Dodetal styg steeds ná Durban-storm

Jackson Fortein (links) en Khumbulani Lembede, die eienaar van die motor (Foto: Bongani Mbatha/African News Agency/ANA)

Minstens 32 persone is dood ná ʼn storm Maandagaand in Durban, het die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake gesê.

Die departement het die jongste dodetal Dinsdag tydens ʼn perskonferensie bevestig. Die getal sal na verwagting styg.

Die provinsiale regering het op Twitter ʼn beroep op alle inwoners in KwaZulu-Natal gedoen om by hulle aan te sluit en diegene wat deur die oorstromings en vloede geraak word, by te staan. “Talle het hul lewens, huise en besittings verloor. Hulle het ons hulp nodig.”

Volgens die departement is meer as 2 000 noodoproepe Maandagaand gemaak.

Verskeie paaie in en om die stad is ook gesluit weens die storm.

Reddingswerkers het Dinsdagoggend om 09:30 in Malvern bymekaargekom en het deur die puin begin soek waar vier persone, twee volwassenes en twee kinders, vroeër die oggend dood is. Volgens bure is drie kinders moontlik onder die puin vasgekeer. Die huis is verwoes deur ʼn nabygeleë modderstorting. Bure en lede van die gemeenskap het by die reddingswerkers aangesluit. Die liggaam van ʼn vrou is uit die puin gehaal.

Volgens die Stad eThekwini is die nooddienste “onder geweldige druk” om aandag te skenk aan vloedverwante lewensbedreigende noodgevalle. “Die probleem word egter vererger deur persone wat daarop aandring om te bestuur en wat dan in onveilige situasies beland,” het burgemeester Zandile Gumede gesê. Sy maan inwoners om nie in hierdie stadium gebruik te maak van paaie wat oorstroom is nie.

Verskeie paaie in laagliggende dele is oorstroom.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is Dinsdagoggend ontbied na ʼn toneel in KwaNdangezi naby Marion Ridge, wes van Durban, waar ʼn struktuur ineengestort het. Toegang tot die toneel was beperk weens beskadigde paaie. “ʼn Gespesialiseerde reddingseenheid is ontbied en ʼn tegnikus op die toneel het bevind ʼn hele huis is deur ʼn modderstorting verwoes. Paramedici het saam met eThekwini se brandweer en die NSRI na oorlewendes begin soek. ʼn Sewe maande oue baba en ʼn negejarige kind is ongelukkig dood aangetref.”

Terwyl paramedici op die toneel was, het hulle verskeie oproepe ontvang vir bystand waar die grond onder inwoners se huise weggespoel het en huise dreig om ineen te stort. “Van die huise het reeds ineengestort toe reddingspersoneel opgedaag het.”

Nog reën word in die gebied verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marinda ·

Sterkte aan al die mense wat deur hierdie storm geraak is.

Hannelie ·

Ons gebede is met julle in hierdie tydperk. Baie sterkte aan almal wat geraak word!!!

thelsa ·

Is die stilswye van BFLF nie verstommend oor die aantal Persone wat gesterf het in die vloede nie maar vinnig was om hulle te verheug oor die 4 sterfgevalle by Hoërskool Driehoek weens die loopbrug wat ingetuimel het. Mens sou ten minste konsekwentheid verwag.

jessica ·

GIVE THEM THE CONTAINERS TO LIVE IN THE ONES THEY USE TO TRANSPORT GOODS IN, MUCH BETTER THEN LIVING IN THESE HUTS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.