Dokter in boeie ná sy glo vir metro wegjaag

Die dokter het glo teen 178km/h op die hoofweg gery. (Foto: EMPD)

ʼn Dokter in haar swart Mercedes wat glo Saterdagoggend vir die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) probeer wegjaag het, is in hegtenis geneem.

Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die EMPD, sê die 32-jarige vrou is omstreeks 06:45 op die N12 naby die Reading-wisselaar aangekeer nadat sy kort tevore glo teen 178 km/h op die pad met ʼn spoedbeperking van 120 km/h gejaag het.

Die EMPD se spoedwettoepassingseenheid het haar agternagesit en moes versterkings inroep nadat sy glo die bevel om stil te hou verontagsaam het.

Sy is net voor die Comaro-afrit eindelik voorgekeer.

“Die woedende vrou het haar Merc in die middel van die hoofweg gestop. Sy was reeds kwaad en het sonder toestemming van die beamptes met haar selfoon video’s geneem en hul regte geskend.

“Die mediese dokter, wat aangevoer het sy is laat vir werk, is geboei en na die Alberton-polisiestasie geneem.”

Die vrou staan tereg op ʼn aanklag van roekelose en nalatige bestuur en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Mokheseng sê lede van die publiek mag foto’s en video’s van metrobeamptes in die uitvoering van hul pligte neem, maar dat sekere prosedures gevolg moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Anton ·

Watter regte is geskend?
Waar kry mens ‘n afskrif van die prosedure?

Keelvol ·

Die vrou was verkeerd. Sy het geen reg gehad om die beamptes af te neem sonder Hulle toestemming nie.

Cherokee ·

Van wanneer af is straat-fotografie teen die wet? Toe, verduidelik dit.

Wielspore ·

Staan vroeër op om betyds by die werk te wees. Laat vir werk is geen reg om die spoedgrens te oorskry.

Cherokee ·

En as sy dalk enkele ure vroeër in teater gewees het? Dan is verslaap met goeie reg.

Tiptol ·

Tot sy ‘n ongeluk veroorsaak waar meer mense teater toe moet gaan of erger…

Jaco ·

Tel laat vir werk dan nog? Bestaan dit nog in dié land? My ervaring reeds 21 jaar gelede in die staatsdiens was dat 8uur net die oopmaaktyd is, maar om kwart oor 8 eers op te daag is heel aanvaarbaar. Totaal wegbly op ‘n Vrydag of ‘n Maandag, of sommer albei, was ook aanvaarbaar. Toe ek durf daaroor gekla het by die regstellende aksie aangestelde kantoorhoof, is ek uitgeskel en van rassisme beskuldig. Eks kort daarna weg uit die staatsdiens.

sterk soos n beer ·

geen regte is geskend nie. nee wat sluit haar maar toe en vat haar rybewys vir 5 jaar af

Eragrostis ·

Dis seker hoekom mens altyd later vir ń afspraak by ń dokter se spreekkamer inroep word al was jy betyds. :-)

Casper ·

So by my kool,nou verstaan ek hoekom kan jy nooit die dokter sien met jou afspraak nie want hulle is laat vir werk en dus agter skedule.Ja ek was vir 37 jaar in die staatsdiens en dit het my gegrief dat regstellende aksie laatkom toelaat toe volg ek die beleid van”if you can’t beat them join them”tot my aftrede en ek en my kollegas het lekker saamgewerk.

Petrus ·

Asseblief, ter wille van ons geheue-gestremdes, wat verlore is met plekname soos Ekurhuleni, gee maar wenke (soos Alberton) sodat daar vir ons ‘n lig opgaan.
Dankie
Pietie

jzjz05 ·

Sal ook graag meer teweette wil kom van die regte? Waar kan n mens n afskrif daarvan kry of is dit n staats geheim wat net n vore kom as dit hulle pas..

lodewyk ·

Nee wat kry vir jou,as jy oortree het moet jy die nagevolge dra,party mense dink omdat hulle status het kan hulle ry en maak soos hulle wil??

Tanniepetoors ·

Sy het ‘n spoedoortreding begaan maar nou is dit roekeloos en nalatige bestuur. Ek kies nie haar kant nie, maar hoe bring mens die kloutjie by die oor?

Kobus ·

Sy het 58 kmpu te vinnig gery. Vanaf 40 kmpu oorskreiding van die spoedbeperking mag motoriste in hegtenis geneem word. Dit klink na erge roekelose bestuur wanneer daar só gejaag word!

Nicolene ·

Niks so gevaarlik as ‘n arrogante jaagduiwel nie. En om in die middel van die pad te stop? Dis mos pure onnoselheid!

4ntj13 ·

Gmf! Is die regte vir privaatheid van ʼn polisiebeampte (in diens van die staat, dws die publiek) skielik groter as die van die publiek om van hul gedragsoortredings te mag weet?
Ek stry geensins dat hulle die spoedoortreder mag gestop het nie, maar soms is dokters nie te laat “vir werk” nie, maar dringend nodig om ʼn mens se lewe te red. Ek stel dus baie belang in die dokter se opname, nes elke persoon van die publiek in Suid-Afrika waarskynlik. Dat ons kan sien of metrobeamptes nie dalk hul privaatheid hoër ag as ʼn mens se lewe nie. En of die dokter dalk juis nie omgegee het om talle motoriste se lewens te bedreig nie. Maar, hoekom dan die video onderdruk?? —Ek ruik ʼn rot!

4ntj13 ·

Volgens The Citizen se artikel het sy wel beweer sy is op ʼn noodgeval, maar die EMPD-woordvoerder het beweer dokters moet dan rooi-en-wit stickers op hul voorruit hê (!) en rooi of oranje flitsligte gebruik (selfs teen 178 km/h!).
Hier mag dus ʼn arme pasiënt betrokke wees!! As ek die pasiënt se familie is, eis ek als onder EMPD se alies uit!
In die ou dae sou polisie so ʼn dokter na haar bestemming begelei het, en dán besluit het of die spoed GEREGVERDIGD was of nie…

Sê maar net ·

Spoedgrens te oortree is verkeerd ja…Maar húlle regte geskend? Hoe? Ha-ha-ha!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.