Dokter in hof wat glo Vergoedingsfonds bedrieg

dokter

Foto: DarkoStojanovic/Pixabay.com

Dr. David Michael Adams het Woensdag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag dat hy die Vergoedingsfonds van die departement van arbeid uit byna R400 000 bedrieg het.

Adams het skuld ontken in die Pretoriase landdroshof.

Mokgadi Pela, woordvoerder van die departement, het in ‘n verklaring gesê Adams staan tereg op 29 aanklagte van die oortreding van artikel 6 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad en 29 aanklagte van diefstal.

Adams is in 2011 in hegtenis geneem terwyl hy sy praktyk in Lehurutshe (Welbedacht), Noordwes, bedryf het. Hy is uit op borgtog.

Hy het in Maart 2014 vir die eerste keer in verband met die saak in die Pretoriase gespesialiseerdemisdaadhof verskyn, waar die saak in November 2015 na die Pretoriase landdroshof oorgeplaas is. Adams het Woensdag vir die eerste keer in die saak gepleit.

Adams se regsverteenwoordiger het, volgens Pela, ʼn brief aan die hof voorgehou waarin sy kliënt erken dat hy op 19 Januarie 2010 ʼn bedrag van R396 660 van die Vergoedingsfonds ontvang het. Adams voer in dié brief aan die bedrag is deur die Vergoedingsfonds verwerk en in sy rekening inbetaal.

Die saak hervat weer op 14 November.

Die Vergoedingsfonds, wat deur die departement van arbeid geadministreer word, staan werknemers finansieel by wat by hul werkplek beseer is of siek geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jean ·

Ek wonder so baie keer of dit vir hulle die moeite werd was. Dokters in SA sukkel nie met ‘n inkomste nie, hoekom moet hulle of mediese fondse of vergoedingsfondse altyd verneuk? Dis nie die eerste of laaste dokter wat dit doen nie. Hulle is goed gekwalifiseerd, van die bestes in die wêreld dan voel hulle hulle moet skelm wees om meer geld te maak. Is dit maar net gulsigheid? Hoe meer jy het hoe meer wil jy hê en hoe makliker raak dit om dit te bekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.