Dogter praat oor hel in die Springs-gruwelhuis

Landi se storie is een wat jou met skok en afgryse vul en jou laat wonder hoe so iets vir jare kon aangaan sonder dat enigiemand daarvan weet. Foto: Herman Verwey.

Deur Mariné Lourens

Die jong vrou wat voor my sit glimlag beleefd, maar is ooglopend gespanne. Van agter haar bril kyk sy na my met treffend mooi blou oë en haar lang hare val natuurlik oor haar skouers.

Sy lyk soos enige ander jong vrou, maar ek weet sy is nie sommer enige jong vrou nie. Sy is Landi*, die oudste van die vyf kinders wat ná jare se mishandeling en marteling uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is.

Dit is nou vyf jaar later en Landi is 21 jaar oud en uiteindelik gereed om haar storie te vertel. Haar lewe in die gruwelhuis is vervat in ʼn boek, Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel. Die boek, geskryf deur Susan Cilliers, is pas bekendgestel.

Landi se storie is een wat jou met skok en afgryse vul en jou laat wonder hoe so iets vir jare kon aangaan sonder dat enigiemand daarvan weet. Maar dit is ook ʼn storie van innerlike krag en ʼn bewys dat selfs die grootste berge geklim kan word as jy dit tree vir tree doen.

“My storie is ʼn storie van hoop,” sê sy. “Ek het besluit dat dit daar buite moet wees, want daar is baie mense wat in dieselfde situasie was as waarin ek was – dalk nou nog is. Ek wil hê mense moet weet daar is altyd ʼn manier uit. Waar jy nou is, hoef nie jou toekoms te bepaal nie.”

Vasgevang saam met ʼn monster

Dit was in Mei 2014 dat die skokkende gebeure wat jare lank afgespeel het agter die mure van die kasarm van ʼn huis in Springs vir die eerste keer aan die lig gekom het. Landi se oudste broer, toe 11 jaar oud, het uit die gruwelhuis ontsnap en hulp gaan soek.

Die vyf kinders se ouers is kort daarna in hegtenis geneem op ʼn reeks aanklagte wat met die mishandeling en verwaarlosing van hul kinders verband hou. En toe die hofsaak begin, het die geraamtes onkeerbaar uit die kas begin tuimel.

Die hof het gehoor hoe Landi se pa, wat later deur die media “die Springs-monster” gedoop is, sy kinders en vrou in die huis in Springs gevangene gehou het. Die kinders het nie skoolgegaan nie en is verbied om ooit die huis te verlaat. Terwyl hul pa bedags by die werk was, het hy deur middel van 37 kameras in en om die huis dopgehou wat hulle doen.

Landi se ma moes elke dag saam met haar pa werk toe gaan sodat hy volle beheer oor haar bewegings kon hê. Die onus het dus op Landi geval om na haar jonger broers en susters om te sien en vir hulle ʼn ma te wees.

Maar dit was wanneer hul pa by die huis gekom het dat die kinders se tronk hul hel geword het.

Landi en haar oudste boetie is gereeld aangerand, met ʼn blaasvlam gebrand en hul koppe onder water in die bad gedruk sodat hulle byna verdrink. Soms moes hulle ʼn hele nag lank in bad vol yskoue water sit en bibber totdat hul pa besluit dit is nou genoeg. Ander kere het hul pa ʼn skokstok in die water gedruk sodat die skokgolwe deur hul lyfies ruk. As hulle probeer wegkom het, is hulle met ʼn gaspistool geskiet sodat die klein harde korreltjies deur die vel bars.

Een aand het die oudste boetie, toe slegs tien jaar oud, probeer wegkom en in ʼn holte onder die huis se vloer gaan wegkruip. Sy straf was om ʼn nag lank met boeie aan sy hande en voete tussen twee pilare vasgebind te word terwyl emmers koue water oor hom uitgegooi word. Daarna het sy pa die waaier op hom gedraai om dit nóg kouer te maak, hom met pepersproei in die gesig gespuit en herhaaldelik die skokstok teen sy nat lyf gedruk terwyl hy kreun van die pyn. Die marteling het eers geëindig toe sy pa gereed gaan maak om werk toe te gaan. By die werk het niemand geweet wat die Springs-monster by die huis doen nie.

