Dodetal ná aardbewing reeds meer as 28 000

Reddingspanne soek na oorlewendes in die stad Diyarbakir in Turkye (6 Februarie 2023) (Foto: Ilyas Akengin / AFP)

Reddingswerkers het Sondag ʼn sewe maande oue baba en ʼn tienermeisie uit die puin gehaal, byna ʼn week ná ʼn aardbewing Turkye en Sirië getref het. Meer as 28 000 mense is reeds dood.

Martin Griffiths, hoof van verligting by die Verenigde Nasies, sê hy verwag dat die dodetal minstens sal verdubbel ná hy Saterdag in die suide van Turkye aangekom het om die omvang van die skade te bepaal.

Tienduisende reddingswerkers deursoek steeds verwoeste woonbuurte ondanks ysige weersomstandighede en verdiep die lyding van miljoene wat nou desperaat na hulp op soek is.

Veiligheidskwessies het daartoe gelei dat van die reddingsoperasies opgeskort moes word en talle mense is in hegtenis geneem wat in die nadraai van die aardbewing eiendom geplunder het of slagoffers wou bedrieg.

Daar is steeds wonderbaarlike verhale van oorlewing te midde van die verwoesting en lyding.

“Is die wêreld daar?” wou die 70-jarige Menekse Tabak weet toe sy uit beton in Kahramanmaras, die episentrum van Maandag se aardbewing van 7.8 gered is. Sy het hande geklap en God geloof, aldus ʼn video van staatsuitsaair TRT Haber.

ʼn Sewe maande oue baba genaamd Hamza is ook in suidelike Hatay gered – meer as 140 ure ná die aardbewing. Esma Sultan (13) is in Gaziantep gered, het staatsmedia berig.

Gesinne spook om vermiste familielede se liggame in die suide van Turkye op te spoor.

“Ons hoor [die owerhede] sal nie meer die liggame hou ná ʼn sekere periode nie. Hulle sê hulle gaan hulle self begrawe,” het Tuba Yolcu in Kahramanmaras gesê.

Griffiths het Saterdag gebiede in Kahramanmaras besoek wat deur die aardbewing geraak is. Hy het aan Sky News gesê hy verwag dat die dodetal “sal verdubbel of selfs nog meer sal styg”.

“Die soek- en reddingspanne sal binnekort ruimte bied vir humanitêre agentskappe wie se werk dit is om die buitengewone hoeveelheid mense betrokke oor die volgende paar maande te help,” het hy in ʼn video op Twitter gesê.

Die VN het gewaarsku dat minstens 870 000 mense dringend warm etes in Turkye en Sirië benodig. Slegs in Sirië is tot 5,3 miljoen mense moontlik dakloos gelaat.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê minstens 26 miljoen mense word deur die aardbewing geraak. Die organisasie het ʼn versoek uitgestuur van minstens $42,8 miljoen om onmiddellike gesondheidsbehoeftes te takel.

Volgens die organisasie is dosyne hospitale ook verwoes.

Turkye se rampbestuuragentskap sê meer as 32 000 mense van Turkse organisasies werk aan soek-en-reddingspogings. Daar is ook 8 294 internasionale reddingsbeamptes.

Restaurante in Gaziantep werk hard en tienduisende vrywilligers het ingespring om te help om kos vir mense te gee.

“Ons medewerkers is in ʼn slegte situasie. Hul families is slagoffers en hul huise is verwoes,” sê Burhan Cagdas, die eienaar van ʼn plaaslike restaurant wat al sedert die tragedie getref het, daagliks meer as 4 000 gratis etes aangebied het.

Sy eie familie slaap sedert Maandag in motors in die stad waar minstens 2 000 mense dood is en tienduisende uit onveilige huise ontruim is.

Die VN-regtekantoor het Vrydag Koerdiese militante en Siriese rebelle versoek om humanitêre toegang toe te laat ná botsings aangemeld is.

Soldate van Oostenryk en reddingswerkers van Duitsland het Saterdag vir ʼn paar uur lank hul reddingswerk in Hatay opgeskort weens veiligheidskwessies toe die plaaslike groepe op mekaar begin skiet het.

Die onwettige Koerdistan-arbeidersparty, wat deur Ankara en sy Westerse vennote as ʼn terreurgroep beskou word, het ʼn tydelike skietstilstand aangekondig om reddingswerk te vergemaklik.

ʼn Grenspos tussen Armenië en Turkye is Saterdag ook vir die eerste keer in 35 jaar oopgemaak sodat vyf vragmotors met kos en water deurgelaat kon word.

Hulp is traag in Sirië waar jare se konflik die gesondheidsorgstelsel verwoes het en dele van die land bly onder beheer van rebelle.

WGO-hoof Tedros Adhanom Ghebreyesus het Saterdag ʼn vliegtuig met mediese toerusting na Aleppo gestuur.

Hy het dele van die stad besoek en twee kinders ontmoet wat albei hul ouers verloro het.

“Daar is nie woorde om te beskryf in watter pyn hulle is nie,” het hy op Twitter gesê.

In Turkye is minstens 12 141 geboue verwoes of ernstig beskadig. Turkse polisie het Saterdag glo 12 mense, insluitend kontrakteurs, in hegtenis geneem oor geboue wat in Gaziantep en Sanliurfa ineengestort het.

Beamptes en medici sê 24 617 mense is dood in Turkye en 3 574 in Sirië. Die bevestigde dodetal staan op 28 191.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.