Dodetal styg ná N2-ongeluk

‘n Bus en ‘n tenkwa het Maandag (21 Maart) op die N2 in die rigting van Mthatha gebots. (Foto: Buffalo City-munisipaliteit/Facebook)

Die dodetal weens ʼn gru-ongeluk op die N2 in die Oos-Kaap Maandagoggend het nou tot vier gestyg.

Maroela Media het vroeër berig dat 19 mense beseer is toe ʼn bus teen ʼn tenkwa wat diesel vervoer het, gebots en omgeslaan het. Die tenkwa het gevolglik ook aan die brand geslaan.

Die voorval het net ná die Brakfonteinbrug in die rigting van Mthatha plaasgevind.

Die DA het intussen sy meegevoel met die families van die slagoffers betuig en gesê dat die party aan die LUR vir vervoer, Weziwe Tikana-Gxothiwe, sal skryf om ’n volledige ondersoek na die oorsaak van die voorval te vra.

“Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie, maar dit is kommerwekkend dat die ongelukstoneel op ’n stuk pad met dubbele sperstrepe is.

“Daar is ’n algemene wetteloosheid op Oos-Kaapse paaie, met bestuurders wat nie aan die padreëls gehoor gee nie,” het Marshall von Buchenroder, die DA se woordvoerder oor vervoer, gesê.

‘n Bus en ‘n tenkwa het Maandag (21 Maart) op die N2 in die rigting van Mthatha gebots. (Foto: Buffalo City-munisipaliteit/Facebook)

Buchenroder meen padreëls word ook nie na behore deur wetstoepassers afgedwing nie. Hy sê sigbare verkeerswetstoepassing is veral gedurende spitsverkeerperiodes soos langnaweke en openbare vakansiedae nodig om die aantal padsterftes te verminder.

“Ons het 24 uur per dag, sewe dae per week, 365 dae per jaar wetstoepassing op provinsiale paaie nodig. Hierdie beamptes moet sigbaar wees, die wet afdwing en weer orde op ons paaie skep.

“Daarsonder sal ons voortgaan om van meer onnodige sterftes te getuig.”

In reaksie op die Buffalo City-munisipaliteit se inskrywing oor die ongeluk op hul Facebook-blad, het talle gebruikers oor motoriste se gedrag op dié pad gekla.

Een gebruiker het gesê hy ry gereeld op dié pad en dat motoriste dikwels ander voertuie op dubbele sperstrepe verbysteek.

“Daar is óf geen respek vir ander mense se lewens nie, óf motoriste verstaan nie die padreëls nie. Dis kommerwekkend,” het Len Moerdyk geskryf.

Nog ʼn gebruiker het gesê sy is vreesbevange om op dié pad te ry, juis weens die roekeloosheid waarmee sommige motoriste bestuur.

“Nie die padtekens, spoedgrens of ander padgebruikers word in ag geneem nie. Ek was self al ʼn paar keer amper in ongelukke op dié pad betrokke en het gruwelike stories gehoor van noue ontkomings wat vriende op hierdie pad beleef het,” sê Bronwyn Claridge.

Seko Skade skryf dit is nie die pad se skuld nie, maar ongeduldige Oos-Kaapse motoriste se slegte bestuursgewoontes.  Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van vervoer gestuur en wag tans op terugvoer.  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Suzette ·

Dis n riller om deesdae op enige pad te wees. Motoriste maak dit n riller nie die pad nie. Arrogant onnosel. Geen respek vir eniige ander pad gebruiker nie. Van hulle bestuur asof hulle bo die wet verhewe is. Moordenaars geen ander woord of beskrywng nie

Angela ·

Mense het geen respek vir ander mense se lewens nie. Op die pad tussen Mosselbaai en Riversdale jaag karre asof hulle nooit by hulle bestemming gaan arriveer nie. Oor dubbel strepe verby 3 of 4 trokke met aankomende verkeer. Dis so erg dat van die aankomende voertuie heeltemal van die pad moet afbeweeg. Kom jy dan in Albertinia 3min later staan oom jaag duiwel by die vulstasie heel in sy noppies dat hy eerste daar is. Met geen agting dat hy amper hordes mense se lewens vernietig het nie.

Frank ·

Net so!! Daardie saak dat JY moet plekmaak vir hom wat in JOU baan aankom

Twallie ·

Dit gaan nooit verander nie. Die padreels word net verontagsaam of gesien as voortellings ipv reels.