As Landi se pa se vriende kom kuier het, moes sy hulle bedien. Landi vertel dat sy by tye gedwing is om ʼn lyn cat te snuif sodat sy kan wakker bly om heelnag drankies aan te dra. Tussendeur moes sy huis skoonmaak, kos maak (die dae wat daar wel iets was om te eet) en na haar boeties en sussies omsien.

Maar die monster het altyd net nog behoeftes gehad wat sy moes vervul. Sy was 15 jaar oud toe die seksuele aanranding begin het.

Landi se storie is een wat jou met skok en afgryse vul en jou laat wonder hoe so iets vir jare kon aangaan sonder dat enigiemand daarvan weet. Foto: Herman Verwey.

ʼn Nuwe normaal

“Eers toe ons van ons ouers weggevat is, het ek besef dat wat met ons gebeur het, nie reg was nie,” erken Landi. “Ek het aanvanklik gewonder hoekom ons weggevat word van ons ma en pa af, wat is fout met wat gebeur? Ek het gedink dit is normaal. Dit het omtrent twee jaar gevat voor ek besef het dit is verkeerd en die waarheid begin vertel het in my polisieverklarings.”

Sy vertel dat sy op die oomblik toe hulle van hul ouers verwyder is, bang en kwaad was. Kwaad vir haar boetie wat gaan hulp soek het, bang vir die onbekende en kwaad vir hierdie vreemdelinge wat hulle hele bestaan kom omver gooi. Sy wou net gehad het dat alles moet terugkeer na normaal.

“Ek het gedink dinge gaan nou net moeiliker wees as ons weer by die huis kom. Ek het gedink ons gaan net ʼn paar dae bly hier waar ons is en dan gaan my pa ons weer kom haal, en dan is dinge net erger omdat mense nou uitgevind het wat aangaan. Vir my was dit die normaal. So toe my boetie weghardloop, het ek gedink hoekom doen hy dit? Hy het nou alles opgemors. Nou is daar niks meer vir ons nie.”

Sy verduidelik dat dit deels ook was hoekom sy nooit probeer het om te vlug of hulp te soek nie. “Natuurlik was daar die vrees. Ons was verskriklik bang vir my pa en het geweet as hy moet uitvind ons praat met iemand hieroor gaan daar nog groter moeilikheid wees. Maar dit was ook vir ons normaal. Wat hy besig was om met ons te doen, was vir ons oukei. Ons het gedink dit is hoe ons gestraf word as ons stout is. So hoekom sou ons weghardloop, hoekom sou ons iemand gaan sê as dit is hoe dit moet wees?”

Landi sê toe sy nog in die huis gevangene gehou is, het sy gedink haar toekoms sal waarskynlik behels om haar broers en suster groot te maak en dan haar ouers te versorg wanneer hulle oud is. Sy het nooit daaraan gedink dat sy ooit sou skool toe gaan, sou trou of ʼn gesin van haar eie sou hê nie.

“Noudat ek terugkyk, is ek geskok dat ek kon glo [dit is normaal]. Dat ek kon dink dit is hoe ʼn verhouding tussen ouers en kinders moet wees. Dat ek gedink het dit is hoe verhoudings tussen broers en susters moet wees. Ek is regtig geskok dat ek so iets sou glo.”

Om die waarheid te sê, erken Landi, wanneer sy praat oor dít wat in daardie huis gebeur het, is dit soos om ʼn boek wat sy gelees het vir iemand oor te vertel. “Dit is nie meer werklik nie. Dit is nou deel van my verlede. Dit is nie meer deel van waar ek nou is of waarheen ek op pad is nie. Ek het dit klaar verwerk en ek dra dit nie meer saam met my nie. So dit voel letterlik soos ʼn boek wat ek gelees het en nie my eie storie nie.”

“Ek gaan nie om ʼn jammer te kry nie. Ek gaan net gaan om vir hom te sê ek het hom vergewe en wat gebeur het, is in die verlede. Dit is nou verby. Ek wil dit nie doen vir hom nie, maar om myself vry te maak daarvan.” Foto: Herman Verwey.

