Doeanebeamptes verhoed invoer van R4,2 miljoen se sigarette

Verskaf: SAID

Verskaf: SAID

Waaksame doeanebeamptes in Limpopo het op een dag pogings om sigarette ter waarde van R4,2 miljoen die land in te smokkel by twee grensposte verhoed.

Doeanebeamptes het Maandag onwettige sigarette ter waarde van R3,6 miljoen by die Groblersbrug-grenspos gevind. Dié vonds was in ʼn vragmotor versteek wat van Zambië op pad was na Boksburg in Gauteng. ʼn Middernagtelike soektog by die Beitbrug-grenspos het nóg ʼn smokkelpoging ter waarde van R623 000 verhoed.

Volgens Sandile Memela, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se woordvoerder, het ʼn suspisieuse beampte by Groblersbrug ʼn onderhandeling tussen ʼn vragmotorbestuurder en ʼn klaringsagent opgemerk en sodoende is 18 000 kartonne sigarette in ʼn versteekte kompartement van ʼn houer in die vragmotor gevind. Die onderhandeling het by die invoerbeheersarea plaasgevind.

Memela het gesê die beampte het die onderhandeling dopgehou en ʼn polisiebeampte in kennis gestel het toe hy oortuig was dat daar ʼn ooreenkoms beklink is tussen die bestuurder en die klaringsagent. Die polisie het die verdagte bestuurder se vragmotor ondersoek en besef die houer is groter van buite as van binne, waarna die versteekte sigarette gevind is.

Die vragmotor en sigarette word by die grenspos gehou en die saak word ondersoek. ʼn Zambiese burger is in hegtenis geneem in verband met vermeende smokkelary.

Volgens Memela het ʼn beampte by Beitbrug homself ook goed van sy taak gekwyt toe hy Maandag teen 22:45 tydens ʼn roetine-ondersoek ʼn vragmotor deursoek het nadat hy ontdek het dat die bestuurder nie ʼn tydelike invoerpermit gehad het nie. Die beampte het die skynbare leë vragmotor deursoek en 3 135 Pacific Blue-sigaretpakkies in ʼn versteekte kompartement onder die vragwa gevind.

Die Zimbabwiese bestuurder is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die vragmotor en sigarette.

Memela het gesê hierdie gevalle dra by tot die beduidende aantal inbeslagnemings deur die SAID se doeanebeamptes wat daagliks ondersoeke doen in ʼn poging om smokkelary te verhoed. Hulle bydra is duidelik te sien in die sowat 61,4 miljoen sigarette ter waarde van R54,3 miljoen waarop tussen April en Oktober van die finansiële jaar beslag gelê is.

“Die SAID sal aanhou om in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe die land en sy inwoners te beskerm deur georganiseerde misdaad teen te werk en ontwettige handelsaktiwiteite te verminder,” het Memela in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HEVW ·

Maroela die hoofopskrif van die berig is verkeerd. Wanneer die invoer verhoed word, dan is dit n wettige beeindiging van n wettige handeling. Dit moet wees insmokkel soos in die res van die berig gemeld.

Deloris ·

Kan al die SAP lede nie maar so op en wakker wees nie… dan sal dit klaar beter gaan in ons land!!! Welgedaan aan die manne!

Dee ·

Die vragmotors waarop beslag gelê word… die regering het R24m belastingbetalersgeld gebruik om karre te koop vir stamhoofde en hul vrouens. Daardie lorries kon mos daarvoor gebruik word.

Pieter ·

Niks word vermeld van die klaringsagent se inhegtenesneming nie, gaan hy dalk nou n pos in n ambesade aangebied word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.