Doen só aansoek vir leerders in Gautengse skole

(Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Ouers kan eerskomende Donderdag begin aansoek doen om plek vir gr. 1- en gr. 8-leerders in Gautengse skole.

Die Gautengse departement van onderwys het Dinsdagoggend bekendgemaak dat die aanlyn registrasieproses om 08:00 Donderdag begin. Ouers het tot 25 Julie om 24:00 kans om aansoek te doen en moet op die departement se aanlyn portaal aanmeld.

Die aansoekproses behels drie stappe en ouers moet al die inligting in al drie stappe voltooi. Aansoekers sal dan ʼn sms met ʼn waglysnommer vanaf die departement ontvang.

Die departement stel ook vir die eerste keer vanjaar ʼn opsie beskikbaar om dokumente wat die aansoek moet vergesel elektronies op te laai. Dit beteken ouers hoef nie meer in lang rye by skole te staan om dokumente per hand by die skool van hul keuse in te dien nie. Ouers het egter steeds die opsie om dit self by skole in te handig. Dié dokumente moet binne sewe dae vanaf die elektroniese aansoek aanlyn of per hand ingedien word. Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het ouers egter aangeraai om dokumente liefs self by skole in te dien, om te verseker skole ontvang wel die nodige inligting.

Dié dokumente sluit in:

Vir gr. 1’s:

Ouers se identiteitsdokument of paspoort

Leerder se geboortesertifikaat

Leerder se kliniekkaart of bewys van inenting

Bewys van woonadres

Vir gr. 8’s:

Ouers se identiteitsdokument of paspoort

Leerder se geboortesertifikaat

Leerder se mees onlangse rapport

Bewys van woonadres

Gr. 1’s by die Laerskool Elarduspark in Pretoria. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Ouers en voogde wat nie tuis toegang het tot die aanlyn stelsel nie, kan aansoek doen by een van 34 sentrums in verskillende gebiede waar hulle gehelp sal word om aansoek te doen,” het Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, gesê. ʼn Lys met besonderhede van dié sentrums is op die departement se webwerf beskikbaar.

Die departement het verlede jaar nuwe regulasies bekendgemaak waarvolgens aansoeke en plasing van leerders by skole in Gauteng moet geskied. Dié regulasie bepaal dat leerders wat die naaste aan skole woon, voorkeur geniet bo leerders wat verder woon.

Talle ouers het egter verlede jaar gekla dat hul kinders nié plek in ʼn bepaalde skool gekry het nie, al woon die leerder ʼn paar meter van die skool af.

Gauteng ervaar ook ʼn tekort aan skole in bepaalde gebiede en dié skole ontvang gewoonlik binne die eerste paar uur vandat die aansoekproses begin amper dubbel soveel aansoeke as waarvoor die skool plek het. Mabona het ouers egter verseker dat leerders wat eerste aansoek doen nié noodwendig eerste geplaas word nie en dat dit dus nie nodig is om binne die eerste uur reeds aansoek te doen om plek in ʼn skool nie. Maar Buys sê die SOS moedig ouers steeds aan om so vinnig moontlik aansoek te doen, aangesien die beginsel van ‘eerste in tyd, eerste in reg’ ʼn algemene regsbeginsel is. Leerders wat eerste aansoek doen en aan al die kriteria voldoen, moet dus voorrang geniet bo ʼn leerder wat later aansoek gedoen het.

Die kriteria waarvolgens leerders in ooreenstemming met die nuwe regulasies geplaas word, is soos volg:

Opsie een: Die ouer se woonadres is naaste aan die skool.

Opsie twee: Indien die leerder ʼn broer of suster in die betrokke skool het of as die leerder se vorige laerskool in die betrokke hoërskool se voedingsgebied val.

Opsie drie: Die ouer se werkadres is in die skool se voedingsgebied.

Opsie vier: Die ouer se woonadres is nie binne die voedingsone nie, maar wel binne ʼn 30 km-radius van die skool.

Opsie vyf: Die ouer se woonadres is verder as 30 km van die skool.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.