Vergifnis

Op 3 Oktober verlede jaar is die Springs-monster tot effektief 35 jaar tronkstraf gevonnis vir onder meer die mishandeling en verwaarlosing van sy kinders, poging tot moord op sy seun, verkragting van sy dogter, en besit en handel van dwelms.

Elf maande later het Landi nog nie weer met haar pa gepraat nie. Sy beplan egter om hom binnekort in die tronk te besoek.

“Ek gaan nie om ʼn jammer te kry nie. Ek verwag nie ʼn jammer of ʼn verduideliking vir hoekom hy gedoen het wat hy gedoen het nie. Ek gaan net gaan om vir hom te sê ek het hom vergewe en wat gebeur het, is in die verlede. Dit is nou verby. Ek wil dit nie doen vir hom nie, maar om myself vry te maak daarvan.”

Dit klink amper onwerklik om te dink dat Landi die man kan vergewe wat haar kinderjare op so gruwelike manier gesteel het. Maar sy het haar vrede by God gevind. “As ek dit die res van my lewe saam met my dra, gaan dit ʼn las wees wat my seerder maak as vir hom. Ek het tot die besef gekom ek het nie nodig om dit saam met my te dra nie,” sê sy.

“Dit was ʼn moeilike proses. Dit was nie ʼn one time thing nie. Dit is iets wat ek oor en oor moes doen, wat ek nou nog moet doen. Maar ek kan sê ek het hom vergewe.”

Landi erken die proses om haar ma te vergewe, is moeiliker en iets waarmee sy nog worstel. Sy vertel sy was baie kwaad toe haar ma slegs ʼn opgeskorte vonnis opgelê is. “Dit het vir my gevoel dit is onregverdig. Ja, sy het nie alles gedoen wat hy gedoen het nie, maar ek voel sy was net so skuldig. Dit was vir my moeilik om dit te aanvaar. Ek het gevoel as een hier af in die donker gangetjie moet inloop, moet die ander een ook. As een hier bo vry rondloop, mag die ander een ook. Dit is iets wat ek nog besig is om deur te werk.”

Haar verhouding met God, is egter reg, sê Landi. Sy was nooit kwaad vir God oor wat met haar gebeur het nie, en sy vra nooit hoekom sy en haar broers en susters dit moes deurgaan nie.

“Toe ons in die huis gebly het, was die Here nie deel van ons huishouding en ons lewe nie. Ek het geweet daar is ʼn Jesus en daar is ʼn boek, maar ek het nie eintlik van die Here geweet nie. Toe ek uit die huis kom, toe leer ek die Here ken. Dit is toe Hy deel geraak het van my lewe. Ek het hom nooit kwalik geneem nie, want Hy is die rede hoekom ek daar uit is en hoekom ek vandag hier kan sit.”

En die jong vrou wat hier sit, is ʼn ander mens as die bang tienermeisie wat op 20 Mei 2014 uit die gruwelhuis gestap het. Sy is selfstandig, selfgeldend en nie bang om haar stem te laat hoor nie.

Landi wil graag somatologie studeer en hoop om eendag haar eie sakeonderneming te begin. En ja, sy wil beslis eendag trou en kinders kry, sê sy. Kinders wat sy sal grootmaak met die liefde en die geborgenheid wat sy nooit geken het nie.

“Ek het geleer ek het baie om te gee, iets wat ek nie daardie tyd besef het nie. Dit is nou my beurt dat mý stem gehoor word. Ek voel daar is groot planne vir my. Ek weet nog nie wat dit is nie, maar ek vertrou die Here en ek weet Hy weet waarheen ek op pad is.”

*Landi se van mag volgens wet nie bekendgemaak word nie om die identiteit van haar minderjarige broers en susters te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Magdalena ·

Dankie Landi. Ek haal my hoed vir jou af. Vergifnis maak ons vry.
Sterkte met jou studies.
Jy sitter Reeds.
Baie liefde vir jou.

sanet ·

Liewe Landi wat n verhaal , ek sal graag jou boek wil lees, Jy is so geseend om bevryding te kan kry en ons dank Ons Vader wat jou styf vas hou met al Sy Liefde en Genade , Jy is so inspirasie vir baie wat in dieselfde situasie is as wat jy was, en Vergifnis maak ons vry , en jy het vergewe , mooi bly en alles wat mooi is vir jou in die toekoms, Liefde

Cindy ·

Dis amazing dat Landi haarself gevind het en nog meer amazing dat sy God gevind het. Dis n groot jammer wat met die kinders gebeur het en ek hoop dat elkeen van hulle n pad sal vind dat hulle gewys word dat nie alle mense monsters is nie.

