Dodetal styg ná N1-ongeluk

(Foto: ER24)

Die dodetal van die busongeluk wat Maandagmiddag op die N1 buite Louis Trichardt in Limpopo plaasgevind het, het tot 13 gestyg.

Matome Moremi-Taueatsoala, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê minstens nog 13 mense is in die ongeluk beseer.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het op die N1-noord gebeur toe die busbestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en die bus omgeslaan en op sy dak te lande gekom het. Volgens Moremi-Taueatsoala was die bus van Gauteng na Zimbabwe onderweg toe die ongeluk gebeur het.

Al die oorledenes was Zimbabwiërs. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, beweer vier van die oorledenes was kinders. Meiring sê 36 mense is in die ongeluk beseer en die beserings het van gering tot kritiek gewissel.

Moremi-Taueatsoala sê daar is nog geen bewyse gevind oor die oorsaak van die ongeluk nie, maar die moontlikheid van roekelose bestuur kan nie uitgeskakel word nie.

Makoma Makhurupetje, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, het haar kommer uitgespreek oor die talle busongelukke wat die lewe van onskuldige mense eis. “Die bevoegdheid van langafstandbestuurders en padwaardigheid van hierdie voertuie is ook ʼn kwessie wat ons bekommer, aangesien dit nou die hoeveelste keer is dat passasiers van ʼn langafstandbus hul lewe verloor,” het Makhurupetje gesê.

Sy het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om meer gereeld roetine-inspeksies van dié soort busse te doen en onpadwaardige voertuie van die pad te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris Ws ·

Ek het dit al gese en se weer die langafstand busse en toerbusse se bestuurders kry te min aandag van verkeerswet toepassers.Daai manne is roekerloos verby!Goed daar is ‘n paar wat hulle gedra maar die meeste ry onverskillig.Ek sien dit gereeld op die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.