Dodetal styg ná gru-ongeluk op Moloto-pad

Foto: Netcare 911

Nog twee persone is dood ná die gru-botsing Maandag op die Moloto-pad in Kameeldrift in Pretoria wat 60 ander beseer gelaat het.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is omstreeks 17:15 na die toneel ontbied waar ʼn bus en ʼn vragmotor gebots het. Vier persone is op die toneel dood en 60 persone beseer, van wie tien kritieke beserings opgedoen het.

Die transitomaatskappy SBV het intussen in ʼn verklaring bevestig dat een van hul gepantserde voertuie in dié botsing betrokke was.

Die gepantserde voertuig het met ʼn Putco-bus gebots waarna insittendes noodgedwonge uit die wrakke van dié voertuie gesny moes word.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het Dinsdagoggend aan Maroela Media bevestig dat die botsing die lewe van ses mense geëis en 12 ernstig beseer gelaat het.

Volgens SBV is een van die oorledenes ʼn SBV-werknemer.

Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV, het in ʼn verklaring sy medelye aan almal wat deur die botsing geraak word uitgespreek. “Ek deel SBV se diepste simpatie met die oorledenes se gesinne en wens diegene wat beseer is, ʼn spoedige herstel toe,” lui die verklaring.

Volgens Barret is die maatskappy nié in staat om verdere besonderhede bekend te maak oor die presiese oorsaak van die ongeluk nie aangesien SBV nog wag op die uitslag van ʼn volledige ondersoek.

[Red] Hierdie berig is aangepas sedert dit oorspronklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Robert ·

Ek ry elke oggend tot by Roodeplaat dam en daar is vanoggend geen aanduiding dat daar ‘n ongeluk op die Molotopad in Kameeldrift was nie.

Riana Homan ·

Ongeluk was verby Roodeplaatdam, rigting Moloto. Voor Meat-r-us sentrum. Daar was vanoggend beslis tekens van die ongeluk.

Anoniem ·

Ek weet uit eie ondervinding hoe ry die busse op daai pad… dis verskriklik. Goeie vriendin van my seuns is ook ‘n paar jaar gelede oorlede op die Moloto pad. Wens daar kan elke 100 meter ‘n spoedhobbel gebou word.

Robert ·

Dankie Riana, net verwarrend want dis nie meer Kameeldrift nie, Maroela kon eerder gesê het naby die Pienaarsrivier brug of hondeskool.

koos1 ·

En die regering het miljoene 2 jaar terug op sy gesit om die pad te herbou en ook om die spoorlyn en treine weer in gebruik te neem. Waar’s daai geld heen? Skuus swak vraag.

Elsa ·

Koos1, die geld was “geleen” aan Eskom, of was dit nou SAL. Anyway, in die bode lose put in.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.