Dodetal styg ná skietery in KZN

Argieffoto: SAPD

Die dodetal het verder gestyg nadat ʼn onbekende man Donderdagmiddag op inwoners van ʼn nedersetting in Isipingo in KwaZulu-Natal losgebrand het.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder, het Saterdag aan Maroela Media gesê een van die vyf mense wat tydens die skietery ernstig gewond is, is Vrydag in die hospitaal dood, wat die dodetal op vyf te staan bring.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het omstreeks 16:15 oorkant die Pilgrim-treinstasie plaasgevind.

“Volgens inligting van die toneel wil dit voorkom of die man eenvoudig net begin skiet het op die mense,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê.

“Toe die paramedici daar aankom en die gewondes begin ondersoek, het hulle drie mense dood aangetref. Een is in ʼn kritieke toestand en vyf ernstig beseer,” het Botha gesê. Die pasiënte is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandeling, waar twee slagoffers aan hul beserings beswyk het.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê die oorledenes is tussen 25 en 35 jaar oud.

Die Isipingo-polisie ondersoek vyf sake van moord en vier van poging tot moord.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Gwala het gesê die motief vir die skietery is onbekend. Siddall het egter gesê daar word vermoed dat die voorval dwelmverwant is.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.