Taxi’s wat nie omgee nie, en selfs busse wat soms erger as die taxi’s ry.

Die vier rigting stop by my kompleks sien elke jaar ten minste 5 ongelukke en ons muur moes twee keer herbou word, want stop tekens word net verontagsaam. Jy hoor in die nag hoe jaag hulle oor die kruising. En elke ongeluk sover in die 10 jaar wat ek daar bly was Afrika buitelanders en taxi’s.

Dis absolute waansin.

Ronel ·

Taxis & busse oor die algemeen steur hulle nie aan padreëls nie, nou volg Jan Publiek hul voorbeeld, geen ag geslaan op reëls nie.

Frank ·

My twee dogters was gister BAIE amper in ‘n kop aan kop tussen Naboom en Potties. Sperstrepe word geignoreer en dan MOET jy plek maak vir iemand wat van voor af in JOU baan aankom

Roek ·

Ek sal omrede die gevolg as jy dit nie doen nie is bloed , as jy dit doen al is ‘n mens vies spaar jy darem jou lewe en die van die passasiers, wees maar kwaad en vies na die voorval ,maar moenie dat die ou jou lewe vernietig omdat hy /sy onverskillig is nie , gee maar kans dit is wat ek sal doen ! het dit reeds BAAAIe gedoen word baie vies maar lewe ek nog !

Swerwer ·

Seko Skade dit is absoluut die waarheid, en dit is nie net in die Oos-Kaap wat motoriste slegte bestuursgewoontes het nie, dit is landswyd. Kom besoek die ander Provinsies en u sal sien dit is oral dieselfde, dan praat ek nie eens van die Minibus Taxi’s nie.

Niklaas ·

Ons het Sondag van Natal af huistoe gery. Daar was maklik 50 % meer trokke as ander motors op pad terug. En een trok sal oor ‘n witlyn teen heuwel uit , ‘n ander trok verbysteek . Ons het dit gereeld gesien.Dan het jy in aankomende verkeer net een keuse…ry af van die pad af of word gedood. Die padreels word afgelag omdat daar nie meer strawwe is vir “our people” nie. Maar Boeta, bewaar my siel as ekself oortree en gevang word.

Pandora ·

Dis so jammer dat mens in elk geval nie meer so baie verkeersbeamptes op paaie sien nie – hulle is geneig om net buite ‘n dorpie bymekaar te drom, maar die jaagduiwels ry verder aan soos maniake en sal selfs voertuie verbysteek en vir aankomende verkeer ligte flikker om pad te gee. Hier in Mpumalanga en Limpopo is dit ‘n wipplank tussen onverskillige bestuurders en slaggate. Baie baie erg en vreesaanjaend.

Roek ·

Baie lank terug het ek ook die ondankbare werk gedoen deur hoeveel ure punt diens te doen, leerders by skool patrollies op te lei en te help , motoriste wat se voertuie onklaar geraak het heen en weer te ry, skool busse op pad na kampe in die middel van die nag gehelp wat gaan staan met my ou maat Ben wat so vol diesel is dat hy in sy onderbroek in die kar klim om huis toe te gaan, GEEN erkenning nie.
Trap jy die manne vas wat oortree dan moet jy hoor wie hulle almal ken en opmerkings soos “soek jy jou ma” , almal kla oor korupsie maar is 98% van die oortreders die wat eerste offer om ‘n “plan ” te maak, ongelukkig het alles nou handuitgeruk al die Patrollie motors is BMW’s, Mercedes, Gti golfs ens ,dit is waarheen die geld gaan, ons het met 1800 cc motors gery en het ons die job gedoen gekry , die beleid is mos duidelik jou werk is om die verkeer veilig te laat vloei , gaaf te wees en dan nog die wet onderhou met eerlikheid ! Sterkte vir die eerlikes !

Karlahari ·

‘n Goeie voorruit kamera help om die oortreding en die nommerplaat vas te lê.
Dalk kan Maroela help om ‘n web tuiste op te stel waar die video’s afgelaai kan word vir privaat vervolging.
En ja, ons het patrollie motors nodig wat op die paaie beweeg met senior personeel om die padvarke vas te vat.
Los die braai hoender vir na ure.

Jennifer ·

Verwyder eerder die paloekas van die paaie. Voorkoming=beter as genesing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.