Minstens vier mense is dood in ʼn verwoestende brand wat nagenoeg 2 000 plakkershutte in Houtbaai in die Wes-Kaap verwoes het.
Rob Quintas, DA-raadslid in Houtbaai, het aan Maroela Media gesê onder dié vier mense tel uit een gesin ʼn ma, pa en hul kind.
Quintas sê dié vier inwoners van Houtbaai is vermoedelik dood toe hulle hul besittings probeer red het, of hulle is deur die rook oorweldig. “Ons kan nog nie met sekerheid sê nie. Dit is egter baie tragies, maar sal sin maak as hulle hul besittings probeer red het, want as jy onder die broodlyn leef en jou paar besittings begin brand, sal jy met alles baklei wat jy het om dit te probeer red.”
Hy het gesê in dié gebied woon daar minstens drie mense in een huis. Hy meen die brand het nagenoeg 8 000 mense dakloos gelaat.
Die oorsaak van die brand is steeds onbekend. “Ons is nie seker wanneer die resultate van die ondersoek bekend gemaak gaan word en of dit wel bekend gemaak gaan word nie,” het hy gesê.
Quintas het gesê nooddienste maan mense om nié na die gebied terug te keer nie aangesien die vure steeds smeul ten spyte van 12 bestrydingsvoertuie en meer as 70 brandbestryders.
Die stad se rampbestuur en verskeie ander organisasies het intussen alternatiewe verblyf vir gesinne beskikbaar gestel. Talle nieregeringsorganisasies help ook om kos te voorsien aan die slagoffers van die brand.
die nuus is wonderlik en dis so maklik verkrygbaar wanneer jy wil weet wat aangaan
Eienaardig dit gebeur omtrent elke 6 maande. Ek sien TV skottel en Kragpaal bly gespaar.
Kyk maar na gauteng se plakkerskampe, die minderbevoorregtes het amper almal skottel tv.
Kaders wat hierdie brande stig moor eie mense