Dodetal styg tot 222 ná tsoenami

(Foto: ANA)

Minstens 222 mense is dood en 843 beseer ná Saterdagaand se tsoenami in Carita, Indonesië. Agt en twintig mense word steeds vermis.

Vermoede dat die tsoenami deur ’n vulkaanuitbarsting veroorsaak is, is ook sedertdien bevestig. Só berig Sky News Sondagmiddag.

Volgens Sky News is lede van ’n plaaslike popgroep ook onder die slagoffers.

Die popgroep Seventeen en sy aanhangers is Saterdagaand tydens ’n vertoning by ‘n strandoord op die westelike punt van die Indonesiese eiland Java deur die golf meegesleur. Beeldmateriaal op sosiale media wys dié popgroep in aksie slegs oomblikke voor die reusegolf tref. Talle benoude gille kan gehoor word voordat die beeldmateriaal uitsny.

Riefian Fajarsyah, Seventeen se hoofsanger, het in ’n emosionele video op sosiale media vertel dat die groep se basspeler gesterf het terwyl Fajarsyah se vrou asook die groep se dromspeler vermis word.

’n Golf het Saterdagaand die land sowat 24 minute ná die uitbarsting van Anak Krakatau getref waarna ’n watermassa die binneland ingestroom het. Die land se waarskuwingstelsels is glo deur die vulkaan beskadig, wat beteken het dat mense nie ’n waarskuwing van die naderende gevaar gekry het nie, berig Sky News.

(Foto: ANA)

Maroela Media het vroeër berig wetenskaplikes van die land se agentskap vir meteorologie en geofisika het vermoed dat die tsoenami deur ondergrondse grondverskuiwings veroorsaak is ná die uitbarsting van Anak Krakatau, ’n vulkaniese eiland wat jare gelede deur die nabygeleë Krakatau-vulkaan gevorm het.

Die vulkaan, ongeveer 305 meter hoog en 200 kilometer suidwes van die hoofstad Jakarta, bars al sedert Junie vanjaar uit. Owerhede het gevolglik in Julie aangekondig dat niemand binne twee kilometer van die krater mag kom nie.

Gegar Prasetya, medestigter van die Tsoenami-navorsingsentrum in Indonesië, sê die golwe is waarskynlik veroorsaak toe ʼn groot deel van die vulkaan se sykant meegegee het. Hy verduidelik dat dit moontlik is vir ’n vulkaniese uitbarsting om grondverskuiwing bo die grond of onder die see tot gevolg te hê, wat albei ’n tsoenami kan veroorsaak.

“Eintlik was die tsoenami nie só groot nie,” sê Prasetya. “Die probleem is dat mense geneig is om alles naby die kuslyn te bou.”

Owerhede vermoed dat die dodetal Sondag deur die loop van die dag verder sal styg nadat die aanvanklike dodetal 43 was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.