Dokter byt man wat glo wil verkrag se tong

Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Foto: Google Maps

Veiligheidsmaatreëls by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein is verskerp ná ʼn man laat Dinsdagnag ʼn dokter op die perseel probeer verkrag het.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het gesê die dokter is oorrompel en het in ʼn daaropvolgende struweling die vermeende aanvaller (32) se tong gebyt. Hy het daarna op die vlug geslaan.

“Die verdagte is by die Nasionale Distrikshospitaal opgespoor, waar hy mediese behandeling gaan soek het,” het Mbambo gesê.

Hy is daar in hegtenis geneem en word onder polisiebewaking verder behandel. Die man sal in die hof verskyn sodra sy toestand genoegsaam verbeter het.

Personeel by die Pelonomi-hospitaal het intussen vandag gedreig om te staak weens kommer oor veiligheid by die hospitaal.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het gesê die uitvoerende hoof van die hospitaal, Baesi Ramodula, het met personeel, vakbondverteenwoordigers én die polisie vergader om die situasie te bespreek.

“Ons het ʼn omvattende assessering van die veiligheidsmaatreëls gedoen om te verseker ʼn voorval soos dié gebeur nie weer nie,” het Mvambi gesê.

Personeel is weer bewus gemaak van die nommer wat hulle kan skakel as hulle begeleiding deur stiller gedeeltes van die hospitaal en perseel benodig. Daar is ook gekyk of veiligheidspersoneel die nodige toerusting het om op noodgevalle te reageer.

“Hulle moet op enige soort bedreiging kan reageer, maar ons wil nie die hospitaal in ʼn militêre basis verander nie,” het Mvambi gesê.

Personeel is verseker dat die kringtelevisiestelsel behoorlik werk en beeldmateriaal van gisteraand se voorval is reeds aan die polisie oorhandig.

Hospitaalwerkers is ook weereens herinner om hekke behoorlik te sluit en altyd hulle identifikasiekaarte te dra om veiligheidsrisiko’s te beperk.

“Ons het die plan om veiligheid te verbeter aan personeel voorgelê, ook aan diegene wat vanaand nagskof moet werk,” het Mvambi gesê.

“Hierdie was nie ʼn kwessie van nalatigheid nie. Misdadigers wat wil kwaad doen, neem tyd om skuiwergate te identifiseer en buit dit uit.”

Veiligheidsopgradering sluit in maatreëls wat dadelik geïmplementeer kan word, asook mediumtermyn- en langtermynplanne.

ʼn Dokter is in 2010 by dieselfde hospitaal verkrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
HM

Ha ha ha dokter jy verdien n bells. Het seker gedink hy gaan wegkom. Bloem is maar net so groot. Vroeer jare was daar n sterk sekuriteit……..maar weer verander.

Chris Ws

10 uit 10 vir die’ dapper dokter!Sy moes net sy tong AF gebyt het.

danie

sies jou gemors

Gert van Wierdapark

Hopelik is die “assesering” wat gedoen is, se slaagpersentasie nie op 30% vasgepen nie! He-he-he!

Sarel

Paar jaar terug was jong Dr, nog besig met haar Hospitaaljaar , by Pelonomi verkrag en daar was belowe dat Sekuriteit verskerp sal word. Klink vir jy kom net na nog beloftes. Sy het sy tong afgebyt, hoop net vir haar part hy is nie HIV Positief nie.