Dodetal weens KZN-vloed nou 70

Pres. Cyril Ramaphosa, minister van samewerkende regering Zweli Mkhize, waarnemende KwaZulu-Natalse premier Sihle Zikalala, LUR vir samewerkende regering in KZN Nomusa Dube-Ncube en eThekwini-burgemeester Zandile Gumede gesels met inwoners van Amanzimtoti. (Foto: GCIS)

Die dodetal in KwaZulu-Natal ná die afgelope week se oorstromings het reeds tot 70 gestyg.

KwaZulu-Natal se waarnemende premier, Sihle Zikalala, het gesê die syfer sal waarskynlik weer gedurende die dag aangepas word. Zikalala het vanoggend meer inligting bekend gemaak oor die verwoestende vloede wat die provinsie getref het.

“Ons is baie bekommerd en swaarmoedig oor die styging in die sterftesyfer. Dit staan nou op sowat 70,” het Zikalala vanoggend gesê.

Die operasie behels tans grootskaalse opruimingswerk ná Maandagaand se storm. Talle huise het ineengestort en nagenoeg ʼn duisend mense is dakloos gelaat. Hulle skuil onder meer in gemeenskapsentrums wat beskikbaar gestel is.

Zikalala het gesê een van die provinsie se grootste prioriteite is nou om te verseker dié inwoners kry spoedig behoorlike blyplek. Munisipaliteite moet ook verseker dat paaie wat weens die vloedwater beskadig is so gou moontlik herstel word.

Volgens hom sal die begrafnisse van diegene wat in die vloede gesterf het waarskynlik volgende week plaasvind.

Zikalala het pres. Cyril Ramaphosa en ʼn hoëvlakafvaardiging gister vergesel op hulle besoek aan die provinsie. Ramaphosa het reeds opdrag gegee dat noodfondse beskikbaar gestel word om inwoners van KwaZulu-Natal wat deur die ramp geraak is, te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

CR maak of hy baie besorg is. Huigelaar skenk R120m aan daardie gemeenskap. DIT is die regte ding om te doen ipv dit op te eet saam met al die skelms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.