Dogters wag op afsluiting ná pa sterf

William Johannes Laing. Foto: Verskaf

Vier susters, wie se pa byna drie weke gelede dood is nadat die motor waarin hy tydens ʼn botsing was, aan die brand geslaan het, wag steeds op DNS-toetse om afgehandel te word voordat hulle hom kan veras.

William Johannes Laing (63), ʼn werknemer van Silicon Smelters, en sy buurman was saam in die voertuig toe dit die aand van 1 Julie omstreeks 22:00 op die N1-suid naby Polokwane met ʼn Range Rover gebots het. Die voertuig het in vlamme uitgebars en die twee mans se liggame is onherkenbaar verbrand.

Natascha du Toit, Laing se dogter, vertel sy het die volgende dag van die ongeluk op Maroela Media gelees, maar nooit geweet dat dit haar pa was wat in die ongeluk gesterf het nie. “Ons het laatmiddag ʼn boodskap ontvang dat my pa in ʼn motorongeluk oorlede is en dat die voertuig aan die brand geslaan het en toe het ek met ʼn skok besef dit is die berig wat ek daardie oggend op Maroela Media gelees het,” het Du Toit gesê.

Sy het gesê die familie het daarna probeer om deur die polisie uit te vind of dit wel hul pa was wat in die ongeluk gesterf het. Die Maandag het ʼn man by Laing se werk bevestig dat hul pa nie vir werk opgedaag het nadat hy 13:00 Vrydag huis toe is nie. Hy het gesê dit is Laing en nog ʼn man wat in die betrokke ongeluk gesterf het.

Die ongelukstoneel nadat dit opgeruim is. Foto: Verskaf

Die polisie het die familie bygestaan om DNS-toetse te laat doen om die identiteit van die oorledenes te bevestig. “Omdat hulle so erg verbrand het, moet die toetse gedoen word om hul identiteit te bevestig. Die ander man kon wel aan sy hare en neus uitgeken word,” het Du Toit gesê.

“Sy vrou het aan my gesê haar man en my pa het saam gery om iemand by ʼn bushalte te gaan haal. Sy sou saamgery het, maar het toe besluit om te bly. Sy het die hele nag vir hulle gewag om terug te kom en het gedink hulle het dalk besluit om self Vereeniging toe te ry om die persoon te gaan oplaai. Sy het eers die volgende dag van die ongeluk uitgevind.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van strafbare manslag is ná die ongeluk geopen.

Volgens Du Toit het die familie besluit om op 14 Julie ʼn gedenkdiens vir haar pa te hou aangesien hulle steeds wag vir die DNS-toetse om afgehandel te word. “Hulle het vir ons gesê die toetse sal so spoedig as moontlik afgehandel word,” het sy gesê.

“My pa se dood en die manier waarop dit gebeur het, was vir ons almal ʼn groot skok. Ons sal hom altyd onthou as iemand wat baie hardwerkend was en nooit teruggestaan het vir enige uitdaging nie. Hy was baie lief vir lees en visvang en sy gunstelingmusiek was Freddie Mercury. Ons gaan hom baie mis, maar ons weet dat hy nou op ʼn beter plek is.”

Laing word oorleef deur sy vier dogters, Natascha du Toit, Melody du Preez, Desire Nortje en Patricia Cilliers, asook agt kleinkinders en sy broer, Jimmy Laing. Sy vrou is in 2002 aan kanker oorlede.

“Ons familie wil graag dankie sê aan die Westenburg-polisiekantoor in Polokwane wat ons na die ongelukstoneel geneem en gehelp het met die DNS-toetse, asook Sanet de Beer van Avbob Polokwane wat alles so mooi hanteer het,” het Du Toit gesê. Sy het ook haar medelye en ondersteuning uitgespreek aan die familie van Laing se buurman wat ook in die ongeluk gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hannelie ·

My innige simpatie aan beide families. Mag jul die nodige vertroosting ontvang.

Susan ·

Net n Regstelling Willem Johannes Laing word agter gelaat deer sy 2de Vrou Selma Laing en sy 10 jarige dogter Elizma Laing. Wat baie getramatiseer is deer die voorval. Ons wil ook net vir Selma en Annetjie( Mike se vrou) en hul familie en vriende se baie Jammer oor jul verlies. En Sterkte.
voorentoe. En vir al die mense wat werksaam is by die lykshuis en Avbob en die Polisie wat vir Selma en Annetjie gehelp en nog steeds help wil ons net se baie dankie dat daar nog mense is wat omgee en hul bystaan en ondersteen in hul verlies. Daar le nog n moeilike tyd voor. En vir Robby en Gerhard wil ons net n baie spesiale dankie se vir jul hulp en bystand. Waardeer dit opreg baie. Baie Baie Dankie.

Natascha ·

Susan net n regstelling.
Niemand het gese Selma kan nie ook iets skryf nie.
Hierdie is dus van sy 4 dogters af.
So sy is welkom om te skryf as sy wil.

Leonie ·

Ai dis nie lekker nie. Sterkte aan beide families in hierdie moeilike tyd. xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.