Dodetal styg ná Brits-busongeluk

Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit

Foto: Hartbeespoort Emergency Rescue Unit

ʼn Derde vrou is dood ná ʼn busongeluk in Brits, Noordwes. Die vrou het Dinsdag in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

“Die vrou het by die distrikshospitaal in Brits gesterf,” het ao Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Ons het haar besonderhede om haar naasbestaandes in kennis te stel.”

Maroela Media het vroeër berig twee vroue, onderskeidelik 37 en 54 jaar oud, is dood en 25 persone is beseer toe ʼn bus in Makolokwe buite Bethanie naby Brits omgeslaan het. Die bus het op ʼn grondpad van Makolokwe na Brits gery toe die ongeluk omstreeks 05:50 plaasgevind het.

Gaoage Molapisi, LUR van gemeenskapsveiligheid en vervoer in Noordwes, het sy meegevoel betuig aan die families van die oorledenes en die persone wat in die ongeluk beseer is. Hy het gesê ʼn saak van strafbare manslag word teen die busbestuurder ondersoek.

“Die busbestuurder is na die MediClinic Brits geneem en die ander beseerdes is na die distrikshospitaal geneem,” het Molapisi bygevoeg.

Die Hartbeespoort Nooddienste het gesê een vrou is na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem. Haar hand is tydens die ongeluk geamputeer.

Molapisi het gesê die ongeluk het gebeur terwyl die departement met die betrokke busmaatskappy en verteenwoordigers van die Lethabong-gemeenskap oor die toestand van die busse vergader het. “Die maatskappy se busse word aan streng padwaardigheidstoetse onderwerp en het daaraan voldoen,” het hy gesê. “Ons is tevrede na dié betrokke vergadering dat die maatskappy ʼn nuwe plan in werking gestel het om ʼn busvervangingsdiens te implementeer.”

Die bus het mense na hul werk in Brits vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.