Dodetal styg ná skietgeveg tussen ‘rowers’ en polisie

Foto: SAPD

Vier vermeende rowers het gesterf tydens die spanningsvolle skietgeveg wat hom Vrydagmiddag op die N2 in Durban, KwaZulu-Natal, afgespeel het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn derde verdagte het ook op die toneel aan sy wonde beswyk, terwyl ʼn vierde verdagte later in die hospitaal oorlede is. Die vyfde verdagte is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het Vrydag inligting ontvang van ʼn beplande rooftog en het op pad daarheen ʼn voertuig met vyf mans binne-in opgemerk wat ooreenstem met ʼn beskrywing van die verdagtes se voertuig. Die polisie het op die N2-Noord naby Queen Nandi-rylaan probeer om die voertuig voor te keer, maar die insittendes het op die polisie losgebrand.

Foto: Rescue Care

ʼn Skietgeveg het ontstaan en die verdagtes het die polisie se voertuig van die pad af gedruk wat daartoe gelei het dat albei voertuie op die N2-Suid beland het. Al vyf verdagtes is gewond en drie polisiebeamptes is in die ongeluk beseer. Die beamptes is ook in ʼn hospitaal opgeneem.

Zwane het Sondag bevestig daar is op die toneel op vier ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, ʼn polisieradio en huisbraaktoerusting beslag gelê. “Die voertuig wat deur die verdagtes gebruik is, is verlede maand tydens ʼn rooftog in Sydenham gesteel,” het hy gesê.

Die oorlewende verdagte sal aangekla word van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en die besit van gesteelde goedere sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes gelukgewens met hul vinnige en dapper optrede om die rowers voor te keer. “Die voorval dien as ʼn waarskuwing aan misdadigers dat ons polisiebeamptes nie sal huiwer om hulself te verdedig wanneer hulle in die uitvoer van hul pligte in die spervuur beland nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lyla ·

Welgedaan aan die polisie beamptes se dapper optrede ! Kan daar nie meer soortgelyke berigte geplaas word waar positiewe dade van die polisie aan die publiek oorgedra word nie ? Ons polisie het al so n negatiewe beeld en die paar wat nog hul werk met trots verrig behoort in die publiek die nodige erkenning daarvoor te kry. Plus dit laat my as deel van die publiek ook beter voel. Dit is lekker om te hoor dat misdaad, al is die gevalle min, soms nie die oorhand kry nie. Is daar nie n manier wat ons die Eskom base se groot bonusse aan hierdie braaf beamptes kan sedeer nie ?

Kobus V ·

Goeie werk polisie. Raak ontslae van die hospitaal geval. Hy mors net mannekrag en belastinggeld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.