

Bring terug goedere treine en verban trokke van die paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.