Doen voornemens in staatsrede gestand, sê suikerbedryf

Die regering kan heelwat meer doen om die suikerbedryf van sy probleme te verlos. (Argieffoto: Tongaat Hulett)

Die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers is in afwagting op president Cyril Ramaphosa se staatsrede wat hy later gaan lewer.

Dié organisasie is van mening dat die regering die afgelope jaar nie gehoor gegee het aan een van sy versoeke van ʼn jaar gelede nie.

Die suikerbedryf het deur ʼn moeilike tyd gegaan en beleef steeds die nagevolge van die ekonomiese verwoesting wat deur die Covid-19-pandemie en die onrus in Julie 2021 veroorsaak is.

“In sy staatsrede verlede jaar het Ramaphosa die Suid-Afrikaanse regering, sakeondernemings en georganiseerde arbeid aangemoedig om plaaslike produkte te koop. Terwyl die private sektor, waaronder Proudly South African en die Shoprite-groep, die voortou geneem het in die ondersteuning van die plaaslike suikerbedryf, blyk dit dat die regering agter gebly het,” sê Andrew Russel, voorsitter van dié vereniging.

“In vanjaar se toespraak is dit noodsaaklik dat die president weer melding maak van die regering se verpligtinge ingevolge die Suid-Afrikaanse suikerrietwaardekettingmeesterplan. Dit sluit in dat staatsdepartemente en staatsentiteite slegs plaaslik geproduseerde suiker moet verkry.”

Russel sê verlede jaar se oproep om plaaslike produkte te koop, was deel van die president se aankondiging dat die regering aksie sal neem om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel, groei te bewerkstellig en werk te skep. Die president se tweede prioriteit was om plaaslike produksie te ondersteun as deel van ’n lokaliseringsaksie, sodat dit noemenswaardig sal toeneem.

“SA Suikerrietkwekers deel die president se kommer oor ekonomiese herstel, groei en werkskepping en ons glo in die suikerrietwaardekettingmeesterplan se potensiaal om hierdie resultate te lewer. Om dit te laat slaag benodig ons wel samewerking van al die ondertekenaars van die meesterplan.

“In Desember 2020 het ons die Home Sweet Home-veldtog van stapel gestuur om verbruikers aan te moedig om plaaslik vervaardigde suiker te koop. Dit is bemoedigend dat Proudly SA en die Shoprite‑groep albei die afgelope jaar as vennote by die veldtog aangesluit het.”

Hy sê die ondersteuning van Suid-Afrikaanse verbruikers was ook bemoedigend. “Ons is bly om te sê dat die bedryf die eerste jaar se teiken oorskry het, wat gepoog het om ʼn aanvraag van 150 000 ton suiker te herstel. Die bedryf het inderwaarheid ʼn bykomende 200 000 ton versprei.

In die 2020 – ’21 finansiele jaar het die bedryf 2 028 174 ton suiker geproduseer.

“Nou is ons visier op die driejaar-teiken van 300 000 ton, maar om dit te doen moet die president verseker dat die regering ook sy verpligtinge nakom deur plaaslike suiker in al sy departemente en staatsentiteite te bevorder.”

Volgens die Suikerrietkwekers is die herstel van die suikerbedryf van kardinale belang vir die ekonomie in die algemeen, maar ook vir landelike gemeenskappe in KwaZulu-Natal en Mpumalanga, waar dit ’n belangrike werkverskaffer is.

Die bedryf het meer as 22 000 boere, van wie 21 581 kleinskaalse boere is, wat meer as 65 000 werkers regstreeks in diens het en 270 000 onregstreekse werksgeleenthede skep. Meer as een miljoen mense is van die suikerbedryf afhanklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Ons almal weet die anc gee nie ‘n duit om vir die ekonomie en werkskepping nie. Hulle maak baie geluide maar daar is geen aksie nie.

annie ·

… nou drink ons ongesonde chemiese suiker en soet suikerriet vrot op die lande… Cyril sal gestand doen aan al sy beloftes van laasjaar with fingers crossed… Die eerste ou wat moet waai is ons plakkies-minister van handel en nywerheid wat net belangstel in maskers, gel en enstof sonder ‘n wesenlike uitvoermark wat soos die selfoonmaatskappy ‘n stille dood sal sterf en weer eens biljoene gone with the wind.

JohanCzu ·

Alle suiker is ongesond en behoort nie ingeneem te word nie.

Swerwer ·

Asseblief, alles wat uit die President se mond kom vannaand moet met ‘n knippie sout geneem word. Ongelukkig bestaan daar nie ‘n ekonomiese herstel vir ons land terwyl die ANC aan bewind is nie en nog minder enige hulp tot suikerbedryf, vee bedryf, saai bedryf, wisselboerdery, want hul vermoor en val hul eie mense (opkomende boere) ook aan.

JohanCzu ·

Watmy betref behoort suiker vir menslike gebruik heeltemal verban te word. Feitlik alle siektes het ‘n direkte verband met die verbruiker se swak gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.