Dodetal styg ná orkaan Laura

Orkaan Laura het vloede in Cameron, Louisiana veroorsaak. (Foto: AP Photo/David J. Phillip)

Minstens 14 mense is nou reeds dood nadat orkaan Laura Donderdag die suidelike Amerikaanse deelstate Louisiana en Texas as kategorie 4-orkaan getref het.

Luidens inligting het tien mense gedurende die storm in Louisiana omgekom terwyl Texas vier sterfgevalle aangemeld het.

Vyf van orkaan Laura se slagoffers is dood nadat bome op hulle geval het terwyl een mens in ’n boot te midde van die storm verdrink het.

Agt mense het aan koolstofmonoksiedvergiftiging weens foutiewe kragopwekkers omgekom. Drie van dié slagoffers is by ’n ontspanningsaal in Texas dood nadat die eienaar sewe Viëtnamese arbeiders en hawelose mans toegelaat het om gedurende die storm daar te skuil. Die ander vier is tans in ’n kritieke toestand.

‘n Boom het gedurende die storm op ‘n huis in Westlake, Louisiana, beland. (Foto: Kirk Meche/American Press via AP)

Derduisende mense is in dié stadium steeds sonder elektrisiteit en lopende water. Die moontlikheid bestaan ook dat dit weke gaan duur voordat basiese dienste in die geraakte gebiede gelewer kan word.

Talle mense wat hul huise voor die storm ontruim het, het intussen na groot skade teruggekeer. Lawrence “Lee” Faulk is een van diegene wat met sy tuiskoms sy huis in die Calcasieu-parogie in die suidweste van Louisiana sonder ’n dak aangetref het. “Ons het hulp nodig,” het Faulk gesê.

Pres. Donald Trump sou na verwagting vandag dié streek besoek om die skade te ondersoek.

John Bel Edwards, goewerneur van Louisiana, het intussen die Amerikaanse regering vir finansiële hulp gevra om die skade in dié deelstaat te herstel.

Laura was met windsnelhede van 240 km/h die kragtigste orkaan om Louisiana in 150 jaar te tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Brenda ·

Sjoe, dit is erg en hartseer om te sien dat mense so baie verloor veral in hierdie tyd met die korna – werkverlies, laaste bietjie wat party mense het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.