Wilma ·

Mag Jesus jou ALTYD in die Holte van SY Hand hou. Mag jy die Vrede, Vreugde en Verlossing vind waarna jy so lank gesmag het. Jy is ‘n pragtige jong vrou met ‘n blink nuwe toekoms voor jou. Hou vas aan Hom… xx

Willem ·

God het gese: “Jy is myne, Ek het jou by jou naam geroep”

Pieter, Weskaap. ·

Landi se oorgawe aan die Here is ‘n wonderlike getuienis van JESUS CHRISTUS se oorwinnende krag in die lewe van ‘n mens, die krag wat haar in staat gestel het om haar pa te vergewe vir wat hy aan haar en die ander kinders, en hul ma, gedoen het.
Loof die Here!

wonder maar net ·

Jy is ongelooflik om hom te kan vergewe… mens wonder net hoeveel sulke ander huishoudings is daar waarvan niemand weet nie en waardeer daar die kindertjies moet gaan? Sien jy jou broers en susters en gaan dit goed met hulle….? Ek bid net dat die liewe Vader sal hulp gee waar nog sulke gevalle is. Sterkte met jou lewe voorentoe!!

Morrie ·

Wat n mooi getuienis. Ja, heeling kom eers na vergifnis en jy doen die regte ding. Bid tot God dat jy jou Ma ook kan vergewe soos jy jou Pa vergewe het. Blessings Landi.

susan ·

Landi jy is waarlik n kind van God, Sy hand is altyd daar vir ons. Jy is vry en jy wil voortgaan-jy sal suksesvol in alles wees en is alreeds.
Wonderlik en mag jy net meer en meer God se seen op jou kry.
Die wereld en almal daar buite is trots op jou en jy is “great

Anoniem ·

GOOD triumphs over EVIL. Eventually.

So bly jy het die Here leer ken. Ek hoop dit ook vir jou sibbe.

Genieve ·

Only GOd can heal a broken heart..wow landi wat n getuie mag die Here jou omvou met sy kosbare liefde.

Liza ·

What a girl…. ek bid jou net seeninge toe… Jy is een ongelooflike mensie…

jakes ·

Wat n ongelooflike storie. God se groot genade het hulle gered uit die kloue van die satan.
Die feit dat Landi hom vergewe het toon dat sy God se opdrag nakomom te vergewe, n eienskap wat nie maklik is om oor te beskik nie. Haar pa moes hordes demone in hom gehad het en hopelik sal hy dalk sy persoonlikheid kan verander in die tronk. Net die tyd sal leer.

E.K. die eerste ·

Ek het die grootste respek en bewondering vir jou. Ek huil steeds in my hart vir jou en jou broers en susters. Ek bid genade jul almal toe sowel as ‘n baie mooi en vredevolle toekoms. Mag jul net liefde, blydskap en seen ervaar.

Carien ·

:) Liewe Landi, toe ek hierdie lees, was dit met afgruise oor wat julle pa gedoen het. Dit moes die ergste erg vir julle kinders gewees het. Maar met verwondering lees ek hoe jy God onvoorwaardelik as jou Verlosser aangeneem het, en dat jy nooit vir Hom kwaad was nie. Jy het Sy hand gevat en loop ‘n pragtige pad saam met Hom. Ek loof die Here dat Hy jou en jou familie styf vashou. Vergifnis is seker die belangrikste in die lewe. En jy is reg, dit maak jou vry. Seën vir jou .

Anje ·

Ek bid vir jou en jou boeties en sussies net liefde en geluk vorentoe. Jul verdien dit dubbel en dwars!

