Dodetal styg in Durban-storm, talle dalk nog vasgekeer

Verskeie mense is dood in ‘n hewige storm wat Durban en omstreke Maandag getref het. (Foto: ANA)

Minstens 23 mense is dood in ʼn hewige storm wat eThekwini in KwaZulu-Natal Maandagaand en vroeg vanoggend getref het.

Die provinsiale departement van samewerkende regering het gesê die dodetal gaan na verwagting selfs verder styg.

Verskeie paaie in en om Durban is steeds gesluit en ure lange vertragings is op verskeie roetes aangemeld.

Reddingswerkers het vanoggend in die Malvern-omgewing byeengekom en grawe steeds deur die puin van ʼn huis waar vier mense, twee volwassenes en twee kinders, vroeër vanoggend dood is. Volgens bure is nóg drie kinders moontlik onder die puin vasgekeer. Die huis is verwoes in ʼn modderstorting. Talle inwoners van die gebied het by die huis saamgedrom en aangebied om met die reddingspoging te help.

Die stad het vanoggend gesê sy nooddienste is onder geweldige druk om betyds by lewensbedreigende noodgevalle ná die storm uit te kom. “Die druk word vererger deur mense wat daarop aandring om die paaie te gebruik en dan in onveilige situasies beland,” het Zandile Gumede, burgemeester, vanoggend in ʼn verklaring gesê.

“Ek doen ʼn beroep op inwoners om geensins strome wat sterk vloei te probeer oorsteek nie, hetsy te voet of in voertuie.

“Verskeie paaie is oorstroom en skade is aan sommige strukture aangerig. Indien moontlik, raai ek die publiek aan om eerder nie in dié stadium die paaie te gebruik nie,” het Gumede gesê.

Sy het motoriste aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik waar paaie oorstroom het.

Van die paaie wat oorstroom is of as onveilig beskou word, sluit in dele van die Higgins-hoofweg, die M4 waar dit naby die ou lughawe by die N2 aansluit, N2 Galleria, N2 Prospecton, Bul-Bulweg waar die Chatsworthbrug inmekaargesak het, Clairwood Sirdarweg wat oorstroom is, Sarniaweg naby die Bellair-polisiekantoor, die Mangosuthu-hoofweg naby Megacity, die Sometsu- en Stangerpaaie en die M25 by Dasweg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

GM ·

Nou as die mense van die onveilige paaie wil gebruik maak, laat hulle dit doen- moet hulle net nie gaan help as hulle in die moeilikheid beland nie. Dis mos nou so maklik soos dit. As jy nie wil hoor nie, moet jy voel – dit sal baie van S.A. se probleme oplos as daardie beginsel toegepas word. Brand jou kind se skool af – hy/sy kan nie leer nie. Brand treine af – geen vervoer werk toe vir jou nie. Brand trokke wat kos vervoer – gaan plant maar jou eie mielies en groentetjies. Geen brood ens. meer in die winkels nie. Die gemeenskap sal gou-gou die brandstigters/kriminele aanvat.

Barries ·

GM, ‘n natuurramp tref ‘n ou makliker as wat jy dink. Wees dankbaar as dit jou of jou familie nognie getref nie.

Elna ·

Mense dit is baie erg hier op die kus hoor dit reen aanhoudend en alles is besig om weg te spoel van strande tot huise wat in ineengestort het baie mense en diere is gestrand en dakloos. Bome waai om sandduine stroom oor die paaie meeste paaie is oorstroom van die water. Dis die ergste storm water wat ek ooit in my lewe beleef het.

Zombie ·

Elana, sterkte aan almal daar. Baie van ons dink aan julle.

Marinda ·

Was saam my man in Durban by die hospitaal en het mense gesien en ontmoet wat op ñ manier deur die storm geraak is. Ons besef nie hoe gelukkig ons is om nie in hierdie mense se posisie te wees nie.

GM, partykeer het ons nie keuses nie.
As jou huis in daai rigting is en jou werk in die ander rigting, hoe maak jy as jy van skof af kom? Do you just abandon your family? Regtig? Veral as hulle in gevaar verkeer. Gaan dink bietjie oor wat jy geskryf het. In hierdie instansie is dit bietjie onvanpas. Ek sê net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.