Dodetal ná Mosambiek-bootramp styg tot 98

Inwoners drom saam om die boot waarop sowat 130 mense vervoer is. Dit is ná die ramp uit die water gebring. (Skermgreep: TVM/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa het sy “diepe medelye” namens die regering en mense van Suid-Afrika met Mosambiek se pres. Filipe Nyusi, Mosambiekers en ook diegene wat geliefdes in die naweek se bootramp in dié buurland verloor het, betuig.

Minstens 98 mense, talle van hulle kinders, is Sondag in die ramp dood.

“As bure is ons diep bedroef deur die tragedie en ons wens die owerhede en burgers alle sterkte toe in die herwinningspoging en die soektog na vermistes.

“Ons bid ook vir spoedige herstel vir die oorlewendes,” het Ramaphosa gesê.

Die voorsitter van die Afrika-unie (AU), Moussa Faki Mahamat, het ook medelye op X betuig.

Die omgeboude vissersboot, met sowat 130 mense aan boord, het laat Sondag in die moeilikheid beland terwyl dit op pad was na ʼn eiland naby die provinsie Nampula. Diegene aan boord het probeer vlug ná nuus oor ʼn cholera-uitbreking paniek veroorsaak het, het Jaime Neto, Nampula se staatsekretaris, gesê.

Die owerhede het Sondag gesê die skip het vermoedelik gesink omdat dit oorvol en ongeskik vir die vervoer van passasiers was. Later is aangedui dat die boot water ingeneem en toe omgeslaan het.

“Water het by die boot ingestroom … en toe gebeur die tragedie,” het Menque Amade, ʼn bemanningslid wat die ongeluk oorleef het, aan die nasionale uitsaaier TVM gesê.

Silverio Nauaito, die eiland se administrateur, het gesê ses liggame is Maandag uit die water gehaal.

Dit het die dodetal in daardie stadium op 97 te staan gebring.

Reddingswerkers het 12 oorlewendes gered en teen Maandagaand het die soektog voortgeduur.

Mosambiek is een van die wêreld se armste lande en volgens die regering is sowat 15 000 voorvalle van cholera en 32 sterftes weens die siekte sedert Oktober aangemeld. Nampula word die ergste geraak en is verantwoordelik vir ʼn derde van al die gevalle.

Plaaslike inwoners sê gesondheidsowerhede het onlangs begin met uitreik- en voorkomingsprogramme. Die verhoogde teenwoordigheid van medici het inwoners egter op hol gejaag en talle van hulle het gevlug.

In onlangse maande het groot getalle mense wat uit die buurprovinsie Cabo Delgado vlug, ook in Nampula aangekom. ʼn Vlaag djihadiste-aanvalle het duisende mense laat vlug.

“Hulle het van die cholera-uitbreking gevlug. Hulle het in die boot geklim, die see was rof, die boot het omgeslaan en baie van hulle is dood,” het Abdul Chemuna, ʼn familielid van sommige van die slagoffers, gesê.

Dit was teen Maandagaand onduidelik presies hoeveel mense nog vermis word omdat die owerhede in daardie stadium steeds nie kon vasstel hoeveel mense in die eerste plek aan boord was nie. TV-beeldmateriaal het gewys hoe mense om die rooi-en-groen boot saamdrom nadat dit tot op die strand getrek is.

  • Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Nie meer lank voordat almal in SA ook moet vlug nie. Ons regering wil graag ook he ons moet in riool versmoor. GEEN INSTANDHOUDING by riool aanlegte. Geen water geen elektrisiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.