Dogter kom op ouers se liggame af

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

ʼn Polisiebeampte en haar man is Dinsdagaand buite hul huis naby Edendale buite Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die beampte, konst. Nobukhosi Msimanga (39), en haar man, Thabo Msimanga (47), het omstreeks 21:00 buite hul huis in Draaihoek gestaan. Nobukhosi, wat by die Alexandra Road-polisie gestasioneer was, was nie aan diens nie.

“ʼn Onbekende aantal verdagtes het die egpaar genader en op hulle losgebrand, waarna hulle van die toneel gevlug het. Hul dogter het die skote gehoor, gaan ondersoek instel en op haar ouers se liggame buite die huis afgekom,” het Naicker gesê.

Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en word ondersoek. ʼn Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Genl.maj. Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het die moorde streng veroordeel.

“Ons sal nie die uitwissing van ons polisiebeamptes duld nie. Ons sal hierdie ondersoek noukeurig monitor om te verseker dat diegene wat betrokke is by hierdie gruwelike moorde aangekeer word om die gevolge van hul dade te dra,” het Langa gesê.

Langa het sy innige meegevoel met die oorledenes se familie, vriende en kollegas betuig.

Die Plessislaer-polisie ondersoek twee sake van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stoffel ·

Ai, net vanoggend dink ek was daar n artikel oor n paar wat vasgetrek was i.v.m. n moord op n polisie beampte, en daar word nog een dood geskiet

Lee ·

Die arme dogter. Sterkte aan die familie. Rus sag Mnr & Mev. Die kriminele is besig om SA oor te vat. Daar sal ‘n drastiese plan moet kom.

Cherokee ·

Wat beteken dit wanneer gesê word dat so en so ‘n kriminele daad streng veroordeel het? Berigte loop oor van kriminaliteite wat deur een of ander spreker ‘streng veroordeel word’ maar die betekenis daaragter is nie duidelik nie. Dit blyk geen doel te bereik nie. Klink soos ‘n sinnetjie om die berig meer woorde te gee. Snaaks dat die mense wat in so gereeld sê dat mens nie mag oordeel nie, tjoepstil is daaroor.

MT ·

Destyds as ‘n polsiebeampte doodgemaak was is die skuldige die doodsvonnis opgesê. Daar is geen beheer in ons land meer nie. Die tronke is vol en die kerke is leeg. Dis hartseer. Ek kry skaam vir my land! Moord, diefstal, bedrog. SA die crime mecca!

Ag asb!!! ·

“Ons sal nie die uitwissing van ons polisie beamptes duld nie”….wat n grap!!! Se eerder “ons sal nie die uitwissing, van plaas eienaars,wit boere, verkragting,moord,toy toy, brand,verplunder,en en en nie duld nie”!! Nou hammer julle NET op n polisie beampte. Shame on you!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.