Dogter vas ná ‘moord’ op haar gesin

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

ʼn 20-jarige vrou wat glo vyf jaar gelede huurmoordenaars gevra het om haar ouers en sibbe te vermoor, is in hegtenis geneem en sal na verwagting Dinsdag in die Brits-landdroshof verskyn.

Die vrou, van die Mmakau-nedersetting, het volgens die polisie ʼn bekentenis gedoen dat sy haar familielede laat vermoor het.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê tydens die voorval op 6 Desember 2016 het die vrou, destyds 16 jaar oud, aangevoer dat sy na buite is om water wat sy gebruik het om skottelgoed mee te was, uit te gooi.

Terwyl sy buite was, het sy glo skote gehoor geklap en is sy terug na die huis om ondersoek in te stel. Die verdagtes het haar glo in die been geskiet en met die gesin se voertuig, ʼn Chrysler Voyager, gevlug.

Die dogter het by die bure gaan aanklop wat die polisie ontbied het, sê Funani.

Die polisie het die liggame van die 42-jarige pa, ʼn polisiebeampte, sy 40-jarige vrou, hul 18-jarige swanger dogter en sesjarige seun in ʼn plas bloed aangetref.

Die twee vermeende huurmoordenaars is Vrydag en Saterdag in onderskeidelik Brits en Soshanguve aangekeer. Hulle staan tereg op vyf aanklagte van moord en gewapende roof.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het die inhegtenisnemings verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SomeOne

“crime doesn’t pay”, 16 jaar oud, met sulke motiewe, sluit toe en vergeet haar daar