Dogter help sterwende pa se droom verwesenlik

Jo Black saam met Marius Botha by die konsert. (Foto: Verskaf)

Dit was vir Chriszelda Steyn soos ʼn vuishou in die maag toe sy in Maart vanjaar die diagnose hoor. Die kanker is terug – fase 4 – en dit het versprei na haar pa se longe, nekwerwels, lewer en kolon. Hy is terminaal en het dalk ʼn jaar oor. Of minder.

Vir die 32-jarige Steyn het dit net een ding beteken. Sy sou moes vinnig spring om haar pa se droom om sy gunstelingsanger, Jo Black, op die verhoog te sien, te verwesenlik.

Marius Botha is op 24 Desember verlede jaar met nierkanker gediagnoseer. “In Januarie het dokters die nier met die gewas verwyder en bloeduitslae drie weke later het gewys hy is skoon,” vertel Steyn. “Maar in Maart het hy erge pyn in sy rug ervaar en hy is terug dokter toe. Die kanker was terug, in sy long en nekwerwels. Twee van sy nekwerwels was toe reeds deur die kanker weggevreet.”

Dokters het dadelik begin met behandeling, maar die kanker was aggressief en het blitsvinnig versprei. Tans is Botha se hele ruggraat, albei longe, lewer, kolon, en van sy beendere met kanker besmet. “Hy is by tye baie deurmekaar, so ons vermoed dat die kanker dalk ook na sy brein versprei het, maar dit is nog nie deur ʼn skandering bevestig nie,” sê Steyn.

Jo Black, Chriszelda Steyn en haar pa, Marius Botha, by die konsert. (Foto: Verskaf)

Sy het dadelik begin planne beraam om haar pa, so onmoontlik as wat dit gelyk het, by ʼn Jo Black-konsert te kry. Steyn het Black se agent gekontak en die bal is aan die rol gesit vir Botha om Black se Optog Toer-vertoning by te woon op 4 Junie in die ATKV Skoffelskuursaal in Hartenbos.

Steyn, wat self ʼn amateursanger is, het Black se agent gevra of sy een liedjie dié aand saam met hom vir haar pa kan sing, aangesien dit dalk die laaste keer is wat haar pa haar op die verhoog sal kan sien. Black het op dié versoek sommer ingestem dat Steyn die konsert met twee liedjies van haar eie open.

“Alles was ʼn groot verrassing en my pa het van niks geweet nie. Die oggend van die konsert het my ma, Louisa, my gebel en gesê dit sal nie vir haar moontlik wees om my pa daar te kry van hul huis in Herbertsdale nie. Hy is baie swak en op suurstof en sy sal nie alleen met hom Hartenbos toe kan reis nie. Ek het in trane uitgebars, want daar het reeds so baie moeite ingegaan om dit moontlik te maak,” sê Steyn.

Daar was egter nie sprake van moed opgee nie en Steyn het haar tot Facebook gewend om te vra of iemand moontlik finansieel sou kon bydra sodat ʼn ambulans Botha die aand tussen Herbertsdale en Hartenbos vervoer. Die koste hiervan was groot, maar die gemeenskap se welwillendheid nog groter en voor Steyn haar oë kon uitvee, was die ambulans betaal én daar was nog geld oor om ander mediese onkoste te dek.

Die ambulansdiens By Grace EMS het ʼn ambulans gestuur om Botha by sy huis te gaan haal en na die saal op Hartenbos te bring, terwyl Kansa se Oudtshoorn-tak ʼn rolstoel geskenk het vir gebruik op die aand.

“Toe hulle my pa uit die ambulans tel, het ek hom gevra of hy weet waar hy is. Hy het gesê hy gaan nou vir Jo Black sien. En toe vertel ek hom ek gaan ook vir hom sing en dit is deel van die verrassing. Dit was so ʼn ongelooflike oomblik,” sê Steyn.

Chriszelda en haar pa, Marius Botha, op haar troudag. (Foto: Verskaf)

Voor sy gesing het, het Steyn ʼn brief aan haar pa voorgelees wat sy spesiaal vir dié oomblik geskryf het. “Ek is trots om Pa se dogter te wees, trots om Pa as my pa te hê. So moeilik as wat dit is om my held te laat gaan, sal ons oukei wees. Ons gaan Pappa vreeslik baie mis, maar Jesus het Pappa nou nodig. Pappa mag gaan rus.”

Voor Black begin sing het, het hy afgestap om Botha se hand te skud en met hom te gesels. “Jo het sy hart so oopgemaak teenoor my pa en vir hom gesê dat hy vir hom bid. Daar is geen woorde om my dankbaarheid teenoor daardie man en sy span te verwoord nie. Ondanks sy roem is hy plat op die aarde met ʼn hart van goud,” sê Steyn.

Black sê op sy beurt die aand het hom net weer laat besef dat elkeen dankbaar moet wees vir dit wat ʼn mens het. “ʼn Mens besef net weer jy moet familie naby aan jou hou. Tyd is iets wat ʼn mens nie kan koop nie,” sê hy.

Ja, sê Steyn, die nag is beslis nou op sy donkerste. “My pa is basies bedlêend. Hy is baie swak en kan glad nie meer uit die huis gaan nie. Hy kan ook nie chemoterapie kry nie omdat hy net een nier het. En by tye is hy baie deurmekaar en het gereeld koors. Die prentjie wat die dokters sien, is nie mooi nie.”

