Dodetal styg na sewe by Sibanye-Stillwater

Sibanye-Stilwater se Masakhane-myn in Driefontein (Foto: Matthews Baloi/ANA)

Al 13 werknemers wat ondergronds vasgekeer was by Sibanye-Stillwater se Masakhane-myn in Driefontein naby Carletonville, is nou na die oppervlak gebring, het die maatskappy Saterdag bevestig.

“Die laaste drie werknemers, wat nog ondergronds vasgekeer was, het ongelukkig aan hul beserings beswyk, en dit bring die dodetal op sewe te staan,” het James Wellsted, woordvoerder van Sibanye-Stillwater, bevestig.

Ses van die werknemers wat vroeër gered is, is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal. Die families van die werknemers is gekontak en ontvang die nodige ondersteuning en berading.

“Die raad en bestuur van Sibanye-Stillwater betuig sy medelye aan die vriende en familie van die werknemers wat tydens dié tragiese gebeurtenis gesterf het. Die bestuur van die myn en die departement van minerale hulpbronne sal deeglik ondersoek instel en alles sal gedoen word om te verhoed dat voorvalle van dié aard weer in die toekoms voorkom.”

Maroela Media het vroeër berig 13 persone is ondergronds vasgekeer ná seismiese aktiwiteit Donderdagaand in die gebied.

“Baie dankie aan almal wat in die reddingspoging betrokke was, veral die reddingspanne en ons eie werknemers wat die afgelope twee en ʼn halwe dae onder uiters uitdagende toestande onverpoosd gewerk het om ons kollegas te red,” het Wellsted bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.