EKKE ·

“Landi”. Dit is wonderlik dat jy nie handdoek ingegooi het nie. Ek bewonder jou. Tyd heel alle wonde. Hier is net weereens ‘n bewys dat ons tot alles in staat is, in Jesus wat ons die krag gee. Sterkte op jou pad vorentoe, en alles wat mooi is.

ryan ·

Genade…Ek kry ‘n knop in my keel. Ek kan nie glo dat iemand doen wat haar ouers gedoen het nie. Ek meen, ek as pa is onsettend lief vir my kinders en sal nooit eers kan dink om hulle aspris enigiets aan te doen nie. Ek stem saam, die moeder is baie baie belangrik in die grootmaak van haar kinders en is net so skuldig omdat sy dit kon toelaat. Ek weet dis nie moontlik nie, maar sou graag my hand wou uitstrek en die twee wou ondersteun.

Snip ·

Sjoe, dis verskriklik. My oë skiet sommer vol trane. *Landi*, baie dankie dat jy jou storie met ons te deel, maar ook baie braaf van jou om sterk te gestaan het. Julle verdien nie wat julle deurgemaak het nie en dank ek God dat julle kon wegkom. Sterkte vir alles wat op jul paaie mag kom. Mag jou drome waar word en jy elke dag sterker groei. So ook vir die ander kinders.

Adriana ·

Geluk met jou bevryding liewe mensie.
Ek is sommer lief vir jou al ken ek jou nie.
Solidariteit kan julle asb hierdie pragtige mensie help om te studeer?
Ek wens jou ewige vreugde toe.

Nig ·

Landi, mag jy net voorspoed en seën beleef op jou pad vorentoe…..en ook dieselfde vir jou ander boeties en sussies. Ek bid dat die hand van GOD julle tot in lengte van dae sal behoed en beskerm.

Jax ·

Landi – daar is so baie mense in ons land en in die wêreld wat elke bladsy van jou lewensverhaal moet lees en daaruit leer.
Baie sterkte met jou lewensreis. Mag ons Vader Sy hand hou oor jou en jou sibbe!
Ek hou julle in my gebede!

Ronel ·

#Landi: jy was en is nog steeds DIE sterk, helder STER! Jy is nou uit daai hel en jou lewe kan begin. baie sterkte.xx

wynand ·

Voorspoed liewe meisie – ek wens jou net die beste toe.
Jy verdien die absoluut BESTE!!!
Trots op jou!!!!

humor ·

Gedurende die mees donker ure met Christus aan die kruis en dit geblyk het dat hierdie sataniese orgie die oorwinning is, was God tog in beheer. In Landi se mees donker tye was HY ook in beheer en oorwing het gekom. Ek wens al haar mooi wense word waar en veral sy het eendag n gelukkige huwelik en eie mooi gesinslewe in diens van SY koninkryk Wat n uitsonderlike geleentheid sal dit wees om op so nmanier dankie te se.

Carolien ·

Jy is n sterk Godvresende vrou liewe Landi.
Ek bewonder jou.

Waarheid ·

Liewe mensie om die dinge te kon neerskryf was verseker moeilik maar dit is goed dat dit uitgekom het.
So het dit jou bevry.
Jy gaan so baie mense kan help omdat jy weet waaroor dit gaan en die regte trooswoorde sal kan gee.
Ek is ongelooflik trots op jou.
Ek hoop ook dat jou boeties en sussies ook ok gaan wees met tyd.
Sterkte met jou reis vorentoe!

Klip inni Bos ·

Jys n baie beter mens as ek my girl. Ek sallueer jou. Jou pad is oop.

Transvaalse nooi ·

5 jaar gelede,? Hulle is dan iewers verlede jaar gevang?

Rika ·

Baie sterkte aan jou mag die liewe Vader elke tree met jou saamstap. Daar gaan dae kom dat die herininge gaan terug kom maar weet dit sal ook verby gaan en dat hy saam met jou elke tree stap. Sterkte vorentoe

Louise van Deventer ·

Hierdie was al twee weke terug in huisgenoot gewees

Waarheid ·

En….jou punt is?
Baie menses lees nie Huisgenoot nie.
Ek ook nie so hierdie is vars nuus vir my.
Dankie vir die berig Maroela.

Hennie Stander ·

Uitstekend ook aan die skrywer van die boek, Susan Cilliers, wat Landi se verhaal vir ons almal ‘oopgemaak’ het. As skrywer moes dit ook Susan se lewe diep aangeraak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.