Maar sy glo steeds aan ʼn wonderwerk, sê sy. “Ek weet ons moet afskeid neem, maar ek weet ook wonderwerke gebeur wanneer jy dit die minste verwag. En ek sal ewig dankbaar wees dat ek hierdie droom van my pa kon bewaarheid en op dié manier iets aan hom kon teruggee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Sandra ·

Chriszelda dit was ‘n wonderlike gebaar aan jou pa. Jy sal nooit spyt wees oor die moeite nie. As hulle eers weg is, wens mens jy het nog meer gedoen toe hulle geleef het. Dood is soos ‘n oorloop van een vertrek na ‘n ander na die ewigheid. Dis die wat agterbly wat swaar kry. Sterkte vir julle almal.

Lee ·

Ai dis so mooi. Baie hartseer. Ons dink aan julle Chriszelda in die tye wat voorlê. Baie sterkte oom Marius Botha. Mag God met jou wees en julle almal styf vashou in die tye wat voorlê. xx

Helena. ·

Wat n pragtige gebaar van n kind wat nog die waarde van n ouer ken en waardeer. God seën jou ryklik..en sterkte aan julle almal.

Nelia van Zyl ·

Baie sterkte. Ons bid vir julle vir kalmte , vrede en krag.

chris p ·

hoe wonderlik is dit nie as n kind so vir sy/haar ouer omgee nie.
het sommer baie trane in my oe gekry,
weereens besef hoe gelukkig party ouers is om sulke kinders in
hulle lewe te he.

Corine ·

Sterkte vir julle. Ek is in trane. My pa verloor 2 jaar terug en nogsteeds baie moeilik. Kyk op na die Vader en jul sal krag kry en ‘okey’ wees. Bid vir julle. Hou net al hoe meer van Jo. Jy is amazing en het n hart van goud…

Santie ·

Sjoe maar die tranne loop nou . Jo black is n baie goeie mense met n baie goeie hart , my vriende was mal oor hom ook .Maar ongelukkig het my vriend ons verlaat en het Jo black sy begrafnis by gewoon.

Hanlie ·

Chriszelda , ek glo jou ouers is wonderlik om so ‘n pragtige kind soos jy te kan he. Jy is beslis met baie liefde en die regte opvoeding groot gemaak. Baie dankie dat jy so ‘n wonderlike daad vir jou Pa gedoen het. Dankie Jo Black dat jy altyd daar is om iemand te help. Ek salueer julle. Sterkte vorentoe Chriszelda en familie.

Vlam ·

Ek is baie jammer om van jou pa se kanker te hoor. Ons het my pa in ‘n oogwink verloor as gevolg van kanker, die dokters het dit te laat opgetel en hy is dieselfde naweek oorlede daaraan. Aan die eenkant is ek dankbaar laat daarso geen leiding was nie, maar aan die ander kant daarso was nog so baie dinge wat ons saam wou gedoen het. Sterkte vir julle vorentoe en mag jou wonderwerk plaasvind

Chriszelda Steyn ·

So jammer vir julle verlies, ek weet regtig nie hoe mens deur so iets kom nie, gelukkig het jou pappa nie gely nie, myne doen en dit maak nog seerder. Sal bid vir julle ook vir kalmte. Xxx

Chriszelda Steyn ·

Baie baie dankie almal! Waardeer almal se mooi woorde. Ek sal bly bid en glo vir n wonderwerk. Ek is nog nie gereed om my pappa te laat gaan nie.

Marlene ·

Ek is in trane en is so bly jy het deur gedruk en alles moontlik vir hom gedoen. My pa het so 3maande gelede sy stryd teen kanker verloor en ek wens nog elke dag dat ek net nog een keer sy stem en lag kon hoor. Sterkte dis n moeilike tyd wat voorle.

Sterkte ·

Baie, baie strekte. Ek dink aan en bid vir jou, jou Pa en julle gesin. Jy is ‘n wonderlike dogter vir jou ouers en ‘n baie sterk vrou. Sterkte virentoe die pad sal nie maklik wees nie, maar Pappa God sal saam met jou loop.

Thomas ·

Mens sal nooit gereed wees nie. Die verlies van ‘n ouer is enorm. Uiteraard bid ek vir genesing. Maar weet dit – ons dink aan jou. En jou pa. Glo dit.

Pa se dogter ·

Ek en my gesin was daar die aand.was wonderlik om te sien hoe n dogter haar pa eer.ek is ook n dogter van die mees amazingste pappa.en aan Jo Black jy raak soveel mense aan met jou wonderlike hart en ek voel so ge eerd om n show van jou te sien.jy het my oe weer oopgemaak en besef ons almal moet elke dag voluit lewe.sterkte chriszelda en jou gesin.ek bid dat God vir julle sal dra deur hierdie moelike tyd

Chriszelda Steyn ·

Baie baie dankie. En dankie dat jul ook daardie spesiale oomblik saam met ons kon deel. Soos ek sê ek bid steeds vir n wonderwerk dat my pappa nog sommer baie van my shows sal kan bywoon. Xxx

madels ·

Ek het omtrent nou gehuil. Mag die Here jou pappa genadig wees en hierdie wonderwerk laat gebeur.

Patat ·

Wow ek is hoendervleis waar ek sit en lees… ongelooflike trots kom in my op vir Chrizelda en Jo Black en sy span… dankie vir die deel en julle is awesome …

Jo Black Fan ·

Wow wat ‘n mooi gebaar! Het trane in my oe……..sterkte Chriszelda en familie!
Jo Black – jy het ‘n hart van goud!

Chriszelda Steyn ·

Baie dankie Petat. Hou maar dop, ek gaan my pappa nog meer trots maak. Ek sal nie moed opgee met my musiek nie! Nooit nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.